Covenant Protestant Reformed Church
Bookmark and Share

Die Oorsprong van die Skrif (1)

Ds. Angus Stewart

 

In die vorige uitgawe van die News het ons gesien die Skrif is die “woord wat baie vas is” (2 Petrus1:16-19). Die Woord is vas want die oorsprong daarvan is nie by die mens nie, maar by God: “want geen profesie is ooit deur die wil van ‘n mens voortgebring nie, maar, deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek” (21).

“Profesie” (19, 20, 21) is nie net dien Ou Testamentiese (OT) profetiese geskrifte, soos Hosea nie, maar dit verwys na die hele OT se voorspellings perspektief. Reeds vanaf die moederbelofte in Genesis 3:15 kan ons sien dat die Hele OT heenwys na Christus en sy universele kerk. Die wet, byvoorbeeld, voorspel Christus as die groot koning (Númeri 24:17) terwyl die Psalms sy heerskappy oor die nasies (22:27-31) en sy wederkoms om die wêreld te oordeel (50:1e.v.) profeteer. Daarom sê Petrus oor die voorspellings van die OT “geen profesie is ooit deur die wil van ‘n mens voortgebring nie, maar, deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek (2 Petrus 1:21).

Ons moet hieroor duidelik wees: die mens is nie die opsteller van die Skrif (OT óf NT) nie. Die mens het nie bepaal wat gesê is, of hoe dit gesê is, of met welke woorde dit gesê is nie, want “geen profesie is ooit deur die wil van ‘n mens voortgebring nie” (21). Glo u dit? U moet, want dit is 'n eerste beginsel by die verstaan van die Skrifte dat, “julle veral dít moet weet, dat geen profesie van die Skrif ... ooit deur die wil van ‘n mens voortgebring nie” (20, 21). Sonder hierdie sleutel sal u nie die Bybel of die Redder wat in die blaaie daarvan geopenbaar word werklik verstaan nie.

Skrif kritici verwerp hierdie eerste beginsel vir die verstaan van die Bybel. Hulle hou vol dat die oorsprong van die Bybel by die mens is (hoewel God dalk so ‘n bietjie gehelp het). Hulle bevraagteken die datering van die OT boeke, veral die profetiese boeke wat hulle wat hulle in 'n tydperk ná die vervulling van die profesieë plaas. Hulle ontken voorspellende profesie vanweë hulle vooropgestelde naturalisme. Waar Petrus skryf “geen profesie is ooit deur die wil van ‘n mens voortgebring nie,” sê hulle,” die Hebreeuse boeke het deur die wil van die mens ontstaan baie later as wat hulle voorgee.” Volgens hulle bestaan die Bybel uit “kunstig verdigte fabels” (16).

Omdat die Bybel nie uit die wil van die mens spruit nie, verkil dit van alle ander geskrifte. Dit verskil van koerante en tydskrifte, skool teksboeke en romans. Dit verskil ook boeke selfs deur Christene geskryf. Alle boeke word deur die voorsienigheid van God deur mense geskryf, maar die Bybel alleen is geskryf deur goddelike inspirasie. Die Ramaphala van die Boeddhisme, die Bhagavad-Gita van die Hindoeïsme, die Analecta van Confucius (wat nie op goddelike inspirasie staatmaak nie) en die Koran van Islam (wat dit wel doen) kom uit die wil van 'n mens. Die Bybel alleen is dus die ‘hamer van God.’

(Vertaal deur Nic Grobler. Die Bybelvertaling wat gebruik is, is die AOV van 1933/53.)

Vir meer bronne in Afrikaans, klik hier.