Covenant Protestant Reformed Church
Bookmark and Share

Om die mens te vrees en God te vergeet (1)

Ds. Angus Stewart

 

“Ek is dit wat julle troos! Wie is jy, dat jy bevrees is vir die mens wat moet sterwe, en vir die mensekind wat oorgegee word soos gras? — dat jy vergeet die HERE wat jou gemaak het, wat die hemel uitgesprei en die aarde gegrond het; dat jy gedurigdeur die hele dag bewe vir die grimmigheid van die verdrukker as hy dit daarop toelê om te verwoes? Waar is dan die grimmigheid van die verdrukker?” (Jesaja 51:12-13).

Die praktiese belang van hierdie geïnspireerde woorde berus op drie feite. Eerstens is ons geneig tot vrees, vrees vir die mens. Tweedens is dit ons sondige neiging om te vergeet, om God te vergeet. Derdens is ons geneig om die mens te vrees en God te vergeet vanweë Babilon. Ons leef ook in die Babilon van hierdie bose wêreld, wat ons op ’n duisend en een maniere beveel: “Vrees die mens! Vergeet die Here!”

Ons moet ook verstaan dat die verse hierbo aangehaal deel is van die antwoord van Jehova op die ernstige gebed van Israel dat God moet “ontwaak” en sy arm met sterkte moet beklee om sy volk te verlos, soos Hy gedoen het toe Hy die Egiptenare by die Rooisee vernietig het (vs. 9-10). Jehova belowe nie net om sy geliefde kerk los te koop nie (vs. 11), maar Hy spreek ook hulle vrees aan. Ons genadige Vader is hier baie prakties wanneer Hy sy sorg vir sy kinders openbaar. Hy weet dat sy volk se smeking om verlossing gepaardgaan met mate van sondige vrees vir die mens, want Hy ken die harte van almal.

God gee aan Israel tweevoudige troos. Eerstens belowe Hy om hulle te verlos (ʼn direkte antwoord op hulle versoek). Tweedens spreek hy hulle vrese aan ( ʼn belangrike reaksie op hulle onuitgesproke probleem).

Hierin is vir ons vandag verskeie lesse te leer. Ons sien hier dat gelowiges met vrees vir die mens te doen kan hê, en inderdaad te doen het, op bepaalde tye en tot verskillende mate. Ons moet nie dink: “Daar is vrees vir mense in my hart; daarom is ek nie ʼn Christen nie.” Kyk na Israel hier. In Jesaja 51 doen die heiliges ʼn kragtige en oortuigende gebed (9-10), maar God sien ʼn ongelowige vrees in hulle harte (12-13).

Ons leer hier ook dat ons gebede, selfs vroom gebede, in verband met ons vrese opkom. Moet daarom ook nie só dink nie: “Daar is sondige vrees in my hart, daarom sal God nie my gebede verhoor nie.” Want wat leer ons van Israel in Jesaja 51? Dat Jehova hulle versoek beantwoord het (11-16), ten spyte daarvan dat hulle gebede met vrese vir die mens gepaard gegaan het.

Dit moedig ons aan om wanneer ons bekommerd en vol vrees is, na ons hemelse Vader te gaan. Jehova maak Israel attent op hulle verse, help hulle daarteen (7-8) en praat met hulle oor hulle vrees (12-13). Hy werk op dieselfde manier ook met ons!

Wanneer ons bang of beangs is, moet ons nie huiwer om sy aangesig te soek of om ons ongelowige vrese teenoor Hom te erken (en om van Hom vergiffenis en krag om ons vrees te oorkom, te vra) nie. Deur sy genade vergewe Hy ons, heilig ons en vertroos ons. Uit ons lees en sing en mediteer van die Psalms weet ons hoe dikwels die Psalmis dit gedoen het en verligting by sy God gekry het. Ons moet dié geseënde vermaning ter harte neem: “Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van die genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word” (Hebreërs 6:16)!

Dit is maklik om te verstaan dat die Jode in die versoeking was om die antieke Babilon te vrees. Dit was die Babiloniese leërs wat Juda en Jerusalem vernietig het. Babilon het groot militêre mag gehad, ook ʼn ontsagwekkende regstelsel en groot indrukwekkende geboue. Babilon het vertroue gehad in, en was trots op, sy prestasies en vermoëns. Hierdie volksgeaardheid was duidelik dwarsdeur sy magtige ryk. Dit is nie veel anders in die moderne Babilon van die wêreld vandag nie!

Tog is die vraag van die profeet aan Israel vreesaanjaend: “Wie is jy, dat jy bevrees is vir die mens wat moet sterwe (Jesaja 51:12)? Ten spyte van al sy vertoon is die mens, selfs op sy beste en magtigste, ʼn sterfling. Die groot Nebukadnesar lê reeds meer as 2,500 jaar in sy graf en vergaan. Net so wag die graf vir almal wat goddelose wette opstel om hulle sonde en hulle mag te bevorder. Selfs die rykste en oënskynlik welvarende kinders van Adam is onderhewig aan swakheid, siekte en ouderdom – die voorlopers van dood die ewige hel wat op almal wag wat onberouvol bly oor hulle sondes en nie genade en vergiffenis in die kruis van Christus alleen, soek nie.

Van speelterrein-bullebakke tot die leiers van ons tyd wat die Christelike geloof wanvoorstel of bespot en al die goddeloses wat so hoog aangeslaan en opgehemel word in ons tyd en die goddelose wetgewers en heersers van ons bose wêreld —hulle sal almal eenmaal voor die heerlikheid van God in die Here Jesus Christus staan om geoordeel te word vir elke gedagte, woord en daad.

Dít is die mens, gevalle en gebroke, die “mensekind” (vs. 51:12), net soos sy vader en sý vader voor hom: swak, sterflik en onder die toorn van God. Daarom, moet hom nie vrees nie, al is hy ryk, aantreklik en magtig. In plaas daarvan, “Vrees God” (Prediker 12:13)!

Vertaal deur Nic Grobler. Die Afrikaanse vertaling van die Bybel wat gebruik word, is die Afrikaanse Ou Vertaling (AOV) van 1933/53.

Vir meer bronne in Afrikaans, klik hier.