Covenant Protestant Reformed Church
Bookmark and Share

Die Melgisédekse Priesterskap van Christus (3)

Ds. Angus Stewart

 

Sommige mense argumenteer dat Melgisédek (Genesis 14:18-20) Sem, die seun van Noag, was. Dit is ‘n gewilde siening onder die Jode. Sem was egter nie sonder ‘n geslagsregister nie (Hebreërs 7:3; vgl. Genesis 10-11). Ander dink weer dat Melgisédek ‘n engel, die Heilige Gees of Christus self was. Anders as wat sommige fundamentaliste aanvoer, was Melgisédek nie die persoon van Christus nie, want “Hy [was] gelykgestel aan die Seun van God” (Hebreërs 7:3; vgl. Genesis 10-11). As priester “volgens die orde van Melgisédek” is die Here Jesus nie letterlik Melgisédek nie (11).

In sy kommentaar op Hebreërs 7:3 sê Calvyn dat hierdie “raserny van drome” nie werd is om weerlê te word nie: “Die vermoedens van hulle wat sê dat Melgisédek een van die kinders van Noag was, te wete Sem, is nóg opreg nóg prysenswaardig... Ek dink verder nie dat dit nodig is om die raserny van die drome dat Christus self óf die Heilige Gees, óf enige engel hom toe reeds geopenbaar het, te weerlê nie.” Ook A. W. Pink verwerp al sulke spekulasies as “oneerbiedig” (An Exposition of Hebrews, p. 360).

Die mens Melgisédek was tipe van Christus as priester. Melgisédek was “’n priester van God, die Allerhoogste” (Genesis 14:18; Hebreërs 7:1). Dit is die eerste keer wat die Bybel beide die woorde “priester” en “God, die Allerhoogste” gebruik (Genesis 14:18). Die ware God is “hoog” selfs “die Allerhoogste.” Dit verwys na sy absolute voortreflikheid wat Hom ver bo, en teenoor, alle afgode plaas. Alle mense en engele moet Hom alleen dien!

As priester van die Allerhoogste God, het Melgisédek aan die Almagtige offerandes gebring en tot Hom gebid, ten behoewe van die mense wat hy bedien het. Jesus Christus is óns groot offer en voorspraak voor die Drie-enige God.

Melgisédek die priester het Abraham geseën (Genesis 14:19; Hebreërs 7:1). Dit was amptelike priesterlike werk (vgl. Numeri 6:22-27). As verteenwoordiger en priester van God, was die seën van Melgisédek priesterlik, gesaghebbend en profeties (vgl. Genesis 12:2-3). Net soos Abraham die seën van God deur Melgisédek nodig gehad het en ontvang het, só word ons ook geseën deur Jesus Christus, ons Priester vir ewig volgens die orde van Melgisédek (Psalm 110:4) en deur die Heilige Gees.

Melgisédek het tiendes van Abraham ontvang (Genesis 14:20; Hebreërs 7:2). Dit was deel van sy amptelike priesterlike werk en hy het later die diere wat as tiendes gegee is, as offerandes gebring.

Dit onderstreep die grootheid van Melgisédek: “Let nou op hoe groot hierdie man was, aan wie selfs Abraham, die aartsvader, ‘n tiende van die buit gegee het” (4). In Abraham is die tiendes van al sy kinders van die Ou Testamentiese dae, ook dié uit die stam van Levi, aan Melgisédek betaal want hulle was almal in die lendene van hulle vader Abraham (9-10). Offers is deel van ons eredienste vandag, want dit is deel van ons aanbidding van Jesus Christus, ons Melgisédekse priester, wat vir ons sondes gesterf het.

Nadat ons gehoor het dat Melgisédek Abraham geseën het en tiendes van hom ontvang het (Hebreërs 7:1-2), gaan Hebreërs 7:3 voort met die feit dat Genesis 14 nóg die ouers, nóg die nageslag, en ook nie die dood van Melgisédek, noem nie. Anders as die Levitiese priesters wie se geslagsregisters noukeurig bygehou is (bv. 1 Kronieke 6; Esra 7:1-5), want bewys van afstamming van Aäron was ‘n vereiste (2:61-63) en hulle dood het die einde van hulle priesterlike arbeid beteken, was Melgisédek (in terme van die Bybel se stilswye hieroor) “sonder vader, sonder moeder, sonder geslagsregister, sonder begin van dae of lewenseinde” (Hebreërs 7:3). Ook hierin is Melgisédek die tipe, want die priesterskap van Christus is oneindig of ewigdurend, Hy het geen opvolgers en het geen opvolgers nodig nie, want Hy het “die krag van die onvernietigbare lewe” (16).

Die teenstelling tussen die Aäronitiese priesters en Christus, die Melgisédekse priester “vir ewig” (Psalm 110:4), word gestel in Hebreërs 7:23-24: “En hulle het wel priesters geword in ‘n groot aantal, omdat hulle deur die dood verhinder is om aan te bly; maar Hy, omdat Hy vir ewig bly, besit ‘n priesterskap wat nie op ander oorgaan nie.”

Treffend is hier dat Melgisédek die enigste kind van God in die hele Ou Testament is wat beide priester én koning was (Genesis 14:18; Hebreërs 7:1-2). Geen koning in Israel was toegelaat om ‘n priester te wees nie. Toe koning Ussía in sy hoogmoed probeer het om op die reukaltaar in die Heilige van die tempel te offer, het die Allerhoogste hom met melaatsheid getref tot die dag van sy dood (2 Kronieke 16-21). So kon ook geen priester in Israel koning wees nie. Maar Jesus Christus, as priester vir ewig na die orde van Melgisédek, is priester én koning, ander as dié van die Aäronitiese priesterskap!

Die Heilige Gees leer ook dat Melgisédek selfs in sy naam en die plek waar hy gewerk het, tipe van Christus is (Genesis 14:18; Hebreërs 7:1-2). Die naam Melgisédek bestaan uit twee Hebreeuse woorde wat “koning” en “geregtigheid” beteken; en Jesus Christus is ons oneindig regverdige koning wat oor sy kerk én die goddelose regeer met volkome geregtigheid (2). Soos deur Melgisédek, die koning van Salem, wat “vrede” beteken getipeer, is ons Here ook die koning van vrede, wat vrede verkry het deur die bloed van sy kruis en dit aan ons skenk deur sy Gees (2). Laat ons op ons enigste priester en koning vertrou vir geregtigheid en vrede!

(Vertaal deur Nic Grobler. Die Bybelvertaling wat gebruik is, is die AOV van 1933/53)

Vir meer bronne in Afrikaans, klik hier.