Covenant Protestant Reformed Church
Bookmark and Share

Die Genadeverbond

Ronald Hanko

 

As God se verbond ‘n verhouding of band is tussen God en sy volk, kan dit net ‘n verbond uit genade wees.

Dat ons in ‘n band van vriendskap, gemeenskap en liefde met die lewende God kan lewe, is van God se kant onverdiende guns. Dit is byna ondenkbaar dat God by ons sou woon en ons God sou wees, maar Hy beloof nietemin aan ons, sondaars: "Ek sal in hulle woon en onder hulle wandel, en Ek sal hulle God wees, en hulle sal vir My ‘n volk wees" (2 Kor. 6:16). Hoe wonderbaar!

Wat van ons waar is, was ook waar van Adam. Wie sou durf sê dat die skepping van Adam, as iemand deur God geken en liefgehad, enigiets anders was as onverdiende guns? Dit was sekerlik nie gegrond op verdienste nie, want voordat hy in so hoë stand geskape is, was daar vir hom geen geleentheid om verdienste teenoor God te verkry nie. Net so kan niemand enige verdienste by God hê nie, soos on leer uit Lukas 17:10:" So ook julle, wanneer julle alles gedoen het wat julle beveel is, sê dan: Ons is onverdienstelike diensknegte, want ons het gedoen wat ons verplig was om te doen".

Daarom wys ons enige praatjies oor ‘n werkverbond wat op verdienste gebaseer is, af. Ons is nie geneë om van die werkverbond as ‘n beskrywing van die verbond met Adam te praat nie, hoewel ons dit versigtig wil kwalifiseer. Dit moet duidelik verstaan word dat as ons van ‘n werkverbond wil praat, dit nie ‘n ander verbond is nie, maar ‘n openbaring van die een verbond van God; ook was Adam se gehoorsaamheid en goeie werke nie die grond of rede vir die verbond nie, maar net vir die vreugde van Adam om daarin te lewe.

Dit is net ‘n ander manier van sê dat die verbond deur God alleen gegee en gehou word, sonder die mens se hulp of samewerking. Dit wil sê die verbond hang nie van die mens af nie, al het hy pligte en verantwoordelikhede in die verbond.

Miskien kan ‘n analogie help. Ons weet dat ons moet eet om te lewe, maar ons erken dat ons vir ons lewe nie op voedsel en drank staatmaak nie, ons onvang nie ons lewe van voedsel en drank nie. Ons lewe is afhanklik van God van wie ons dit elke oomblik ontvang. Voedsel en drank is net die middele, nie die rede nie, vir lewe. So is dit met die verbond. Gehoorsaamheid is die middel waardeur ons die seëninge en voorregte van God se verbond geniet, maar nooit die rede vir die verbond nie.

Aangesien die verbond uit genade is, is dit ‘n sekere en ewige verbond wat nie gebreek kan word nie. Hoewel Adam ontrou was, en ons saam met hom, bly God getrou en breek nie sy verbond of verander dit wat oor sy lippe gegaan het nie (Ps. 89:34). Groot is sy trou. Aan Hom alleen die eer as die God van die verbond.

Vertaal uit Ronald Hanko se Doctrine According to Godliness (Grandville, MI, VSA: Reformed Free Publishing Association, 2004), pp. 65-66.

(Vertaal deur Nic Grobler. 
Die Afrikaanse vertaling van die Bybel wat gebruik is, is dié van 1933/1953)