Covenant Protestant Reformed Church
Bookmark and Share

Die Verbondsbelofte

Ronald Hanko

 

Een van die kosbaarste aspekte van God se verbond is die belofte waarmee Hy sy verbond aan ons bekend maak. Met daardie belofte toon Hy aan ons dat sy verbond werklik ʼn genadeverbond is. Deur die belofte openbaar Hy sy veelvuldige barmhartigheid en skenk Hy genade op genade.

Daardie belofte word herhaaldelik in die Skrif gevind as ʼn verbondsformule. Met klein verskille tussen tekste is dit die Woord van God: "Ek sal julle God wees en julle sal my volk wees" (Gen. 17:7,8; Deut. 7:6; 2 Kor. 6:16; Openb. 21:3).

ʼn Mens kan jou nie ʼn groter belofte of enigiets beter indink as om God as jou God te hê, om Hom te ken, Hom lief te hê en met Hom in gemeenskap te wees nie. Tog is dit nie die hele belofte van die verbond nie, want God skenk genade op genade en seëning op seëning.

In sy genade voeg God by hierdie belofte dat Hy ook die God van ons kinders sal wees. Hoewel ons self niks van Hom verdien nie, belowe hy nie net aan ons saligheid nie, maar Hy beloof dit ook aan ons kinders. Wat ʼn onuitspreeklike genade!

Daardie beloftewoord van God oor die kinders van gelowiges is deel van die verbondsbelofte in beide die Ou Testament en die Nuwe Testament. Dit word eers gevind in Genesis 17:7,8 aan die begin van God se openbaring aan Abraham. Dit word weer gevind aan die begin van die geskiedenis van die Nuwe Testamentiese kerk in Handelinge 2:39.

Ons moet verstaan dat die belofte nooit ʼn waarborg was, of ooit sal wees, dat elke een van ons kinders deur God gered word nie. Daar is altyd Esaus en Kains in die families van God se volk, tot hulle groot verdriet. God se belofte is dat Hy sy verbond sal voortsit met sy volk en hulle families en dat hulle – met hulle families en geslagte - nie afgesny sal word nie.

Dit is die belofte wat herdenk en beteken word wanneer die kindertjies van gelowiges gedoop word. Dit is die belofte wat alle verbondsonderrig en dissipline onderlê en ook die versekering gee dat dit doeltreffend sal wees. Dit is die belofte waarmee God aan ons wys hoe groot sy genade is.

Ons beklemtoon ook dat dit ʼn belofte is, ʼn eed wat God gesweer het, en Hy is onveranderlik en lieg nie. Daaraan kan ouers vashou deur al die beproewing en kommer van die opvoeding van ʼn familie. Dit is vir hulle ʼn rede om aan te hou bid wanneer ʼn seun of ʼn dogter eiewys en ongehoorsaam is.

Mag God met hierdie kosbaarste van alle beloftes aan baie die genade en trou van sy verbond betoon (Ps. 25:14).

Vertaal uit Ronald Hanko se Doctrine According to Godliness (2004, Reformed Free Publishing Association, Grandville, MI, VSA), pp 66-67.

(Vertaal deur Nic Grobler.
Die Afrikaanse vertaling van die Bybel wat gebruik is, is dié van 1933/1953
)

Vir meer bronne in Afrikaans, klik hier.