Inleiding tot die Liturgiese Formuliere
Die meeste van hierdie formuliere is tydens die
sestiende eeuse Reformasie opgestel. Die formuliere vir die bediening
van die doop aan kinders, die formulier vir die bediening van die
Heilige Nagmaal en die huweliksformulier het oorspronklik in die 1566
uitgawe van die Nederlandse Psalmboek onder die redaksie van Petrus
Datheen (1531-1588) verskyn. Datheen, ʼn
leidende predikant van die Gereformeerde kerke in die Nederlande, het by
die opstel van die formuliere baie geleen by bestaande liturgieë wat op
Calvyn se Geneefse liturgie geskoei was. Die Gereformeerde kerke het
hierdie formuliere by die Konvent van Wesel in 1568 aanvaar. Die
formuliere vir die toepassing van die kerklike tug, die bevestiging van
predikante, ouderlinge en diakens is tydens die Sinode van Den Haag in
1586 bygevoeg. Die formulier vir die bediening van die doop van
volwassenes is by die Sinode van Dordrecht in 1618-1619 aanvaar.
ʼn Engelse
vertaling van hierdie formuliere, wat oorspronklik in Nederland vir
gebruik in die Engelse en Skotse vlugtelingkerke voorberei is, is later
hersien en deur die Reformed Church in America aanvaar. Hierdie
vertaling is in 1912 met geringe aanpassing en wysiging deur die Sinode
van die Christian Reformed Church in North America aanvaar en is
vir die eerste keer in die 1927-uitgawe van die Psalter
gepubliseer, welke uitgawe deur die Protestant Reformed Churches
aanvaar is.
Die drie vrae vir die openbare belydenis van geloof
is in 1890 deur die Sinode van die Christian Reformed Church in North
America en daarna ook deur die Protestant Reformed Churches
aanvaar. Formuliere vir die bevestiging van teologiese professore en
sendelinge is vroeg in die twintigste eeu opgestel en die vertaalde
weergawes daarvan is deur die Protestant Reformed Churches saam
met die Psalter aanvaar.
Die Kerkorde van die Protestant Reformed Churches maak
die gebruik van hierdie formuliere verpligtend (sien artikels 4, 22, 24,
58, 62, 76, 78).
Vir meer
bronne in Afrikaans, klik hier.