Covenant Protestant Reformed Church
Bookmark and Share

Die Volvoering van die Verbond

Ronald Hanko

 

Die volvoering van die verbond is een rede waarom ons nie glo dat die verbond ʼn ooreenkoms of kontrak is waardeur saligheid aan God se volk gebring word nie. Die volvoering van die verbond is die finale, heerlike verwerkliking daarvan in die ewige hemelse koninkryk van Christus ons Here.

Sou die verbond ʼn kontrak of ooreenkoms wees om saligheid te bring, dan sou, sodra ons die volle saligheid ontvang, die verbond verval of mee weggedoen word soos ander kontrakte wat uitgedien is wanneer al die ooreengekome bepalings uitgevoer is.

Dit kan nie so wees nie. Die verbond is ewig. Dit is nie iets wat net vir ʼn tyd lank bruikbaar is, en dan uitgedien is, soos ʼn ooreenkoms of kontrak nie.

Daarom glo ons dat die verbond ʼn verhouding of verbintenis is tussen God en sy volk in Christus. Daardie verhouding en verbintenis word in die Skrif beskryf met die bekende verbondsformule: "Ek sal vir julle ‘n God wees, en julle sal vir My ‘n volk wees."

As dit dan die wese van die verbond is – dat God ons s’n is, en ons syne - dan sal die verbond nie in die hemel verval nie, maar ten volle verwerklik word. Dit is wat die hemel is – dat ons by God sal wees om Hom te verheerlik en ons vir ewig in Hom te verheug.ⁿ

Dit is presies hoe Openbaring 21:3 die heerlikheid van die nuwe hemel en die nuwe aarde beskryf. Daar sal geen trane wees nie en daar sal geen dood meer wees nie, ook nie droefheid en geween en moeite nie. Hoe heerlik sal dit wees!

Maar nog meer heerlik is dít wat die groot stem uit die hemel aan ons voorspel: "Kyk, die tabernakel van God is by die mense, en Hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volk wees; en God self sal by hulle wees as hulle God."

Let daarop dat hierdie gedeelte dieselfde verbondsformule bevat wat deur die hele Skrif voorkom: "Ek sal vir julle ‘n God wees, en julle sal vir My ‘n volk wees". Daar is niks meer te wense of heerlik as dit nie!

Let ook daarop dat die gedeelte spreek van die tabernakel van God. In die Ou Testament was die tabernakel die plek van sy verbond, die plek waar Hy onder sy volk gewoon en Hom as hulle God ge-openbaar het (Eks. 29:42-46).

Daardie Ou Testamentiese tent was ’n tipe en skadu van beter dinge, want dit het die Here Jesus Christus self verbeeld ín wie en deur wie God by ons woon en òns God is en deur wie hy Homself aan ons in al sy heerlikheid openbaar. In Christus ontmoet Hy ons en praat met ons. In Christus woon Hy by ons. Dit is die ewige geluksaligheid van God se verbond.

_____________________________

Antwoord 1 van die Westminster Kort Kategismus

Vertaal uit Ronald Hanko se Doctrine According to Godliness (Grandville, MI, VSA: Reformed Free Publishing Association, 2004), pp. 182-183. 

(Vertaal deur Nic Grobler.
Die Afrikaanse vertaling van die Bybel wat gebruik is, is dié van 1933/1953
)

Vir meer bronne in Afrikaans, klik hier.