Die Armeniaanse Dwaalleer van 'n Universele
Versoening
Rev. Angus Stewart
Die Armeniaanse dwaling van 'n universele versoening
word vandag deur baie mense geleer en geglo. Die Sinode van Dordt
(1618-19), die mees internasionale vergadering van Gereformeerde
Protestante, verklaar dat Christus die uitverkorenes "en hulle
alleen" (Dordtse Leerreëls II:8) verlos en dat hulle wat
leer dat Hy vir almal gesterf het "die dood van Christus [minag]"
en "weer die dwaling van Pelagius uit die hel terug[roep]"
(II:VD:3). Die Westminster Confession of Faith (1647) verklaar
hieroor: "Nog is enigiemand anders deur Christus verlos as net die
uitverkorenes" (3:6). Hierdie artikel is ook in die
Kongregasionalistiese Savoy Declaration (1658) en die Baptist
Confession (1689) opgeneem.
Universele versoening beteken dat Christus sou
gesterf het vir Esau, vir wie God gehaat het (Rom. 9:13); vir Judas,
"die seun van die verderf" (Joh. 17:12); vir die Antichris,
"die mens van sonde" (II Thes. 2:3) en die groot hoer, die
valse kerk (Openb. 17:1-2); hulle wat die onvergeeflike sonde begaan
(Matt. 12:32) en hulle wat nooit die Woord gehoor het nie (Ps.
147:19-20) of wat reeds in die hel is. Is dit in ooreenstemming met die
oneindige mag, wysheid en heiligheid van God?
Universele versoening beteken dat Christus net maar saligheid
moontlik maak, en sodoende ontken dit dat sy dood waarlik
verlos. Die Bybel leer egter Christus het sy volk "bevry"
(Heb. 2:15), "versoen" (Rom. 5:10), "losgekoop"
(Gal. 3:13) en "geregverdig ... in sy bloed" (Rom. 5:9). As
Christus die prys vir almal, kop vir kop, betaal het en sommige vergaan
in die hel, dan red sy versoening nie almal—of selfs die meeste—vir
wie Hy dit gedoen het nie. Hoe kan Christus in sy versoening "versadig"
wees (Jes. 53:11) as miljoene vergaan vir wie Hy sy bloed gestort het?
Dan is Christus se dood ook nie plaasvervangend nie, want as Hy
die straf vir die verworpenes dra, waarom word hulle veroordeel? As
sommige vir wie Christus gesterf het na die hel gaan, straf God hulle
sonde twee keer, een maal in Christus en ʼn
tweede keer in hulleself. Is dit in ooreenstemming met die oneindige
geregtigheid en regverdigheid van God? Hoe kan sommiges wat Christus
versoen het en vir wie daar geen veroordeling is nie (Rom. 8:34) vir
ewig in die hel wees?
John Wesley, ʼn
advokaat vir universele versoening, sę inderdaad dat, as die woorde van
God waar is, iemand wat deur die bloed van Christus gekoop en geheilig
is nietemin hel toe kan gaan; in daardie vuurgloed kan kom wat vir ewig
die teenstanders sal verteer (Sien The Works of John Wesley
[Grand Rapids: Baker, 1996], vol. 10, p. 297).
Die Skrif leer dat Christus gesterf het vir "sy
volk" (Matt. 1:21) en sy "vriende" (Joh. 15:13). Hy het
sy "nakroos" verlos (Jes. 53:10) en nie die saad van die slang
nie (Gen. 3:15); sy "kinders" en "broers" (Heb.
2:10-14) en nie "onegte kinders" (Heb. 12:18) nie; sy skape (Joh.
10:11) en nie die bokke (Matt. 25:33) nie; sy kerk (Ef. 5:25) en nie die
sinagoge van die Satan (Openb. 3:4) nie; die "baie" (Matt.
26:28) en nie almal, kop vir kop nie.
Baie mense maak die grondliggende fout om by Joh.
1:29; 3:16 en I Joh. 2:2 die woord "węreld" (Grieks: "kosmos")
op te neem as synde "almal, kop vir kop." Charles Spurgeon het
opgemerk dat die woord "węreld" nęrens in die Bybel hierdie
betekenis het nie. Ek daag enigiemand uit om een vers in die Bybel te
vind waar "węreld" "almal, kop vir kop" beteken en
te bewys dat dit daardie betekenis het in ʼn
teks wat die omvang van Christus se versoening leer. Kosmos kan
beteken die heelal (Hand. 17:24) of die Romeinse węreld (Kol. 1:6) of
die bose węreldse magte (Joh. 12:31) of die verworpenes (Joh. 17:9) of
die uitverkorenes (Joh. 4:42; 6:33; II Kor. 5:19) ens. Die konteks is
deurslaggewend by die uitleg van die Woord in ooreenstemming met die
groot Reformatoriese beginsel: die Skrif interpreteer die Skrif.
Net ure voor die kruis en met die oog op sy soendood
sę Christus, "Ek bid nie vir die węreld nie, maar vir die wat U
my gegee het" (Joh. 17:9). As Jesus nie die mindere ding (bid vir
die verworpe węreld) gedoen het nie, hoe kon Hy die meerdere (sterf vir
die verworpe węreld) doen? As Christus nie vir die goddelose węreld
gebid het nie (een aspek van sy priesterlike werk), is dit moontlik dat
hy gesterf het vir die goddelose węreld (die ander aspek van sy
priesterlike werk)? Hierbenewens bid Christus op grond van sy
verlossingswerk. Daarom, as Christus nie vir die verworpe węreld gebid
het nie, is dit omdat Hy nie die verlossing vir hulle bewerk het nie.
Christus se gebede en versoening is nie net partikulier nie—"vir
die wat U my gegee het"—maar ook eksklusief, "nie vir die
węreld nie."
(Vertaal deur
Nic Grobler. nicg@absamail.co.za
Die Afrikaanse vertaling van
die Bybel wat gebruik is, is dié van 1933/1953)
Vir meer
bronne in Afrikaans, klik hier.