Covenant Protestant Reformed Church
Bookmark and Share

Die Verbond en die Belofte van die Land

Ronald Hanko

 

Genesis 15 wys duidelik dat die verbond van God met Abraham—en deur Abraham ook met die ware Israel en met ons—ʼn genadeverbond is. Dieselfde hoofstuk herinner ons egter aan ʼn ander merkwaardige kenmerk van die verbond met Abraham: dit behels ʼn belofte van die land.

Die belofte van die land word egter dikwels misverstaan en lei baie mense daartoe om ʼn toekomstige herstel van die volk Israel in die aardse land Kanaän te soek. Ons glo dit is ʼn vergeefse hoop.

Die verbond met Abraham wys hoe vergeefs so’n hoop is. As die verbond met Abraham as ʼn landverbond die belofte van ʼn aardse land behels het, is daardie belofte nooit aan Abraham self vervul nie.

Die Woord sê vir ons in Handelinge 7:5 dat God vir Abraham geen erfdeel in die land gegee het nie, nie so veel as om sy voet op te sit nie. Tog sê vers 5 dat God dit nie alleen aan Abraham se nageslag beloof het nie, maar ook aan homself. Daar kan by ons nie ʼn duideliker bewys wees dat die landbelofte en al sulke beloftes in die Ou Testament ʼn geestelike vervulling gehad het nie. Die landbelofte was in wese altyd die belofte van ʼn hemelse erfdeel en nie die belofte van ʼn aardse land of erfdeel nie.

Hebreërs 11:8-16 bevestig dit. Toe Abraham deur die geloof uit Ur getrek het na die land wat God hom beloof het, het hy "die stad verwag wat fondamente het, waarvan God die boumeester en oprigter is" (v. 10). Isak en Jacob het ook altyd "bely dat hulle vreemdelinge en bywoners op aarde was" (v. 13) en verklaar dat hulle verlang "na ʼn beter [vaderland], dit is ʼn hemelse" (v. 16). Inderdaad, as hulle na ʼn aardse erfdeel gesoek het, sou hulle geleentheid gehad het om terug te keer na die land waaruit hulle weggetrek het (v. 15), maar dit was nie hulle hoop nie. Dit is ook nie ons s’n nie.

Omdat die landbelofte aan Abraham in werklikheid ʼn belofte van geestelike en hemelse dinge was, sal al die ware kinders van Abraham (Rom. 3:28-29; Rom. 4:16-17; Gal. 3:29), hulle wat in Abraham se God glo, sowel Jode as heidene, die vervulling van daardie belofte en van al die ander beloftes van die verbond wat God met Abraham en sy saad opgerig het, geniet. Nie een sal faal om dit wat beloof is te verkry nie—nie Abraham self, nie die Jode wat na die ballingskap versprei is en nooit na Kanaän teruggekeer het nie, en nie die heidengelowiges, wat ook deur die geloof ware kinders van Abraham is, nie.

So erf al Abraham se kinders met Abraham iets ver beter as die heuwels en riviere en stede van ʼn aardse land. Hulle gaan daardie geseënde erfdeel in waarvan Hebreërs 12:22-24 praat, en daar is niks beter nie.

Vertaal uit Ronald Hanko se Doctrine according to Godliness (2004, Reformed Free Publishing Association, Grandville, MI, VSA), pp. 172-173.

(Vertaal deur Nic Grobler. nicg@absamail.co.za

Die Afrikaanse vertaling van die Bybel wat gebruik is, is dié van 1933/1953)

Vir meer bronne in Afrikaans, klik hier.