Covenant Protestant Reformed Church
Bookmark and Share

Formulier Vir Die Bediening Van Die Heilige Doop

 

Die hoofsaak van die leer van die heilige doop in hierdie drie punte saamgevat:

Sonde

Ten eerste: Ons en ons kinders is in sonde ontvang en gebore en is daarom onder die toorn van God, sodat ons nie in die ryk van God kan inkom nie (Romeine 3:9, 19; Romeine 5:12-21), tensy ons opnuut gebore word (Johannes 3:3). Dit word aan ons geleer deur die indompeling in en besprinkeling met die water, waardeur die onreinheid van ons siele vir ons aangewys word, sodat ons vermaan word om 'n afkeer van onsself te he, ons voor God te verootmoedig en ons reiniging en saligheid buite onsself te soek.

Verlossing

Ten tweede: Die heilige doop betuig en verseël aan ons die afwassing van die sondes deur Jesus Christus (I Korintiërs 6:11). Daarom word ons gedoop in die Naam van God: die Vader en die Seun en die Heilige Gees (Matteus 28:19). Want as ons in die Naam van die Vader gedoop word, betuig en verseel die Vader aan ons dat Hy 'n ewige genadeverbond met ons oprig (Genesis 17:7; Galasiërs 4:6-7), ons tot sy kinders en erfgename aanneem en ons daarom met alle goeie dinge wil versorg en alle kwaad van ons wil afweer of tot ons beswil beskik.

En as ons in die Naam van die Seun gedoop word, verseël die Seun aan ons dat Hy ons in sy bloed so van al ons sondes was - waarmee Hy ons in sy dood en opstanding inlyf - dat ons van ons sondes bevry en voor God regverdig gereken word (I Korintiërs 1:30).

Net so ook as ons in die Naam van die Heilige Gees gedoop word, verseker die Heilige Gees ons deur hierdie heilige sakrament dat Hy in ons wil woon en ons tot lidmate van Christus wil heilig (I Korintiërs 12:13) deur tot ons eiendom te maak wat ons in Christus het, naamlik die afwassing van ons sondes en die daaglikse vernuwing van ons lewe, totdat ons eindelik onder die gemeente van die uitverkorenes in die ewige lewe vlekkeloos gestel sal word (Romeine 8:9, 15-16).

Dankbaarheid

Ten derde: Omdat alle verbonde uit twee dele bestaan, daarom word ons ook weer deur die doop vermaan en verplig tot 'n nuwe gehoorsaamheid (Romeine 12:1-2). Ons moet naamlik hierdie enige God, Vader, Seun en Heilige Gees, aanhang, vertrou en liefhe met ons hele hart, met ons hele siel, met ons hele verstand en met al ons kragte (Matteus 22:37-40); ons moet van die wêreld afsien, ons ou natuur doodmaak en 'n godvrugtige lewe lei. En as ons soms uit swakheid in sondes val, moet ons nie aan die genade van God twyfel (Romeine 4:20-21) of in die sondes bly lê nie: die doop is immers 'n seël en ontwyfelbare getuienis dat ons 'n ewige verbond met God het (Psalm 105:8).

 

I. Die kinderdoop

En hoewel ons kinders hierdie dinge nie verstaan nie, mag hulle nogtans nie daarom van die doop uitgesluit word nie, aangesien hulle sonder dat hulle dit weet, aan die verdoemenis in Adam deel het en ook, sonder dat hulle dit weet weer in Christus tot genade aangeneem word. So spreek God ook tot Abraham, die vader van al die gelowiges, en daarom ook tot ons en ons kinders en sê: Ek sal my verbond oprig tussen My en jou en jou nageslag na jou in hulle geslagte as 'n ewige verbond, om vir jou 'n God te wees en vir jou nageslag na jou (Genesis 17:7). Dit betuig Petrus ook met woorde: Want die belogte kom julle toe en julle kinders en almal wat daar ver is, die wat die Here ons God na Hom sal roep (Handelinge 2:39). Daarom het God vroeër beveel dat hulle besny moet word, wat 'n seël van die verbond en van die geregtigheid van die geloofwas; so het Christus hulle ook omhels, die hande opgelê en geseën (Markus 10:16).

Omdat die doop nou in die plek van die besnydenis gekom het, daarom moet die kinders as erfgename van die ryk van God en van sy verbond gedoop word (Kolossense 2:11-12). En die ouers is verplig om hulle kinders terwyl hulle opgroei, hieromtrent breedvoeriger te onderrig (Psalm 78:3-4; Efesiërs 6:4).

Om hierdie heilige instelling van God tot sy eer, tot ons troos en tot opbouing van die gemeente uit te voer, laat ons daarom sy heilige Naam aanroep:

Gebed

O, almagtige, ewige God,

U het volgens u streng oordeel die ongelowige en onboetvaardige wêreld met die sondvloed gestraf en die gelowige Noag met sy gesin—agt mense—deur u groot barmhartigheid gered en bewaar; U het die verharde Farao met al sy manne in die Rooisee verdrink en u volk Israel op droë grond daardeur gelei - waardeur die doop afgebeeld is (I Petrus 3:20-21).

Ons bid U, kragtens u grondelose barmhartigheid, dat u hierdie kind (kinders) van U genadiglik wil aansien en deur u Heilige Gees in u Seun Jesus Christus wil inlyf, sodat hy (sy/hulle) met Hom in sy dood begrawe mag word en met Hom in 'n nuwe lewe mag opstaan (Romeine 6:4ev.).

Laat hy (sy/hulle), terwyl hy (sy/hulle) Hom daagliks navolg, sy (haar/hulle) kruis blymoedig dra (Matteus 16:24) en Hom aanhang met opregte geloof, vaste hoop en vurige liefde (I Johannes 4:18), sodat hy (sy/hulle) hierdie lewe, wat tog niks anders as 'n voortdurende sterwe is nie, deur U getroos, mag verlaat en op die laate dag sonder verskrikking voor die regterstoel van Christus, u Seun, mag verskyn.

Dit bid ons deur Hom, ons Here Jesus Christus, u Seun, wat, saam met U en die Heilige Gees een enige God, leef en regeer in ewigheid. Amen.

Vrae

Die doopouers moet nou op die volgende vrae antwoord:

Geliefdes in die Here Christus, U het gehoor dat die doop 'n instelling van God is om aan ons en ons kinders sy verbond te verseël. Daarom moet ons dit vir hierdie doel en nie uit gewoonte of bygelowigheid gebruik nie. Dat dit openbaar kan word dat dit u gesindheid is, moet u van u kant op hierdie vrae opreg antwoord:

Ten eerste: Hoewel ons kinders in sondes ontvang en gebore en daarom aan allerhande ellende, ja, aan die verdoemenis self, onderworpe is, bely u nogtans dat hulle in Christus geheilig is en daarom as lidmate van sy gemeente behoort gedoop te wees?

Ten tweede: Bely u dat die leer wat in die Ou en Nuwe Testament en in die Artikels van die Christelike geloof vervat is en in die Christelike kerk hier geleer word, die ware en volkome leer van die saligheid is?

Ten derde: Belowe u en neem u u voor om hierdie kind (kinders), van wie u die vader en/of moeder is, wanneer hy (sy/hulle) dit kan verstaan, in die genoemde leer na u vermoe te onderrig en te laat onderrig?

Antwoord: Ja

Doop

Daarna sê die dienaar as hy die doop bedien, die volgende:

N, ek doop u/jou in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees.

Dankgebed

Almagtige, barmhartige God en Vader,

Ons dank en loof U dat U ons en ons kinders, deur die bloed van u geliefde Seun Jesus Christus, al ons sondes vergewe en ons deur u Heilige Gees tot lidmate van u eniggebore Seun en daardeur tot u kinders aangeneem het en dit aan ons met die heilige doop beseël en bekragtig. Ons bid U ook deur Hom, u geliefde Seun, dat U hierdie kind (kinders) altyd met u Heilige Gees wil regeer, sodat hy (sy/hulle) Christelik en godvrugtig opgevoed mag word en in die Here Jesus Christus mag groei en toeneem (Efesiërs 4:16-17), sodat hy (sy/hulle) u vaderlike goedheid en barmhartigheid, wat u aan hom (haar/hulle) en ons almal bewys het, kan bely en in alle geregtigheid onder ons enigste Leraar, Koning en Hoëpriester, Jesus Christus, kan lewe en moedig teen die sonde, die duiwel en sy hele ryk kan stry en oorwin (Efesiërs 6:10-13), om U en u Seun Jesus Christus, en ook die Heilige Gees, die enigste ware God, ewig te loof en te prys. Amen.

NEW

[As diegene wat in hulle jeug (deur nalatigheid of deur dwaling van hulle ouers) nie gedoop is nie, tot hulle jare van begrip gekom het en begeer om die Christelike doop te ontvang, moet hulle eers goed in die grondslae van die Christelike godsdiens onderrig word. En as hulle daarvan (voor die kerkraad of voor verteenwoordigers van die kerkraad of openlik - al na gelang dit in elke kerk die opbouendste geag word) 'n goeie belydenis gedoen het, moet hulle tot die heilige doop toegelaat word, en by die bediening daarvan moet hierdie formulier gebruik word.]

 

II. Volwassenes

En hoewel die kinders van die Christene—al verstaan hulle hierdie dinge nie—uit krag van die verbond gedoop moet word, is dit nogtans nie geoorloof om die volwassenes te doop nie tensy hulle eers, onder die besef van hulle sondes, van hulle boetvaardigheid en van hulle geloof in Christus belydenis doen. Want om hierdie rede het nie alleen Johannes die Doper, onder die verkondiging van die doop van bekering tot vergifnis van sondes volgens die gebod van God, die wat hulle sondes bely het, gedoop nie (Markus 1:4-5; Lukas 3:3 ), maar het ook ons Here Jesus Christus sy apostels beveel om al die nasies te onderrig en hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees te doop (Matteus 28:19), terwyl Hy hierdie belofte daarby voeg dat wie geglo het en gedoop is, gered sal word (Markus 16:16). So het ook die apostels (soos blyk uit die Handelinge van die apostels) volgens hierdie reël nie ander volwassenes gedoop nie as net die wat van hulle boetvaardigheid en geloof belydenis gedoen het (Handelinge 2:38; 8:36-37; 10:47-48; 16:14-15, 31-33). Daarom is dit ook vandag nie geoorloofom enige ander volwassenes te doop nie as die wat die verborgenhede van die heilige doop uit die prediking van die heilige evangelie geleer het en dit verstaan en daarvan sowel as van hulle geloof deur mondelinge belydenis rekenskap kan gee.

Om hierdie instelling van God tot sy eer, tot ons troos en tot opbouing van die gemeente uit te voer, laat ons daarom sy heilige Naam aanroep:

Gebed

O almagtige, ewige God,

U het volgens u streng oordeel die ongelowige en onboetvaardige wêreld met die sondvloed gestraf en die gelowige Noag met sy gesin—agt mense—deur u groot barmhartigheid gered en bewaar. U het die verharde Farao met al sy manne in die Rooisee verdrink en u volk Israel op droë grond daardeur gelei - waardeur die doop afgebeeld is (I Petrus 3:20-21).

Ons bid U, kragtens u grondelose barmhartigheid dat u hierdie broeder(s)/suster(s) genadiglik wil aansien en deur u Heilige Gees in u Seun Jesus Christus wil inlyf, sodat hy (sy/hulle) met Hom in sy dood begrawe mag word en met Hom in 'n nuwe lewe mag opstaan (Romeine 6:4ev.). Laat hy (sy/hulle), terwyl hy (sy/hulle) Hom daagliks navolg, sy (haar/hulle) kruis blymoedig dra (Matteus 16:24) en Hom aanhang met opregte geloof, vaste hoop en vurige liefde (I Johannes 4:18), sodat hy (sy/hulle) hierdie lewe, wat tog niks anders as 'n voortdurende sterwe is nie, deur U getroos, mag verlaat en op die laaste dag sonder verskrikking voor die regterstoel van Christus, u Seun, mag verskyn. Dit bid ons deur Hom, ons Here Jesus Christus, u Seun, wat, saam met U en die Heilige Gees een enige God, leef en regeer in ewigheid. Amen.

Die bedienaar spreek die volwassene wat gedoop sal word, soos volg aan:

Vrae

U, N, begeer ook om met die heilige doop gedoop te word, sodat dit vir u 'n seël van u inlywing in die kerk van God kan wees. Dat dit kan blyk dat u nie alleen die Christelike geloof aanvaar waarin u afsonderlik deur ons onderrig is en waarvan u voor ons belydenis gedoen het nie, maar dat u ook, deur die genade van God, u lewe daarvolgens wil inrig moet u voor God en sy gemeente opreg hierop antwoord:

Ten eerste: Glo u in die enige ware God, onderskei in drie Persone: Vader, Seun en Heilige Gees, wat hemel en aarde en alles wat daarin is, uit niks geskep het en nog so onderhou en regeer dat niks in die hemel of op die aarde sonder sy Goddelike wil gebeur nie?

Antwoord: Ja.

Ten tweede: Glo u dat u in sonde ontvang en gebore is en daarom onder die toorn van God is; dat u van nature heeltemal onbekwaam tot enige goed is en tot alle kwaad geneig is; dat u met gedagtes, woorde en dade die gebooie van die Here baiekeer oortree het, en het u oor hierdie sondes van u van harte berou?

Antwoord: Ja.

Ten derde: Glo u dat Jesus Christus, wat terselfdertyd ware en ewige God is en ware mens, wat sy menslike natuur uit die vlees en bloed van die maagd Maria aangeneem het, vir u deur God tot 'n Saligmaker geskenk is; dat u deur hierdie geloof vergewing van die sondes in sy bloed ontvang en dat u deur die krag van die Heilige Gees 'n lidmaat van Christus en van sy kerk geword het?

Antwoord: Ja.

Ten vierde: Stem u in met al die Artikels van die Christelike geloof soos dit hier in die Christelike kerk uit die Woord van God geleer word, en is u van voorneme om tot die einde van u lewe in hierdie leer te volhard; sien u af van alle ketterye en dwalinge wat met hierdie leer bots, en belowe u dat u in die gemeenskap van hierdie Christelike kerk sal volhard, nie alleen in die aanhoor van die Goddelike Woord nie maar ook in die gebruik van die heilige nagmaal?

Antwoord: Ja.

Ten vyfde: Het u u van harte voorgeneem om altyd Christelik te lewe en van die wêreld en sy sondige begeerlikhede af te sien soos dit lidmate van Christus en sy gemeente betaam, en sal u u gewillig aan alle Christelike vermanings onderwerp?

Antwoord: Ja.

Mag die goeie en grote God uit sy goedheid deur ons Here Jesus Christus aan u in hierdie heilige voorneme sy Goddelike genade en seën verleen. Amen.

Doop

Daarna sê die bedienaar by die doop

N, ek doop u in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees.

Dankgebed

Almagtige, barmhartige God en Vader,

Ons dank en loof U dat U ons en ons kinders, deur die bloed van u geliefde Seun Jesus Christus, al ons sondes vergewe en ons deur u Heilige Gees tot lidmate van u eniggebore Seun en daardeur tot u kinders aangeneem het en dit aan ons met die heilige doop beseël en bekragtig. Ons bid U ook deur Hom, u geliefde Seun, dat U hierdie broeder (suster) altyd met u Heilige Gees wil regeer, sodat hy (sy) Christelik en godvrugtig lewe en in die Here Jesus Christus groei en toeneem (Efesiërs 4:16-17), sodat hy (sy) u vaderlike goedheid en barmhartigheid, wat U aan hom (haar) en ons almal bewys het, kan bely en in alle geregtigheid onder ons enigste Leraar, Koning en Hoëpriester, Jesus Christus, kan lewe en moedig teen die sonde, die duiwel en sy hele ryk kan stry (Efesiërs 6:10-13) en oorwin, om U en u Seun Jesus Christus en ook die Heilige Gees, die enigste ware God, ewig te loof en te prys. Amen.

Vir meer bronne in Afrikaans, klik hier.