Formulier Vir Die Bediening Van Die Heilige Doop
Die hoofsaak van die leer van die heilige doop in
hierdie drie punte saamgevat:
Sonde
Ten eerste: Ons en ons kinders is in sonde
ontvang en gebore en is daarom onder die toorn van God, sodat ons nie in
die ryk van God kan inkom nie (Romeine 3:9, 19; Romeine 5:12-21), tensy
ons opnuut gebore word (Johannes 3:3). Dit word aan ons geleer deur die
indompeling in en besprinkeling met die water, waardeur die onreinheid
van ons siele vir ons aangewys word, sodat ons vermaan word om 'n afkeer
van onsself te he, ons voor God te verootmoedig en ons reiniging en
saligheid buite onsself te soek.
Verlossing
Ten tweede: Die heilige doop betuig en verseël
aan ons die afwassing van die sondes deur Jesus Christus (I Korintiërs
6:11). Daarom word ons gedoop in die Naam van God: die Vader en die Seun
en die Heilige Gees (Matteus 28:19). Want as ons in die Naam van die
Vader gedoop word, betuig en verseel die Vader aan ons dat Hy 'n ewige
genadeverbond met ons oprig (Genesis 17:7; Galasiërs 4:6-7), ons tot sy
kinders en erfgename aanneem en ons daarom met alle goeie dinge wil
versorg en alle kwaad van ons wil afweer of tot ons beswil beskik.
En as ons in die Naam van die Seun gedoop word,
verseël die Seun aan ons dat Hy ons in sy bloed so van al ons sondes
was - waarmee Hy ons in sy dood en opstanding inlyf - dat ons van ons
sondes bevry en voor God regverdig gereken word (I Korintiërs 1:30).
Net so ook as ons in die Naam van die Heilige Gees
gedoop word, verseker die Heilige Gees ons deur hierdie heilige
sakrament dat Hy in ons wil woon en ons tot lidmate van Christus wil
heilig (I Korintiërs 12:13) deur tot ons eiendom te maak wat ons in
Christus het, naamlik die afwassing van ons sondes en die daaglikse
vernuwing van ons lewe, totdat ons eindelik onder die gemeente van die
uitverkorenes in die ewige lewe vlekkeloos gestel sal word (Romeine 8:9,
15-16).
Dankbaarheid
Ten derde: Omdat alle verbonde uit twee dele
bestaan, daarom word ons ook weer deur die doop vermaan en verplig tot 'n
nuwe gehoorsaamheid (Romeine 12:1-2). Ons moet naamlik hierdie enige
God, Vader, Seun en Heilige Gees, aanhang, vertrou en liefhe met ons
hele hart, met ons hele siel, met ons hele verstand en met al ons kragte
(Matteus 22:37-40); ons moet van die wêreld afsien, ons ou natuur
doodmaak en 'n godvrugtige lewe lei. En as ons soms uit swakheid in
sondes val, moet ons nie aan die genade van God twyfel (Romeine 4:20-21)
of in die sondes bly lê nie: die doop is immers 'n seël en
ontwyfelbare getuienis dat ons 'n ewige verbond met God het (Psalm
105:8).
I. Die kinderdoop
En hoewel ons kinders hierdie dinge nie verstaan nie,
mag hulle nogtans nie daarom van die doop uitgesluit word nie, aangesien
hulle sonder dat hulle dit weet, aan die verdoemenis in Adam deel het en
ook, sonder dat hulle dit weet weer in Christus tot genade aangeneem
word. So spreek God ook tot Abraham, die vader van al die gelowiges, en
daarom ook tot ons en ons kinders en sê: Ek sal my verbond oprig tussen
My en jou en jou nageslag na jou in hulle geslagte as 'n ewige verbond,
om vir jou 'n God te wees en vir jou nageslag na jou (Genesis 17:7). Dit
betuig Petrus ook met woorde: Want die belogte kom julle toe en julle
kinders en almal wat daar ver is, die wat die Here ons God na Hom sal
roep (Handelinge 2:39). Daarom het God vroeër beveel dat hulle besny
moet word, wat 'n seël van die verbond en van die geregtigheid van die
geloofwas; so het Christus hulle ook omhels, die hande opgelê en
geseën (Markus 10:16).
Omdat die doop nou in die plek van die besnydenis
gekom het, daarom moet die kinders as erfgename van die ryk van God en
van sy verbond gedoop word (Kolossense 2:11-12). En die ouers is verplig
om hulle kinders terwyl hulle opgroei, hieromtrent breedvoeriger te
onderrig (Psalm 78:3-4; Efesiërs 6:4).
Om hierdie heilige instelling van God tot sy eer, tot
ons troos en tot opbouing van die gemeente uit te voer, laat ons daarom
sy heilige Naam aanroep:
Gebed
O, almagtige, ewige God,
U het volgens u streng oordeel die ongelowige en
onboetvaardige wêreld met die sondvloed gestraf en die gelowige Noag
met sy gesin—agt mense—deur u groot barmhartigheid gered en bewaar;
U het die verharde Farao met al sy manne in die Rooisee verdrink en u
volk Israel op droë grond daardeur gelei - waardeur die doop afgebeeld
is (I Petrus 3:20-21).
Ons bid U, kragtens u grondelose barmhartigheid, dat
u hierdie kind (kinders) van U genadiglik wil aansien en deur u Heilige
Gees in u Seun Jesus Christus wil inlyf, sodat hy (sy/hulle) met Hom in
sy dood begrawe mag word en met Hom in 'n nuwe lewe mag opstaan (Romeine
6:4ev.).
Laat hy (sy/hulle), terwyl hy (sy/hulle) Hom daagliks
navolg, sy (haar/hulle) kruis blymoedig dra (Matteus 16:24) en Hom
aanhang met opregte geloof, vaste hoop en vurige liefde (I Johannes
4:18), sodat hy (sy/hulle) hierdie lewe, wat tog niks anders as 'n
voortdurende sterwe is nie, deur U getroos, mag verlaat en op die laate
dag sonder verskrikking voor die regterstoel van Christus, u Seun, mag
verskyn.
Dit bid ons deur Hom, ons Here Jesus Christus, u Seun,
wat, saam met U en die Heilige Gees een enige God, leef en regeer in
ewigheid. Amen.
Vrae
Die doopouers moet nou op die volgende vrae antwoord:
Geliefdes in die Here Christus, U het gehoor dat die
doop 'n instelling van God is om aan ons en ons kinders sy verbond te
verseël. Daarom moet ons dit vir hierdie doel en nie uit gewoonte of
bygelowigheid gebruik nie. Dat dit openbaar kan word dat dit u
gesindheid is, moet u van u kant op hierdie vrae opreg antwoord:
Ten eerste: Hoewel ons kinders in sondes ontvang
en gebore en daarom aan allerhande ellende, ja, aan die verdoemenis
self, onderworpe is, bely u nogtans dat hulle in Christus geheilig is en
daarom as lidmate van sy gemeente behoort gedoop te wees?
Ten tweede: Bely u dat die leer wat in die Ou en
Nuwe Testament en in die Artikels van die Christelike geloof vervat is
en in die Christelike kerk hier geleer word, die ware en volkome leer
van die saligheid is?
Ten derde: Belowe u en neem u u voor om hierdie
kind (kinders), van wie u die vader en/of moeder is, wanneer hy (sy/hulle)
dit kan verstaan, in die genoemde leer na u vermoe te onderrig en te
laat onderrig?
Antwoord: Ja
Doop
Daarna sê die dienaar as hy die doop bedien, die
volgende:
N, ek doop u/jou in die Naam van die Vader en die
Seun en die Heilige Gees.
Dankgebed
Almagtige, barmhartige God en Vader,
Ons dank en loof U dat U ons en ons kinders, deur die
bloed van u geliefde Seun Jesus Christus, al ons sondes vergewe en ons
deur u Heilige Gees tot lidmate van u eniggebore Seun en daardeur tot u
kinders aangeneem het en dit aan ons met die heilige doop beseël en
bekragtig. Ons bid U ook deur Hom, u geliefde Seun, dat U hierdie kind (kinders)
altyd met u Heilige Gees wil regeer, sodat hy (sy/hulle) Christelik en
godvrugtig opgevoed mag word en in die Here Jesus Christus mag groei en
toeneem (Efesiërs 4:16-17), sodat hy (sy/hulle) u vaderlike goedheid en
barmhartigheid, wat u aan hom (haar/hulle) en ons almal bewys het, kan
bely en in alle geregtigheid onder ons enigste Leraar, Koning en
Hoëpriester, Jesus Christus, kan lewe en moedig teen die sonde, die
duiwel en sy hele ryk kan stry en oorwin (Efesiërs 6:10-13), om U en u
Seun Jesus Christus, en ook die Heilige Gees, die enigste ware God, ewig
te loof en te prys. Amen.
NEW
[As diegene wat in hulle jeug (deur nalatigheid of
deur dwaling van hulle ouers) nie gedoop is nie, tot hulle jare van
begrip gekom het en begeer om die Christelike doop te ontvang, moet
hulle eers goed in die grondslae van die Christelike godsdiens onderrig
word. En as hulle daarvan (voor die kerkraad of voor verteenwoordigers
van die kerkraad of openlik - al na gelang dit in elke kerk die
opbouendste geag word) 'n goeie belydenis gedoen het, moet hulle tot die
heilige doop toegelaat word, en by die bediening daarvan moet hierdie
formulier gebruik word.]
II. Volwassenes
En hoewel die kinders van die Christene—al verstaan
hulle hierdie dinge nie—uit krag van die verbond gedoop moet word, is
dit nogtans nie geoorloof om die volwassenes te doop nie tensy hulle
eers, onder die besef van hulle sondes, van hulle boetvaardigheid en van
hulle geloof in Christus belydenis doen. Want om hierdie rede het nie
alleen Johannes die Doper, onder die verkondiging van die doop van
bekering tot vergifnis van sondes volgens die gebod van God, die wat
hulle sondes bely het, gedoop nie (Markus 1:4-5; Lukas 3:3 ), maar het
ook ons Here Jesus Christus sy apostels beveel om al die nasies te
onderrig en hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige
Gees te doop (Matteus 28:19), terwyl Hy hierdie belofte daarby voeg dat
wie geglo het en gedoop is, gered sal word (Markus 16:16). So het ook
die apostels (soos blyk uit die Handelinge van die apostels) volgens
hierdie reël nie ander volwassenes gedoop nie as net die wat van hulle
boetvaardigheid en geloof belydenis gedoen het (Handelinge 2:38;
8:36-37; 10:47-48; 16:14-15, 31-33). Daarom is dit ook vandag nie
geoorloofom enige ander volwassenes te doop nie as die wat die
verborgenhede van die heilige doop uit die prediking van die heilige
evangelie geleer het en dit verstaan en daarvan sowel as van hulle
geloof deur mondelinge belydenis rekenskap kan gee.
Om hierdie instelling van God tot sy eer, tot ons
troos en tot opbouing van die gemeente uit te voer, laat ons daarom sy
heilige Naam aanroep:
Gebed
O almagtige, ewige God,
U het volgens u streng oordeel die ongelowige en
onboetvaardige wêreld met die sondvloed gestraf en die gelowige Noag
met sy gesin—agt mense—deur u groot barmhartigheid gered en bewaar.
U het die verharde Farao met al sy manne in die Rooisee verdrink en u
volk Israel op droë grond daardeur gelei - waardeur die doop afgebeeld
is (I Petrus 3:20-21).
Ons bid U, kragtens u grondelose barmhartigheid dat u
hierdie broeder(s)/suster(s) genadiglik wil aansien en deur u Heilige
Gees in u Seun Jesus Christus wil inlyf, sodat hy (sy/hulle) met Hom in
sy dood begrawe mag word en met Hom in 'n nuwe lewe mag opstaan (Romeine
6:4ev.). Laat hy (sy/hulle), terwyl hy (sy/hulle) Hom daagliks navolg,
sy (haar/hulle) kruis blymoedig dra (Matteus 16:24) en Hom aanhang met
opregte geloof, vaste hoop en vurige liefde (I Johannes 4:18), sodat hy
(sy/hulle) hierdie lewe, wat tog niks anders as 'n voortdurende sterwe
is nie, deur U getroos, mag verlaat en op die laaste dag sonder
verskrikking voor die regterstoel van Christus, u Seun, mag verskyn. Dit
bid ons deur Hom, ons Here Jesus Christus, u Seun, wat, saam met U en
die Heilige Gees een enige God, leef en regeer in ewigheid. Amen.
Die bedienaar spreek die volwassene wat gedoop sal
word, soos volg aan:
Vrae
U, N, begeer ook om met die heilige doop gedoop te
word, sodat dit vir u 'n seël van u inlywing in die kerk van God kan
wees. Dat dit kan blyk dat u nie alleen die Christelike geloof aanvaar
waarin u afsonderlik deur ons onderrig is en waarvan u voor ons
belydenis gedoen het nie, maar dat u ook, deur die genade van God, u
lewe daarvolgens wil inrig moet u voor God en sy gemeente opreg hierop
antwoord:
Ten eerste: Glo u in die enige ware God,
onderskei in drie Persone: Vader, Seun en Heilige Gees, wat hemel en
aarde en alles wat daarin is, uit niks geskep het en nog so onderhou en
regeer dat niks in die hemel of op die aarde sonder sy Goddelike wil
gebeur nie?
Antwoord: Ja.
Ten tweede: Glo u dat u in sonde ontvang en
gebore is en daarom onder die toorn van God is; dat u van nature
heeltemal onbekwaam tot enige goed is en tot alle kwaad geneig is; dat u
met gedagtes, woorde en dade die gebooie van die Here baiekeer oortree
het, en het u oor hierdie sondes van u van harte berou?
Antwoord: Ja.
Ten derde: Glo u dat Jesus Christus, wat
terselfdertyd ware en ewige God is en ware mens, wat sy menslike natuur
uit die vlees en bloed van die maagd Maria aangeneem het, vir u deur God
tot 'n Saligmaker geskenk is; dat u deur hierdie geloof vergewing van
die sondes in sy bloed ontvang en dat u deur die krag van die Heilige
Gees 'n lidmaat van Christus en van sy kerk geword het?
Antwoord: Ja.
Ten vierde: Stem u in met al die Artikels van die
Christelike geloof soos dit hier in die Christelike kerk uit die Woord
van God geleer word, en is u van voorneme om tot die einde van u lewe in
hierdie leer te volhard; sien u af van alle ketterye en dwalinge wat met
hierdie leer bots, en belowe u dat u in die gemeenskap van hierdie
Christelike kerk sal volhard, nie alleen in die aanhoor van die
Goddelike Woord nie maar ook in die gebruik van die heilige nagmaal?
Antwoord: Ja.
Ten vyfde: Het u u van harte voorgeneem om altyd
Christelik te lewe en van die wêreld en sy sondige begeerlikhede af te
sien soos dit lidmate van Christus en sy gemeente betaam, en sal u u
gewillig aan alle Christelike vermanings onderwerp?
Antwoord: Ja.
Mag die goeie en grote God uit sy goedheid deur ons
Here Jesus Christus aan u in hierdie heilige voorneme sy Goddelike
genade en seën verleen. Amen.
Doop
Daarna sê die bedienaar by die doop
N, ek doop u in die Naam van die Vader en die Seun en
die Heilige Gees.
Dankgebed
Almagtige, barmhartige God en Vader,
Ons dank en loof U dat U ons en ons kinders, deur die
bloed van u geliefde Seun Jesus Christus, al ons sondes vergewe en ons
deur u Heilige Gees tot lidmate van u eniggebore Seun en daardeur tot u
kinders aangeneem het en dit aan ons met die heilige doop beseël en
bekragtig. Ons bid U ook deur Hom, u geliefde Seun, dat U hierdie
broeder (suster) altyd met u Heilige Gees wil regeer, sodat hy (sy)
Christelik en godvrugtig lewe en in die Here Jesus Christus groei en
toeneem (Efesiërs 4:16-17), sodat hy (sy) u vaderlike goedheid en
barmhartigheid, wat U aan hom (haar) en ons almal bewys het, kan bely en
in alle geregtigheid onder ons enigste Leraar, Koning en Hoëpriester,
Jesus Christus, kan lewe en moedig teen die sonde, die duiwel en sy hele
ryk kan stry (Efesiërs 6:10-13) en oorwin, om U en u Seun Jesus
Christus en ook die Heilige Gees, die enigste ware God, ewig te loof en
te prys. Amen.
Vir meer
bronne in Afrikaans, klik hier.