Formulier Vir Die Viering Van Die Heilige Nagmaal
Geliefdes in die Here Jesus Christus,
Instelling
Luister na die instellingswoorde van die heilige
nagmaal van ons Here Jesus Christus soos die apostel Paulus dit vir ons
beskrywe in die eerste Korintiërbrief (I Korintiërs 11:23-29):
Ek het van die Here ontvang wat ek ook aan julle
oorgelewer het, dat die Here Jesus in die nag waarin Hy verraai is,
brood geneem het; en nadat Hy gedank het, het Hy dit gebreek en gesê:
Neem, eet; dit is my liggaam wat vir julle gebreek word; doen dit tot my
gedagtenis. Net so ook die beker na die ete, met die woorde: Hierdie
beker is die nuwe testament in my bloed; doen dit, so dikwels as julle
daaruit drink, tot my gedagtenis. Want so dikwels as julle hierdie brood
eet en hierdie beker drink, verkondig julle die dood van die Here totdat
Hy kom. Wie dan op onwaardige wyse hierdie brood eet of die beker van
die Here drink, sal skuldig wees aan die liggaam en bloed van die Here.
Maar die mens moet homself beproef en so van die brood eet en uit die
beker drink. Want wie op onwaardige wyse eet en drink, eet en drink 'n
oordeel oor homself, terwyl hy die liggaam van die Here nie onderskei
nie.
Om tot ons troos die nagmaal van die Here te kan hou
is dit ten eerste nodig dat ons ons vooraf reg sal ondersoek en, ten
tweede, dat ons dit sal hou soos Christus beveel het, naamlik tot sy
gedagtenis.
Selfondersoek
Die ware selfondersoek bevat hierdie drie hoofpunte:
Ten eerste: Elkeen moet nadink oor sy sonde en
vervloeking, sodat hy homself kan mishaag en hom voor God kan
verootmoedig; want die toorn van God teen die sonde is so groot dat Hy
dit, eerder as om dit ongestraf te laat bly, aan sy geliefde Seun, Jesus
Christus, met die bittere en smadelike kruisdood gestraf het.
Ten tweede: Elkeen moet sy hart ondersoek of hy
die vaste belofte van God glo dat al sy sondes hom alleen op grond van
die lyding en dood van Jesus Christus vergewe is en dat die volkome
geregtigheid van Christus hom as sy eie toegereken en geskenk is, ja, so
volkome asof hy in eie persoon vir al sy sondes betaal en alle
geregtigheid volbring het.
Ten derde: Elkeen moet sy gewete ondersoek of hy
van voorneme is om van nou af met sy hele lewe ware dankbaarheid aan God
te betoon en opreg voor Hom te wandel; ook om eerlik alle vyandskap,
haat en nyd te laat vaar en voortaan in ware liefde en eensgesindheid
met sy naaste te lewe.
Almal wat so gesind is, wil God in genade aanneem en
as waardige tafelgenote van sy Seun, Jesus Christus, beskou. Maar die
wat, aan die ander kant, hierdie getuienis nie in hulle hart ondervind
nie, eet en drink 'n oordeel oor hulleself. Volgens die bevel van
Christus en van die apostel Paulus vermaan ons dan ook almal wat weet
dat hulle met die volgende aanstootlike Sondes besmet is, om nie die
nagmaal van die Here te gebruik nie, en ons verkondig aan hulle dat
hulle geen deel aan die ryk van Christus het nie: alle afgodsdienaars;
almal wat afgestorwe heiliges, engele of ander geskape dinge aanroep, en
die wat beelde vereer; alle towenaars en waarsêers wat diere of mense
of ander dinge besweer en die wat aan so 'n beswering glo; alle
veragters van God en sy Woord en die heilige sakramente; alle
Godslasteraars; almal wat skeuring en oproer in kerk en staat wil
veroorsaak; almal wat vals sweer(Levitikus 19:12) en wat hulle ouers en
owerhede ongehoorsaam is; alle moordenaars en twissoekers en die wat in
haat en nyd teen hulle naaste lewe; alle egbrekers, hoereerders,
dronkaards, diewe, onwettige winsmakers, rowers, dobbelaars, gierigaards
en almal wat aanstootlik lewe (I Korintiërs 5:11; Efesiërs 5:5;
Eksodus 20:12-17; Sagaria 8:17). Hulle almal moet, solank hulle in sulke
sondes volhard, hulle van die nagmaal onthou, wat Christus alleen vir sy
gelowiges ingestel het, sodat hulle oordeel en verdoemenis nie nog
swaarder word nie.
Maar, geliefde broeders en susters in die Here, die
bedoeling is nie om die verslae harte van die gelowiges kleinmoedig te
maak nie, asof slegs die wat sonder enige sonde is, na die nagmaal van
die Here mag kom. Ons kom tog nie na die nagmaal om daarmee te kenne te
gee dat ons in onsself volmaak en regverdig is nie; inteendeel, ons kom
juis omdat ons ons lewe buite onsself in Christus soek, en daarmee bely
ons dat ons deur ons misdade dood is. Dit is wel so dat ons nog baie
ellende en gebreke in onsself vind, byvoorbeeld dat ons nie 'n volmaakte
geloof het nie; dat ons God ook nie met so 'n ywer dien as wat ons
verskuldig is nie; dat ons daagliks moet stry teen die swakheid van ons
geloof en ons sondige drifte. Waar ons egter deur die genade van die
Heilige Gees oor sulke gebreke van harte berou het en opreg begeer om
volgens al die gebooie van God te lewe, mag ons daarvan heeltemal seker
wees dat geen sonde of swakheid wat teen ons wil in ons oorgebly het,
kan verhinder dat God ons in genade aanneem en hierdie hemelse voedsel
en drank waardig en deelagtig maak nie.
Gedagtenis
Laat ons nou verder oordink vir watter doel die Here
vir ons sy nagmaal ingestel het, naamlik dat ons dit tot sy gedagtenis
moet doen. Dit beteken dat ons Hom daarby soos volg moet gedenk:
Ons moet van harte glo dat Jesus Christus—volgens
die beloftes wat van die begin af aan die aartsvaders gegee is—deur
die Vader in hierdie wêreld gestuur is; dat Hy ons vlees en bloed
aangeneem het en die toorn van God, waaronder ons ewig moes versink het,
van die begin van sy menswording af tot aan die einde van sy lewe op
aarde vir ons gedra het; dat Hy in alle gehoorsaamheid aan die Goddelike
wet die geregtigheid vir ons volbring het, veral toe die las van ons
sonde en van die toorn van God Hom bloedsweet in Getsémané ontpers het
(Lukas 22:44); dat Hy Hom laat bind het om ons te ontbind en daarna
ontelbare smaadhede gely het, sodat ons nooit meer in skande sou geraak
nie; dat Hy onskuldig tot die dood veroordeel is, sodat ons voor die
gerig van God vrygespreek kan word; ja, dat Hy sy geseënde liggaam aan
die kruis laat spyker het om die skuldbrief van ons sonde (Kolossense
2:14) daaraan vas te heg; dat Hy so ons vervloeking op Hom gelaai het om
ons met sy seën te vervul; dat Hy Hom aan die kruishout, na liggaam en
siel, tot in die allerdiepste smaad en angs van die hel verneder het,
toe Hy hardop geroep het: My God, my God, waarom het U My verlaat? (Matteus
27:46; Markus 15:34)—sodat ons tot God geneem en nooit meer deur Hom
verlaat sou word nie; dat Hy aan die einde met sy dood en bloedstorting
die nuwe en ewige testament, die verbond van genade en versoening,
bevestig het toe Hy gesê het: Dit is volbring (Johannes 19:30).
Dat ons vas kan glo dat ons tot hierdie genadeverbond
behoort, het die Here Jesus toe Hy die nagmaal ingestel het, die brood
geneem, en nadat Hy gedank het, het Hy dit gebreek, aan sy dissipels
gegee en gesê: Neem, eet; dit is my liggaam wat vir julle gebreek word;
doen dit tot my gedagtenis. Net so het Hy na die ete die beker geneem,
en nadat Hy gedank het, het Hy dit aan hulle gegee en gesê: Drink almal
daaruit; hierdie beker is die nuwe testament in my bloed wat vir julle
en vir baie uitgestort word tot vergifnis van sondes. Doen dit, so
dikwels as julle daaruit drink, tot my gedagtenis. Dit wil sê, so
dikwels as wat julle van hierdie brood eet en uit hierdie beker drink,
sal julle daardeur, soos in die geval van 'n blywende aandenking en pand,
herinner en verseker word van hierdie hartlike liefde en trou van My
teenoor julle. Dit blyk daaruit dat Ek vir julle, wat anders die ewige
dood moes sterwe, my liggaam aan die kruishout in die dood gee en my
bloed stort en julle hongerige en dorstige harte met my gekruisigde
liggaam en uitgestorte bloed tot die ewige lewe voed en verkwik. Julle
word hiervan verseker deur die brood wat voor julle oë gebreek word,
die beker wat aan elkeen gegee word, en die feit dat julle dit tot my
gedagtenis met die mond eet en drink (I Korintiërs 11:23-25).
Uit hierdie instelling van die heilige nagmaal van
ons Here Jesus Christus sien ons dat Hy ons geloof en vertroue op sy
volmaakte offer rig, wat eenmaal aan die kruis volbring is, as die
enigste grondslag van ons saligheid. Daardeur het Hy die ware voedsel en
drank van die ewige lewe vir ons hongerige harte geword; want deur sy
dood het Hy die oorsaak van ons ewige honger en kommer, naamlik die
sonde, weggeneem. So het Hy vir ons die lewendmakende Gees verwerf,
sodat ons deur die Gees—wat in Christus as die Hoof en in ons as sy
lede woon—ware gemeenskap met Hom kan hê en aan al sy rykdom, die
ewige lewe, geregtigheid en heerlikheid deel kan kry.
Verder word ons ook deur dieselfde Gees onderling as
lede van een liggaam in ware broederlike liefde saamgebind, soos die
apostel sê: Omdat dit een brood is, is ons almal een liggaam, want ons
het almal deel aan die een brood (I Korintiërs 10:17). Net soos uit
baie graankorrels een meel gemaal en een brood gebak word en uit baie
druiwekorrels, as hulle gepars word, een wyn vloei, so moet ons almal
wat deur die geloof in Christus ingelyf is, een liggaam wees. Ter wille
van ons geliefde Saligmaker, wat ons eerste so uitnemend liefgehad het,
moet ons broederlike liefde nie alleen met woorde nie maar ook met die
daad teenoor mekaar bewys. Mag die almagtige, barmhartige God en Vader
van ons Here Jesus Christus deur sy Heilige Gees ons daartoe help. Amen.
Laat ons nou, om dit alles te verkry, ons voor God
verootmoedig en Hom met waaragtige geloof om sy genade aanroep:
Gebed
Barmhartige God en Vader,
In hierdie nagmaal herdenk ons die heerlike
gebeurtenis van die bittere dood van u geliefde Seun, Jesus Christus.
Ons bid U dat U deur u Heilige Gees 'n opregte vertroue in ons harte sal
bewerk om ons al meer aan u Seun oor te gee, sodat ons belaste en
verslae harte met sy liggaam en bloed, ja, met Hom, waaragtige God en
mens, die enige hemelse brood, deur die krag van die Heilige Gees gevoed
en verkwik word en ons nie meer in ons sondes lewe nie maar Hy in ons en
ons in Hom. Laat ons so waarlik deel hê aan die nuwe en ewige testament
en verbond van genade, sonder om te twyfel dat U ewig ons genadige Vader
is wat ons ons sondes nooit toereken nie en ons as u geliefde kinders en
erfgename na liggaam en siel met alle dinge versorg. Verleen ons ook u
genade om getroos ons kruis op te neem, onsself te verloën, ons Heiland
te bely en onder alle droefheid met verlange ons Here Jesus Christus uit
die hemel te verwag, waar Hy ons sterflike liggame aan sy verheerlikte
liggaam gelyk sal maak en ons tot in ewigheid by Hom sal neem. Verhoor
ons, o almagtige God en barmhartige Vader, deur Jesus, wat ons geleer
het om so te bid:
Ons Vader wat
in die hemele is,
laat u Naam
geheilig word; laat u koninkryk kom;
laat u wil
geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde;
gee ons
vandag ons daag1ikse brood;
en vergeef
ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe;
en lei ons
nie in versoeking nie maar verlos ons van die Bose.
Want aan U
behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid (Matteus
6:9-13). Amen.
Daarna se die bedienaar van die Woord:
Hartverheffing
Om dan nou met die ware hemelse brood, Christus,
gevoed te word moet ons nie met ons harte aan die sigbare tekens van
brood en wyn verkleef bly nie maar ons harte ophef na die hemel, waar
Jesus Christus ons Voorspraak aan die regterhand van sy hemelse Vader
is, soos ons ook in die Artikels van ons Christelike geloof bely. Laat
ons ook nie daaraan twyfel nie dat ons lewe net so werklik deur die
werking van die Heilige Gees met sy liggaam en bloed gevoed en verkwik
word as wat ons die brood en drank tot sy gedagtenis ontvang.
Formule
As die brood gebreek en uitgedeel word, sê die
bedienaar:
Die brood wat ons breek, is die gemeenskap met die
liggaam van Christus. Neem, eet; gedenk en glo dat die liggaam van ons
Here Jesus Christus gebreek is tot 'n volkome versoening van al ons
sondes.
En as hy die beker aangee:
Die beker van danksegging wat ons met danksegging
seën, is die gemeenskap met die bloed van Christus. Neem, drink almal
daaruit; gedenk en glo dat die kosbare bloed van ons Here Jesus Christus
vergiet is tot 'n volkome versoening van al ons sondes.
Na die bediening sê die bedienaar:
Lofverheffing
Geliefdes in die Here, aangesien die Here ons siele
nou aan sy tafel gevoed het, laat ons almal saam sy Naam met
dankbaarheid prys en in ons hart soos volg sê:
Loof die HERE, o my siel, en alles wat binne-in my
is, sy heilige Naam! Loof die HERE, o my siel, en vergeet geeneen van sy
weldade nie! Wat al jou ongeregtigheid vergewe, wat al jou krankhede
genees, wat jou lewe verlos van die verderf, wat jou kroon met
goedertierenheid en barmhartighede. Barmhartig en genadig is die HERE,
lankmoedig en groot van goedertierenheid. Hy sal nie vir altyd twis en
nie vir ewig die toorn behou nie. Hy handel met ons nie na ons sondes en
vergeld ons nie na ons ongeregtighede nie. Want so hoog as die hemel is
bo die aarde, so geweldig is sy goedertierenheid oor die wat Hom vrees.
So ver as die ooste verwyderd is van die weste, so ver verwyder Hy ons
oortredinge van ons. Soos 'n vader hom ontferm oor die kinders, so
ontferm die HERE Hom oor die wat Hom vrees (Psalm 103:1-4, 8-13).
Hy het selfs sy eie Seun nie gespaar nie maar Hom vir
ons almal oorgegee en ons alles genadiglik met Hom geskenk (Romeine
8:32). Aangesien God reeds sy liefde vir ons daarin bewys het dat
Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was, soveel te meer
sal ons deur Hom van sy toorn gered word nou dat ons in sy bloed
geregverdig is. As ons, terwyl ons nog vyande was, met God versoen is
deur die dood van sy Seun, hoeveel te meer sal ons deur sy lewe gered
word nou dat ons met Hom versoen is (Romeine 5:8-10). Daarom sal my mond
en hart die lof van die Here verkondig van nou af tot in ewigheid. Amen.
Gebed
Almagtige, barmhartige God en Vader, Ons dank U met
ons hele hart dat U uit grondelose barmhartigheid u eniggebore Seun aan
ons as 'n Middelaar en offer vir ons sondes en as 'n spys en drank van
die ewige lewe geskenk het. Ons dank U ook dat U ons 'n opregte geloof
gee, waardeur ons hierdie weldade deelagtig word, en dat U ook tot
versterking van die geloof vir ons die nagmaal laat instel en verorden
het. Ons bid U, getroue God en Vader, dat U deur die werking van u
Heilige Gees die gedagtenis van ons Here Jesus Christus en die
verkondiging van sy dood bevorderlik wil laat wees vir ons daaglikse
vooruitgang in die regte geloof en in die salige gemeenskap.
Dit bid ons deur Hom, u geliefde Seun, Jesus Christus.
Amen.
Vir meer
bronne in Afrikaans, klik hier.