Covenant Protestant Reformed Church
Bookmark and Share

Die Een Middelaar tussen God en Mens

Ds. Angus Stewart

 

Wat is ’n middelaar? ‘’n Middelaar is iemand wat tussen twee of meer partye wat teenoor mekaar vyandiggesind is, kom, die vyandiggesindheid wegneem en hulle vriendskap herstel.

Ons Here Jesus Christus is nie ’n blote diplomatieke of politieke middelaar (wie se taak is om geskille tussen state of burgerlike regerings of twee of meer faksies in ’n staat by te lê) of ’n familie-middelaar (wat eenheid tussen een of meer partye in ’n familie wil bewerkstellig) of ʼn huweliks-middelaar (wat verhoudinge tussen huwelik partye wil herstel) nie. 1 Timótheüs 2: 5 praat van ’n godsdienstige middelaar, ’n middelaar tussen die volkome heilige God en totaal verdorwe mense: “daar is een God en een Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus.”

Ons godsdienstige middelaar, Jesus Christus, is sonder twyfel 'n verbond-middelaar. Hy neem vyandskap tussen God en mense – die skuld lê geheel en al aan ons kant – weg en herstel ons gemeenskap met Jehovah. Aangesien die verbond vriendskap en gemeenskap met God is, is die Here Jesus ons verbond-middelaar. Daarom noem die Hebreërboek Hom “Middelaar van ʼn nuwe testament [of verbond]” (9:15) en “Middelaar ... van ʼn beter verbond” (8:6; vgl. 7:22).

Waar is of was Christus ons middelaar? In die hemel? Ja. Ook op die aarde? Ja. Wanneer is of was Hy ons middelaar? Nou? Ja. En tydens sy bediening omtrent 2000 jaar gelede? Ja. Dit word duidelik in 1 Timótheüs 2 geleer. Dit was as middelaar (5) dat Jesus Christus twee millennia gelede “Homself gegee het as ʼn losprys” (6).

Hieruit is dit glashelder dat die Here Jesus, ons godsdienstige- en verbond-middelaar, vriendskap tussen God en ons bring, nie bloot as 'n leermeester (asof diepsinnige woorde alleen dit sou kon doen) of as 'n morele hervormer (asof ons etiese hervorming alleen ons na Jehovah sou kon bring) of as 'n toegewyde tussenganger (asof Sy innige gebede vir ons, op sigself, genoeg is om ons met die Allerhoogste te versoen) nie. Ons godsdienstige en verbond-middelaar herstel ons gemeenskap met die lewende God deur sy offer vir ons sonde aan die kruis, want ons middelaar (5) het “Homself gegee ... as ʼn losprys” (6). Só verbly die Skrif hom oor “die bloed van die ewige testament [verbond]” (Hebreërs 13:20).

Let op die volgorde waarin 1 Timótheüs 2: 5 die partye tussen wie Christus bemiddel, noem: “daar is een God en een Middelaar tussen God en die mense.” Daar staan nie dat Christus tussen “die mense en God” bemiddel nie. Dit sê dat ons Saligmaker “tussen God en die mense” bemiddel.

As dit ons was, om vir 'n oomblik hipoteties te praat, wat dié vers geskryf het, sou ons dit waarskynlik andersom gestel het: “een middelaar tussen die mense en God,” omdat ons, helaas, méns gesentreerd is. Maar in sy wysheid skryf die Heilige Gees “een Middelaar tussen God en die mense”, om daarmee die goddelike inisiatief en genade van God se koms deur die Middelaar wat Hy aangestel het, te beklemtoon.

Ten einde reg te laat geskied aan ons behoefte aan ’n menslike middelaar, beklemtoon 1 Timótheüs 2: 5 die menslikheid van Christus: “daar is een God en een Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus.” Hoewel Christus God is, en moet wees, om ons te kan red, moet Hy ook mens wees ten einde op aarde te lewe, aan die kruis te sterf en ons in die hemel te verteenwoordig.

1 Timótheüs 2:5 beklemtoon die sonderlinge uniekheid van ons Middelaar: “daar is een God en een Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus.” Waarom? Jesus Christus is só groot en heerlik en magtig en suksesvol, dat net een middelaar nodig is! Hy is tewens volledig God en volledig mens en daarom alleen in staat om tussen beide te bemiddel. Deur sy plaasvervangende gehoorsaamheid en sy bepaalde versoening vir almal wat die Vader Hom gegee het, en deur sy onweerstaanbare genade aan ons te gee, bring Hy gemeenskap tussen die Drie-enige God en sy kerk. Dit is die salige eenheid en gemeenskap tussen Jehovah en elkeen van sy skape! Daar is “een Middelaar tussen God en die mense,” wat die hele pad van die lewende God na ons toe gekom het en wat ons die hele pad terugneem na die hemelse Vader, in die liefdevolle vriendskap van die genadeverbond.

Daarom is daar nie twee of meer middelaars nie. Maria, hoewel 'n vroom vrou en die moeder van ons Here na sy menslike natuur, is nie 'n middelares tussen God en die mense nie. Die heiliges, wel ons broeders en susters in Christus, bemiddel nie tussen Jehovah en ons nie. Die kerk, hoewel dit die “pilaar en grondslag van die waarheid” is, is nie 'n middelaar tussen die Almagtige en die mense nie. Ook nie ons werke of die gewaande vrye wil van die mens nie! Die vervalsing van ander middelaars naas Christus, is wantroue, en ongeloof, in die vleesgeworde Seun van God en verwerping van sy algenoegsame middelaars amp. Daarom is dit minagting van Hom en sy werk aan die kruis.

Om tot Maria of die heiliges te bid of om die kerk of enigiets anders as middelaar te beskou, is veelgodery. Hoe beteken dit dat dit is om meer as een God te hê? Die getal “een” kom twee maal in 1 Timótheüs 2: 5 voor: “een God” en “een Middelaar.” As jy een Middelaar het, aanbid jy een God. As jy twee middelaars het, dien jy twee gode. As jy drie middelaars het, het jy drie gode. En so voort. Waarom? Omdat godsdienstige verering wat vir God gereserveer is, soos aanbidding, wat aan 'n gewaande middelaar toegebring word, hom of haar of dit “vergoddelik.”

Vanuit 'n ander hoek beskou, is om tot, of deur, meer as Christus te bid, in werklikheid 'n vorm van ateïsme. Veelgodery is om baie gode te vereer; ateïsme is om geen God te hê nie. Hulle wat meer as die enigste Middelaar aanbid of vertrou, verhef hulle nie tot, en het geen gemeenskap met, die Skepper en Heer van alles nie. Hulle ken God nie!

Om God deur iemand anders as deur Christus alleen te nader, is 'n dubbele vermeerdering: vermeerdering van middelaars én vermeerdering van gode. Dit is ook dubbele vermindering, want jy verloor Christus, die enigste Middelaar én die enige ware God!

Laat ons dan alleen in die heerlike, enigste middelaarskap van Christus glo en deur Hom alleen bid. Só kom ons tot die enigste ware en lewende God en geniet ons vergewing van ons sonde en verbondsgemeenskap met Hom!

(Vertaal deur Nic Grobler. Die Bybelvertaling wat gebruik is, is die AOV van 1933/53)

Vir meer bronne in Afrikaans, klik hier.