Covenant Protestant Reformed Church
Bookmark and Share

Die Nuwe Verbond

 

Ronald Hanko

 

 

In Hebreërs 8:6-13 word die Nuwe Testament die nuwe verbond genoem. In werklikheid is die woord "testament" dieselfde woord as "verbond." Volgens Hebreërs 8 vervang die nuwe verbond die oue.

 

Uit Hebreërs 8:6-13 lei baie mense af dat daar wesensverskille tussen die ou en die nuwe is—dat hulle verkillende verbonde is. Baptiste kom tot dié gevolgtrekking ter verdediging van geloofsdoop en sê dat die verbond wat deur besnydenis beseël is, nie dieselfde is as die verbond wat met die doop beseël word nie. Pre-millenialiste kom tot ʼn soortgelyke gevolgtrekking ter verdediging van hulle geloof dat daar nog vir Israel ʼn spesiale aardse toekoms is (een verbondsbelofte vir Israel, ʼn ander vir die Nuwe Testamentiese gelowiges).

 

Ons glo dat die nuwe verbond die oue vervang net as ʼn nuwer en voller openbaring van die een ewige verbond van God. Die verskille is net verskille in administrasie. Hebreërs 8 maak dit self duidelik.

 

Eerstens gebruik vers 10 die gebruiklike verbondsformule—"Ek sal vir hulle ʼn God wees, en hulle sal vir My ʼn volk wees"—om aan te toon dat die nuwe verbond nie in wese van die oue verskil nie. Die verhoudinge is steeds dieselfde in beide die ou en die nuwe verbond.

 

Tweedens bevestig die verwysing na "my wette" in vers 10 dit. In die nuwe verbond word die wet nie verwyder nie, maar op ander tafels herskryf: die vleestafels van die hart (II Kor. 3:3). Wet en verbond gaan steeds saam. In der waarheid is die gee van die wet, hoewel nou verskillend geskryf, die maak of die verklaring van die verbond, beide in Deuteronomium 4:13 en in Hebreërs 8:10.

 

Derdens, in beide die ou en die nuwe verbond, volgens Hebreërs 8:11, is die wesentlike om God te ken, hoewel daar nou ʼn verskil is in hoe ons God ken. Hierdie vers praat van die Nuwe Testament as ʼn tyd van verwerkliking en vervulling. Dit is daarom ʼn tyd waarin God se volk hom direk ken en nie meer deur bemiddeling van priesters en Leviete nie (Mal. 2:5-7).

 

Die nuwe verbond is daarom nie iets heeltemal verskillend nie, maar nuut op dieselfde wyse as wat die hemel en die aarde nuut sal wees wanneer Christus weer kom. Die hemel en aarde word nie vernietig nie, maar nuutgemaak.

 

Die verbygaan van die ou verbond bring dus nie ʼn heel nuwe verbond nie, maar ʼn beter openbaring van daardie een verbond waarin God die God is van sy volk en hulle as sy eie neem. Dit is die laaste en volste openbaring van die verbond deur die koms van die dinge wat belowe is, eerder as deur die afbeeldings en tipes van die ou verbond. Tot die verbond behoort die wet, nie as ʼn soort knegskap nie, maar as ʼn hulp wat aan ons toon hoe ons die grote God van ons verlossing te beter in woord en daad kan verheerlik en kan dank.

 

Die nuwe verbond is "beter", soos dit in Hebreërs 8:6 staan, en meer glorieryk, want dit bring aan ons Christus, in plaas van net die tipes van Christus. Net die finale volvoering van die verbond sal heerliker wees.

 

Vertaal uit Ronald Hanko se Doctrine According to Godliness (Grandville, MI, VSA: Reformed Free Publishing Association, 2004), pp. 179-180.

 

(Vertaal deur Nic Grobler. nicg@absamail.co.za

Die Afrikaanse vertaling van die Bybel wat gebruik is, is dié van 1933/1953)

 

Vir meer bronne in Afrikaans, klik hier.