Covenant Protestant Reformed Church
Bookmark and Share

Heerlike dinge word van die kerk gesê (3)

Ds. Angus Stewart

 

Een van die heerlike dinge wat Pslam 87 ons leer oor Sion, of die kerk, is dat dit ons geboorteplek is. Drie keer word hierdie waarheid vertel: "hierdie een is daar gebore" (4), "Man vir man is daarin gebore" (5) en "Hierdie een is daar gebore" (6).

Van welke geboorte praat Psalm 87:4-6? Daar is wesentlik twee geboortes. Die eerste, fisiese geboorte het alle mense in gemeen; die tweede, geestelike geboorte is eie aan die uitverkorenes alleen. In Psalm 87 is daar dus twee moontlikhede, fisiese geboorte as 'n nsionale burger van Israel, of 'n hemelse, geestelike geboorte as burger van "Jerusalem daarbo" (Gal. 4:26). Die laaste is die korrekte. Mense van Babilonië, Filistia, Tirus en Ethiopië (Ps. 87:4) is nooit met letterlike, aardse, fisiese Israelitiese burgerskap in Sion gebore nie. Die geboorte van Psalm 87 is 'n geboorte tot 'n geestelike lewe om God te prys (7). Die fondament van hierdie (hemelse) Sion is die wonderbare liefde van Jehovah vir sy kerk in Jesus Christus (1-2), soos ons in die laaste uitgawe van die NEWS gesien het.

Van die wedergeboorte of die nuwe geboorte leer ons in die Nuwe Testament. Die Here Jesus praat in Johannes 3:1-13 met Nicodemus daarvan, om weer gebore te word. Hierdie waarheid word uiteengesit in Johannes 1:12-13, Titus 3:5 ("die bad van die wedergeboorte"), Jakobus 1:18, I Petrus 1:3 en 23, en baie kere in I Johannes. Maar die nuwe geboorte word ook in die Ou Testament geleer, want ons kry dit hier in Psalm 87. Esegiël praat daarvan interme van die "nuwe hart" en die "hart van vlees" (11:19; 36:26). Dit word ook genoem die besnydenis van die hart (Deut. 30:6). Hoewel wedergeboorte of die nuwe geboorte meer volledig in die Nuwe Testament ontplooi word, dit is dit definitief dáár in die Ou Testament.

Kan u sien hoe dom Nicodemus was? Nadat Jesus die nuwe geboorte aan hom verduidelik het (Joh. 3:3-8), vra dié Joodse leier, "Hoe kan hierdie dinge gebeur?" (9). Christus antwoord, "Jy is die leraar van Israel en jy weet hierdie dinge nie?" (10). Dit was 'n striemende teregwysing: "Nicodemus, wil jy sê dat jy nie van die wedergeboorte weet nie? Het jy niks geleer nie? Jy is veronderstel om geleerd te wees in die Bybelse leer! Mense kom na jou vir onderrig, maar jy ken nie eers hierdie uiters belangrike waarheid nie! Het jy nog nooit Psalm 87 gesing nie? Het jy nie verstaan wat jy sing nie? (vgl. 47:7).

Daar is ook vandag baie leraars in kerke wat nie waarheid van die nuwe geboorte ken nie. Rome leer wedergeboorte deur die doop, so ook baie Anglikane en lidmate van die Church of Ireland. Die dwaalleer van vrye wil verknoei ook die nuwe geboorte deur, in stryd met God se Woord (Joh. 1:12-13; 3:5-8; Jak. 1:18), te leer dat mens weergebore word deur die wil van die sondaar.

Die besondere aspek van die nuwe geboorte wat deur Psalm 87 onderstreep word, is dat dit in die kerk plaasvind: "hierdie een is daar gebore" (4), "Man vir man is daarin gebore" (5) en "Hierdie een is daar gebore" (6), waar "daar" en "daarin" na Sion verwys.

Wat beteken dit dat die uitverkorenes wedergebore word in die kerk? Gewis beteken dit nie dat daar in heidenlande ongeëvangeliseerde maar tog wedergebore mense ronddwaal nie. Daar is nie op afgeleë eilande "edele barbare" wat weergebore is deur die Gees maar nog sonder kennis van Jesus Christus is nie. Die nuwe geboorte vind plaas in die kerk in verband met die prediking. Uiverkore kinders van gelowiges mag selfs by hulle waterdoop weergebore wees, maar die nuwe geboorte is nie verbind aan die tydstip van die bediening van die sakrament nie (Westminster Konfessie 10:3; 28:6).

Hierop mag iemand sê, "Maar ek weet van mense wat beweer dat hulle bekeer is terwyl hulle nie in 'n kerkdiens was nie - deur 'n gesprek, of Bybellees of 'n radiouitsending ens." Dit is belangrik om te weet dat ons nie bewus is van ons nuwe geboorte by die oomblik van ons wedergeboorte nie, want dit is 'n werk van God wat, buite ons wil en ons bewussyn, nuwe lewe in ons wek. Hierdie lewe word noodwendig duidelik in ons bekering, maar niemand ken die presiese tydstip van hulle wedergeboorte nie.

Selfs, argumentshalwe, as iemand sou sê dat hy as kind in 'n Christelike huis wedergebore is, is die antwoord voor die hand liggend. Die ouers wat hom opgevoed het in die vrese van die Here was lede van die kerk wat self gevoed en versorg is deur middel van die prediking van die Woord, die bediening van die ampte ens. in die kerk as instituut. As iemand sou sê dat sy weergebore is terwyl sy die Bybel gelees het? Die Bybel is deur die kerk bewaar en in stand gehou en word deur die kerk as instituut en sy lidmate versprei. Iemand anders mag reken hy is weergebore toe hy die getuienis van 'n gelowige gehoor het. Was dié getuie nie 'n Christen, 'n lidmaat van die kerk, wat die waarheid net deur die kerk, "pilaar en grondslag van die waarheid", ken nie?

Hierbenewens kan ons nie dink dat al die uitverkorenes van Ou Testamentiese Israel weergebore is terwyl hulle fisies in Sion teenwoordig was nie. Wat van die vroue wat, streng gesproke, nie verplig was om na die drie groot feeste in Jerusalem op te gaan nie? Wat van Ou Testamentiese uitverkore kinders wat as babas gesterf het? Die punt is dat Israel se hele geestelike lewe in Sion gesentreer was en daaruit gevloei het. Die lewende God was in die tempel teenwoordig. Die offers het almal getuig van Christus se sterwe vir die sondes van sy volk. Jehovah het deur Dawid se huis regeer. Die leerbediening van die priesters en Leviete was ook in Sion gesentreer.

Vandag kom die wêreld se geestelike lewe deur die kerk. Die leer, kategese, erediens ens. van die kerk, stel gelowiges in staat om saam te bid, te getuig en onderling gemeenskap te beoefen, want die middele van die genade (die prediking en die sakramente) is aan die geïnstitueerde kerk toevertrou. Christelike boeke, pamflette, CD's, DVD's, webtuistes ens. kom alles op een of ander wyse deur die kerk. Die meeste teologiese boeke, kommentare ens. is deur ampsdraers van die kerk geskryf en word in die verband van die geïnstitueerde kerk gepubliseer.

Die nuwe geboorte vind in die kerk, haar erediens of haar breër organiese kerklike lewe en getuienis plaas.

(Vertaal deur Nic Grobler.
Die Afrikaanse vertaling van die Bybel wat gebruik is, is dié van 1933/1953
)

Vir meer bronne in Afrikaans, klik hier.