Covenant Protestant Reformed Church
Bookmark and Share

Inleiding tot die Liturgiese Formuliere

 

Die meeste van hierdie formuliere is tydens die sestiende eeuse Reformasie opgestel. Die formuliere vir die bediening van die doop aan kinders, die formulier vir die bediening van die Heilige Nagmaal en die huweliksformulier het oorspronklik in die 1566 uitgawe van die Nederlandse Psalmboek onder die redaksie van Petrus Datheen (1531-1588) verskyn. Datheen, ʼn leidende predikant van die Gereformeerde kerke in die Nederlande, het by die opstel van die formuliere baie geleen by bestaande liturgieë wat op Calvyn se Geneefse liturgie geskoei was. Die Gereformeerde kerke het hierdie formuliere by die Konvent van Wesel in 1568 aanvaar. Die formuliere vir die toepassing van die kerklike tug, die bevestiging van predikante, ouderlinge en diakens is tydens die Sinode van Den Haag in 1586 bygevoeg. Die formulier vir die bediening van die doop van volwassenes is by die Sinode van Dordrecht in 1618-1619 aanvaar.

ʼn Engelse vertaling van hierdie formuliere, wat oorspronklik in Nederland vir gebruik in die Engelse en Skotse vlugtelingkerke voorberei is, is later hersien en deur die Reformed Church in America aanvaar. Hierdie vertaling is in 1912 met geringe aanpassing en wysiging deur die Sinode van die Christian Reformed Church in North America aanvaar en is vir die eerste keer in die 1927-uitgawe van die Psalter gepubliseer, welke uitgawe deur die Protestant Reformed Churches aanvaar is.

Die drie vrae vir die openbare belydenis van geloof is in 1890 deur die Sinode van die Christian Reformed Church in North America en daarna ook deur die Protestant Reformed Churches aanvaar. Formuliere vir die bevestiging van teologiese professore en sendelinge is vroeg in die twintigste eeu opgestel en die vertaalde weergawes daarvan is deur die Protestant Reformed Churches saam met die Psalter aanvaar.

Die Kerkorde van die Protestant Reformed Churches maak die gebruik van hierdie formuliere verpligtend (sien artikels 4, 22, 24, 58, 62, 76, 78).

Vir meer bronne in Afrikaans, klik hier.