Covenant Protestant Reformed Church
Bookmark and Share

Die Gawe van Geloof

Rev. Angus Stewart

 

Van die kansels van baie kerke word dikwels stellings soos die volgende gehoor: "God sal alles moontlik doen om ons aan te moedig om die regte keuse te maak." As dit waar is, waarom is dit so dat God besluit het dat baie mense nooit die evangelie sal hoor nie? Waarom het Hy van ewigheid af valse leraars bestem om in baie kerke die valse evangelie te verkondig (Jud. 4)? Hoe gaan dít mense aanmoedig om te glo? Waarom het God Farao se hart verhard (Eks. 4:21) as Hy wou hê hy moet hom bekeer? Wat het Paulus bedoel toe hy geskryf het "Hy verhard wie Hy wil" (Rom. 9:18)? Waarom het Dawid gebid, "Laat hulle oë duister word, sodat hulle nie sien nie" (Ps. 69:24)? As God besig is om alles te doen wat Hy kan om almal tot bekering te bring, waarom sê die Skrif, "God het hulle gegee ʼn gees van diepe slaap, oë om nie te sien nie en ore om nie te hoor nie" (Rom. 11:8)? As God "alles moontlik" doen om almal tot saligheid te bring, waarom het Hy nie almal uitverkies en hulle kragdadig tot geloof geroep nie? Dié god wat alles doen wat hy kan om almal tot saligheid te bring en misluk, is nie die Almagtige God van die Bybel wat "na sy wil handel met ... die bewoners van die aarde en daar is niemand wat sy hand kan afslaan en vir Hom sê: Wat doen U ...?" (Dan. 4:35) nie.

God werk die geloof in sy uitverkorenes alleen, soos die Westminster Confession in 14.1 verklaar: "Die genade van geloof waardeur die uitverkorenes in staat is om te glo tot die redding van hulle siel, is die werk van die Gees van Christus in hulle harte."

Die natuurlike mens se wil is gebonde deur die Satan, wat hom gevange hou om sy wil te doen (II Tim. 2:26). So is daar "niemand wat God soek nie" (Rom. 3:11). Aan die uitverkorenes alleen (Rom. 13:48) word dit "ter wille van Christus genadiglik gegee om ... in Hom te glo" (Fil. 1:29). Selfs die handeling van geloof ("om te glo") is ʼn gawe van God ("dit is gegee").

Die Dordtse Leerreëls, die Gereformeerde belydenisskrif saamgestel deur ʼn internasionale vergadering van teoloë, sit die skriftuurlike leer oor die geloof uiteen as ʼn gawe (III/IV:14). Geloof is "ʼn gawe van God, nie omdat dit aan die vrye wil van die mens aangebied word nie," of omdat "God net die vermoë om te glo gee en daarna van die vrye wil van die mens die instemming of die daadwerklike geloof verwag nie." Nee, geloof is die gawe van God "omdat dit ... vir hom [die mens] geskenk word en vir hom ingegee en in hom ingestort word" en omdat "[God] wat in die mens werk om te wil sowel as om te werk," "sowel die wil om te glo as die geloof self in die mens tot stand bring."

(Vertaal deur Nic Grobler. nicg@absamail.co.za
Die Afrikaanse vertaling van die Bybel wat gebruik is, is dié van 1933/1953
)

Vir meer bronne in Afrikaans, klik hier.