Covenant Protestant Reformed Church
Bookmark and Share

Die grootheid van Johannes die Doper

Ds. Angus Stewart

 

Dink aan die grootheid van Johannes die Doper! Eerstens was Johannes die Doper die enigste profeet oor wie spesifiek in die ouer Skrifte geprofeteer is. Oor hom is deur Jesaja (ongeveer 700 jaar vantevore) en Maleági (ongeveer 300 jaar vantevore) geprofeteer. Oor hom word in drie gedeeltes voorspel. In Jesaja 40:3-5 is hy die een wat God noem, "een wat roep: Berei in die woestyn die weg van die HERE; maak gelyk in die wildernis ‘n grootpad vir onse God!" In Maleági 3:1 is dit hy wat Christus noem "my boodskapper wat [my] weg voor [my] uit sal regmaak" (Matt. 10:11). In Maleági 4:5-6 word hy "die profeet Elía" genoem.

Tweedens is Johannes die Doper 'n verbinding tussen die Ou Testamentiese en die Nuwe Testamentiese Skrifte. Wat is die laaste geïnspireerde woorde in die laaste boek van die Ou Testament soos ons dit in ons Bybels vind?. 'n Profesie van Johannes die Doper! "Kyk, Ek stuur julle die profeet Elía voordat die groot en vreeslike dag van die HERE aanbreek. En hy sal die hart van die vaders terugbring tot die kinders, en die hart van die kinders tot hulle vaders, sodat Ek nie hoef te kom en die land met die banvloek tref nie" (Mal. 4:5-6). Waarmee begin die evangelies, die eerste vier boeke van die Nuwe Testament? Met Johannes die Doper! Drie evangelies, Markus, Lukas en Johannes, het vir Johannes in hulle eerste hoofstukke en Matthéüs in die derde. So is Johannes aan die einde van die Ou Testament en die begin van die Nuwe Testament as 'n verbinding tussen die twee.

Derdens is dit net aan Johannes, die seun van Sagaria en Elisabeth, aan wie die erenaam "die Doper" gegee is. Ons lees nie van "Abraham die besnyder" of "Moses die insteller van die Pasga" nie, maar die Bybel praat wel van "Johannes die Doper." Daar is 'n duidelike verband tussen die doop van Johannes en die Christelike doop. Hy is vir altyd aan die eerste twee Nuwe Testamentiese sakramente verbind, want hy is Johannes die Doper.

Vierdens blyk die grootheid ook in wat Christus self van hom gesê het. Die Here het Johannes "die lamp wat brand en skyn" (Joh. 5:35) en "baie meer as ‘n profeet" (Matt. 11:9) genoem. Jesus het inderdaad gesê, "Voorwaar Ek sê vir julle, onder die wat uit vroue gebore is, het daar nie een opgestaan wat groter is as Johannes die Doper nie" (Matt. 11:11). Dit is hoë lof, komende van die eniggebore Seun van God!

Vyfdens is Johannes die Doper die eerste martelaar wat in die Nuwe Testament opgeteken is. Reeds voordat Stéfanus gestenig is (Hand. 7:58-60), en Jakobus, die apostel en broer van Jesus met die swaard gedood is (Hand. 12:2), is Johannes vir sy getuienis van die waarheid onthoof. Later was daar ander martelare soos Petrus, Paulus en Johannes (die apostel), hoewel hulle marteling nie spesifiek in die Woord van God aangeteken is nie. Van hulle almal was Johannes die Doper ewewel die eerste om sy getuienis met sy bloed te beseël, die bloed uit sy nek. Eers tóé was die stem van hom wat in die woestyn geroep het, stilgemaak.

Sesdens lê die grootheid van Johannes in die heilsgeskiedenis in sy getuienis voor die Messias. Johannes het gesê dat hy nie waardig is om neer te buk en die skoenriem van Christus los te maak nie (Mark. 1:7). Hy het verklaar, "Hy moet meer word, maar ek minder" (Joh. 3:30). Die rol van Johannes was dié van 'n getuie om mense te rig op "die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!" Joh. 1:29, 36).

(Vertaal deur Nic Grobler.
Die Bybelvertaling wat gebruik is, is die AOV van 1933/53
.)

Vir meer bronne in Afrikaans, klik hier.