Covenant Protestant Reformed Church
Bookmark and Share

Een Verbond

Ronald Hanko

 

As God se verbond ewig is, soos die Skrif dikwels sê dit is, dan kan daar net één verbond wees. ‘n Tydelike verbond kan vervang word, maar God se verbond is nie tydelik nie.

Ook as die verbond onbreekbaar is, kan daar net één verbond wees. Dat dit onverbreeklik is, getuig die Skrif in Rigters 2:1, Psalm 89:34, Jeremia 33:20,21 en op baie ander plekke. Daarom is dit die enigste verbond.

As die verbond God se verbond is, en God se verbond is die verhouding tussen die drie persone van die Drie-eenheid, moet dit ook daarom een wees, want God is een.

Ons hou die een verbond teenoor Darbyisme met sy meerdere verbonde. Ons leer ook een verbond teenoor die standpunt van die Baptiste wat, ten minste wat die verbondsteken betref, die ou verbond onderskei van die nuwe verbond. Ons wys ook die ouer leer, dat die "werkverbond" met Adam ‘n afsonderlike en eiesoortige verbond is, af.

Dit word bewys deur die vele Skrifgedeeltes wat van ‘n ewige verbond (enkelvoud) praat. Ons verwys na tekste soos Genesis 17:7, 2 Samuel 23:5, Psalm 105:8-10, Esegiël 16:60-62 en Hebreërs 13:20.

Maar wat van al die gedeeltes wat van verbonde in die meervoud praat? (Rom:9:4; Gal. 4:24; en ander). En wat van die gedeeltes wat van ‘n ou en ‘n nuwe verbond praat? (Jer. 31:31-33; Heb. 8:6-13).

Tensy ons bereid is om te aanvaar dat die Bybel homself kan weerspreek (en dat daarom God Homself weerspreek) moet ons hierdie gedeeltes versoen met die ander wat van een Verbond praat. Die Skrif help ons om dit te doen met die taal wat dit gebruik.

Die skrif praat daarvan dat God aan sy verbond dink (Lev. 26:42; Luk. 1:72), sy verbond sluit of gee (Num. 25:12; Hand. 7:8), dit verkondig (Deut. 4:13) en dit hou (1 Kon 8:23). Hierdie uitdrukkings help ons verstaan dat wanneer God sy verbond oprig of instel, Hy nie met die ou verbond wegdoen en ‘n totaal nuwe verbond inbring nie, maar dat Hy net ‘n nuwe openbaring gee van sy een genadeverbond.

Hierdie een verbond kan nooit iets anders wees as ‘n genadeverbond nie. Daar is geen ander grondslag waarop ons in ‘n verhouding met God kan lewe anders as sy onverdiende guns aan ons nie. Selfs Adam, al kon hy deur gehoorsamheid ‘n verbondsverhouding met God voortsit, was nie in daardie verhouding uit verdienste nie.

Ons wys dus die leer af dat die verbond met Adam ‘n werksverbond was wat gegrond was op verdienste, en nie op genade nie. In besonder verwerp ons die idee dat Adam in daardie verbond die ewige lewe kon verdien deur sy gehoorsaamheid.

Lukas 17:10 doen weg met enige moontlikheid van verdienste wanneer dit sê: "So ook julle, wanneer julle alles gedoen het wat julle beveel is, sê dan: Ons is onverdienstelike diensknegte, want ons het gedoen wat ons verplig was om te doen." Die ewige verbond van God is enkel uit genade.

Vertaal uit Ronald Hanko se Doctrine According to Godliness (Grandville, MI, VSA: Reformed Free Publishing Association, 2004), pp. 63-64.

(Vertaal deur Nic Grobler. 
Die Afrikaanse vertaling van die Bybel wat gebruik is, is dié van 1933/1953)