Covenant Protestant Reformed Church
Bookmark and Share

Christus ons Losprys

Ds. Angus Stewart

 

Ons weet wat ’n losprys is. Dit is die prys wat betaal word vir die vrylating van gevangenes. Ons het van baie gevalle gehoor van ontvoerders of terroriste wat mense gryp en hulle gevange hou. Dan eis hulle ’n losprys: “As julle ons (’n spesifieke bedrag geld) betaal, sal ons julle geliefdes vrylaat.”

In 1 Timótheüs 2: 6 staan dat die Here Jesus “Homself gegee het as ‘n losprys.” Die kruis van Christus is nie 'n blote figuurlike of metaforiese losprys nie; dit is 'n werklike losprys. Daar is werklike gevangenes in werklike gevangenskap of slawerny: van die sonde (Romeine 3:9), onder die oordeel van die wet (19), onder die vloek van die wet (Galasiërs 3:10), in slawerny uit vrees vir die dood (Hebreërs 2:15), in die slawerny van Satan (Efesiërs 2:2), in slawerny van die wêreld en in vrees vir die hel.

Daar is betaling van 'n werklike losprys vir werklike gevangenes in werklike gevangenskap. Dit is 'n losprys met oneindige waarde: die vleesgeworde Seun van God, wat altyd gehoorsaam was en nooit gesondig het nie. Hy het die straf wat ons vir ons oortredinge toekom, gedra deur Homself as losprys te gee in gewillige gehoorsaamheid aan sy Vader en in grenslose liefde vir ons; 'n vrywillige betaling vir ons sondes.

Hierdie werklike losprys is betaal vir werklike gevangenes van ’n werklike gevangenemer. Die losprys word aan God betaal en nie aan Satan nie, in teenstelling met die ou losprys-aan-Satan teorie oor die versoening van Christus. Die losprys is betaal aan dieselfde Een aan wie Christus se gawe en offerande gebring is. “Deur die ewige Gees” het Christus “Homself aan God sonder smet geoffer” (Hebreërs 9:14). “Christus [het] ons ook liefgehad ... en Hom vir ons oorgegee ... as ‘n gawe en offer aan God tot ‘n lieflike geur” (Efesiërs 5:2). Die losprys is aan die Almagtige betaal, aan Hom wat die wetgewer, heerser en regter is, die regverdige en heilige Een teen wie ons gesondig het, sodat aan sy regverdige wet en karakter voldoen word.

Let op die verband tussen die middelaar en die losprys. Ons Here Jesus Christus is ons Middelaar én ons losprys, want Hy het Homself as ons losprys gegee, soos die apostel sê: “Want daar is een God en een Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus, wat Homself gegee het as ‘n losprys (1Timótheüs 2:5-6). Die waarheid van “een Middelaar” lei tot sy een losprys. Waarom? Omdat die Middelaar tussen God en die mense net die vyandskap tussen ons kan wegneem en gemeenskap tussen ons kan bewerkstellig op grond daarvan dat Hy ons loskoop van die toornige heiligheid van Jehovah.

In teenstelling met die Skrif staan die afgodiese leer van die Rooms Katolisisme. Rome leer dat mense tot en deur die heiliges behoort te bid, waardeur hulle, strydig met die waarheid dat Christus die “een Middelaar” is, van die heiliges middelaars maak. Daar word ook voorgegee dat mens kan put uit die skatkamer van die goeie werke van die heiliges, waarmee hulle dan deel van ons losprys voorsien. Net so leer Rome dat Maria (nie die geseënde vrou van die Bybel nie, maar 'n godin van hulle verbeelding) 'n middelares is, want mense moet tot en deur haar bid. Al hoe meer word aan Maria gedink, en van haar gepraat as 'n verlosser wat 'n losprys vir sondaars betaal.

Ons “een Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus, [het] Homself gegee het as ‘n losprys vir almal” (5-6). Ons weet wat die Arminiane met die woorde “vir almal” doen. Hulle stel dat dit absoluut almal, kop vir kop, beteken. Hulle haal hierdie “vir almal” met groot opgetoënheid aan, asof dit die grond vir hulle kettery is. Vra van hulle bewys dat “almal” hier iedere en elke individu wat ooit gelewe het of nog sal lewe, beteken, en hulle gee geen bewys nie, maar bly ewe ongestoord. Haal Bybel gedeeltes – by dosyne! – aan waar die woord “almal” nie almal kop vir kop beteken nie, en vra hulle weer vir bewys dat die woord hier beteken wat hulle beweer dit beteken. Weereens word geen bewys gegee nie.

Vra hulle of Jesus werklik vir diegene wat die onvergeeflike sonde teen die Gees gepleeg het, vir wie ons beveel word om selfs nie te bid nie (Mattheüs 13:32; 1 Johannes 5:16), gesterf het. Vra waarom Christus sy kosbare bloed sou stort om hulle te verlos wat reeds onherroeplik verlore in die hel is (Lukas 16:26). Waarom sou die Here die sonde van die Antichris, die seun van die verderf, wie se ewige verdelging reeds voorbestem en geprofeteer is (2 Thessalonicense 2:3; Openbaring 19:20; 20:10), versoen?

Die Arminiane “dwaal, omdat [hulle] die Skrifte nie ken nie en ook nie die krag van God nie” (Mattheüs 22:29). Eerstens ken hulle nie die krag van God wat daar in die losprys van Christus is nie. Die Here Jesus het die losprys betaal, maar, volgens die Arminiane het dit die meeste van hulle vir wie dit betaal is, nie verlos nie. Jehovah het die losprys ontvang, maar Hy het die meeste van hulle vir wie dit betaal is nie vrygelaat nie! Onthou, dit was 'n werklike losprys wat 2000 jaar gelede betaal en aanvaar is. Só verguis die Arminiane die krag (en wysheid) van God die Seun wat die losprys betaal het én die krag (en trou) van God die Vader, wat weier om baie van diegene vir wie Hy die losprys ontvang het, vry te maak.

Wat vir 'n middelaar maak die Arminiane van Jesus Christus? 'n Yslike mislukking! Hy is grotendeels 'n magtelose middelaar, want hy slaag nie daarin om God met al die mense ten behoewe van wie Hy bemiddel, te versoen nie, want die meeste bly in vyandskap met Jehovah in hierdie wêreld en die wêreld wat kom.

Tweedens toon die Arminiaanse kettery van 'n universele losprys dat hulle nie die Skrif ken nie, want daar is baie Skrifgedeeltes wat die verkiesende besonderheid van die losprys van Christus bewys (byvoorbeeld Jesaja 53:10-12; Johannes 10:11, 15; 15:13-14; Efesiërs 5:25). Hierbenewens moet 1 Timótheüs 2:6 in die konteks daarvan verstaan word. “Alle mense” in vers 1 en 2 dui op alle soorte mense, in hierdie geval in besonder “konings en almal wat hooggeplaas is” (2). Ons moet vir hulle bid, selfs al is hulle boos en vervolg hulle ons (1-2). God wil alle soorte mense verlos (4), ook burgerlike regeerders, en daar is nie 'n ander Redder of redding vir regeerders en hoë amptenare nie, want daar is “een middelaar” (5) wat “Homself gegee het as ‘n losprys vir almal,” – alle soorte mense (6). Dank sy die Drie-enige God, want Christus, ons enigste Middelaar en ons enigste losprys, is ons enigste hoop!

(Vertaal deur Nic Grobler. Die Bybelvertaling wat gebruik is, is die AOV van 1933/53)

Vir meer bronne in Afrikaans, klik hier.