Covenant Protestant Reformed Church
Bookmark and Share

Die Wese van die Geloof

Ronald Hanko

 

Wanneer ons oor geloof dink, dink ons gewoonlik aan die aktiwiteit van geloof en vertroue in God en sy Seun, die Here Jesus Christus. Geloof is ook om te glo en te vertrou, maar dit is eerstens iets anders. In sy diepste werklikheid en wese is geloof eenwording met Christus.

Dit word bedoel wanneer die Heidelbergse Kategismus van ware geloof praat in terme van "in Christus ingelyf word"i en deur die Westminster Groot Kategismus wat sê dat geloof nie alleen instemming is met die waarheid van die belofte van die evangelie nie, maar ook om Christus tot verlossing te ontvang, en in Hom te berus.ii Onderskeie van die aktiwiteit van glo, word na hierdie inlywing in Christus, hierdie ontvang van en berusting in Christus, soms in die teologie verwys as die "krag van die geloof" en die "beginsel van die geloof".

Dat geloof eenheid met Christus is, word in die Skrif geleer in gedeeltes soos Johannes 17:20,21, Galasiërs 2:20 en Efesiërs 3:17. Hierdie eenheid blyk ook uit die manier waarop die Skrif oor geloof praat. In die Nuwe Testament, byvoorbeeld, word die Griekse woord eís (wat, onder meer, beteken "in ... in", na ... toe", "tot ..." en "op ..." - vertaler)iii in verskillende uitdrukkings gebruik, waarvan die meeste daarop dui dat geloof ons in lewende aanraking en eenheid met Christus bring. Die Skrif praat merendeels van "in Christus glo" (dws. nie "aan" nie – vertaler). Dit beteken niks anders as dat ons, deur te glo, lede is van sy liggaam, van sy bene en van sy vlees (Ef. 5:30).

Al hierdie gedeeltes dui op intieme persoonlike eenheid en gemeenskap met die Seun van God. Selfs die gedeeltes wat bloot daarvan praat dat ons Christus glo, impliseer dat ons naby genoeg aan Hom is dat ons Hom werklik hoor spreek en kan weet en vertrou wat Hy sê (Joh. 14:11; 2 Tim 1:12). Dit is die wese van ware geloof.

Dit is dan wat ware geloof van al sy namaaksels onderskei. Namaaksels van ware geloof boots die ware geloof op baie maniere na, maar daar is een ding wat nie nageboots kan word nie, en dit is om deur geloof een te wees met Christus.

Om geloof as eenheid met Christus te beleef, is ook om geloof noodwendig as ‘n gawe van God te beleef. As ons net van die aktiwiteit van geloof praat, mag ons begin dink dat geloof sy oorsprong in ons en in ons wil het. Maar as ons onthou dat geloof in die eerste plek eenheid met Christus is, word dit duidelik dat geloof God se werk en gawe is. Is ons in staat om onsself met Christus te verenig? Net so min as wat ‘n loot homself in ‘n boom kan inent!

Hierdie begrip van geloof maak ook baie ander dinge duidelik. Dit verklaar hoedat in die regverdiging die geregtigheid van Christus ons s’n word deur geloof. Dit verklaar hoe geloof die oorwinning is wat die wêreld oorwin, want dit is nie een of ander inherente krag in geloof wat oorwin nie, maar die feit dat geloof ons in Christus bring en ons so laat deel in Christus se oorwinning oor sonde, dood, die wêreld en Satan.

Hoe heerlik is dit dan om te kan sê dat ons die geloof het; om te bely dat deur ‘n wonderlike en soewereine daad van God, ons in Christus lewe en Hy in ons, om nooit van mekaar geskei te word nie.

i Heidelbergse Kategismus, Sondag 7, Vraag en Antwoord 20.
ii
Westminster Groot Kategismus, Vraag en Antwoord 72.
iii
Die Skrif gebruik "eís" in die verskillende betekenisse hierbo genoem onder meer in Johannes 3:16, Kolossense 2:5, Romeine 9:23, Romeine 10:11 en in Handelinge 11:17 en 16:13. Die Engels wat in die King James vertaling hier gebruik word is "in", "on", "to", "unto" ens. Al hierdie betekenisse dui op ‘n lewende, bewegende wedersydse gerigtheid.

Vertaal uit Ronald Hanko se Doctrine According to Godliness (Grandville, MI, VSA: Reformed Free Publishing Association, 2004), pp. 193-194.

(Vertaal deur Nic Grobler.
Die Afrikaanse vertaling van die Bybel wat gebruik is, is dié van 1933/1953
)

Vir meer bronne in Afrikaans, klik hier.