Covenant Protestant Reformed Church
Bookmark and Share

Vrye wil: Hang die saligheid van ‘n mens se keuse af?

Ds. Ron Hanko

 

Gedurende die tyd van die Protestantse Hervorming, het Martin Luther ‘n boek geskryf, getiteld: Die Gebondenheid van die Wil. Hierdie boek was geskryf teen ‘n man genaamd Erasmus se lering dat die mens ‘n vrye wil het, met ander woorde die vermoë om te kies of hy gered word of nie. Luther het aan Erasmus gesê dat hierdie kwessie oor die vrye wil die belangrikste saak van die Hervorming is. Hy het gesê: "Jy [Erasmus] het my nie lastig geval met vreemde twispunte omtrent die pousdom, die vagevuur, aflaat, en soortgelyke sake nie, kleinighede eerder as geskilpunte … jy, en jy alleen, het die spil gesien waarom alles draai en jy het gemik vir die kern."

Ten spyte van wat Luther geskryf het, het Erasmus se leer oor die vrye wil die leer geword van die grootste deel van die Protestantisme. Vrye wil is:

  1. n Ontkenning van die uitverkiesing. Uitverkiesing beteken dat God se wil (God se keuse) alle dinge bepaal (Ef. 1:3-6). Vrye wil leer dat die mens se keuse bepalend is vir saligheid.

  2. ‘n Ontkenning van die Bybelse waarheid dat saligmakende geloof ‘n gawe van God is (Ef. 2:8-10). Vrye wil leer dat geloof ‘n persoon se eie keuse is om op Christus te vertrou.

  3. n Ontkenning van die waarheid dat Christus net vir sy uitverkorenes gesterf het (Mat. 1:21). Vrye wil leer dat Christus vir almal sonder uitsondering gesterf het en dat hulle saligheid nou afhang van hul aanvaarding van Hom, met hul "vrye wilskeuse."

Geloof in die vrye wil kom ook voor in die soort prediking en evangelisasie wat deesdae die gewildste is, die soort wat sondaars smeek om Christus te aanvaar, wat gebruik maak van vorentoe roep, apèlle, besluitnemingstye, die ophef van hande en ander soortgelyke gebruike om mense te oortuig om dit te doen. Al hierdie dinge veronderstel dat ‘n mens se saligheid van sy eie keuse afhang.

Ons glo dat die mens se wil gebonde is deur sonde en dat hy nie in staat is om goed te doen nie, meer nog, hy is nie eers in staat om goed te wil doen nie (Rom. 8:7-8). In die besonder is hy nie in staat om die hoogste goed van alles te doen nie, naamlik om God en Christus te kies.

Ons glo daarom dat die mens nie in Christus kan glo nie, tensy dit "vir hom gegee word van bo" (Joh. 6:44).

Ons glo verder dat, nie die mens se wil nie, maar God se soewereine en ewige wil (uitverkiesing), is deurslaggewend vir saligheid (Hand. 13:48; Fil. 2:13).

Wat is dan die doel om die evangelie aan almal te verkondig? Dit is juis "die krag van God tot redding" (Rom. 1:16), die wyse waarop God geloof en berou werk by almal wat Hy in ewigheid gekies en verlos het in Christus. Mag dit die krag wees tot redding van baie!

(Vertaal deur Adi Schlebusch adi.schlebusch@yahoo.com

Die Afrikaanse vertaling van die Bybel wat gebruik is, is dié van 1933/1953)

 

Vir meer bronne in Afrikaans, klik hier.