Covenant Protestant Reformed Church
Bookmark and Share

Verseël met die Gees (1)

Ds. Angus Stewart

 

Efesiërs 1:13 sê dat die gelowiges “verseël is met die Heilige Gees.” Wat is 'n seël? Gewoonlik is 'n seël 'n stuk was of lood of papier waarop 'n inskripsie gestempel is. 'n Seël verteenwoordig gesag. Farao het, byvoorbeeld, sy seëlring aan Josef, wat hy as tweede in gesag oor sy koninkryk aangestel het, gegee (Gen. 41;42). Só kon Josef die koninklike gesag van Farao as sy amptelike verteenwoordiger, uitoefen. Tweedens word 'n seël gebruik om 'n dokument te waarmerk. Jeremia het 'n stuk grond in Anatot gekoop (as 'n aanduiding daarvan dat Juda uit die Babiloniese ballingskap sou terugkeer). Die koopbrief is deur getuies verseël (Jer. 32:11-14). Derdens word 'n seël as sekuriteitsmaatreël gebruik. 'n Mens dink hier aan ʼn verseëlde dokument wat net deur 'n persoon wat daartoe gemagtig is, oopgemaak kan word (soos die boekrol met sewe seëls in Openbaring 5, wat net deur die Lam wat geslag is, oopgemaak kon word). Vandag nog word seëls vir soortgelyke doel gebruik: as teken van gesag of 'n waarmerk, soos by getuienis en 'n waarborg.

Wat nou van die verseëling deur die Gees in Efesiërs 1:13? Alles wat hierbo genoem is, is van toepassing. Hulle wat verseël is, is die ware, egte kinders van God, wat die naam van God as profete, priesters en konings dra. Die Gees getuig dat ons kinders van Christus is. Ons is verseël as diegene wat deur die almagtige genade van God vir ewig by Hom veilig is.

Onderliggend hieraan en meer direk in verband met ons verseëling deur die Gees, is eienaarskap en besit. Die Heilige Gees het ons verseël, want deur die verlossing van Christus, besit God ons en behoort ons aan Hom. Met daardie seël op ons afgedruk, dra ons die waarmerk van ware Christene; ons is die verteenwoordigers van God; ons dra die getuienis van die Heilige Gees in ons harte; en ons is veilig, want ons is die eiendom van die Drie-enige God.

Jy, gelowige, is met die seël van God gestempel! Die inskripsie van hierdie seël is, “Jy behoort aan My”! Hoewel “verseëling” moontlik vir jou iets nuuts is, behoort die begrip nie te wees nie. Dit is die leer in die heel eerste Sondagsafdeling van die Heidelbergse Kategismus: Dat ek nie aan myself nie, maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus, wat met sy kosbare bloed vir al my sondes ten volle betaal het, behoort. Dit, bely ons, is ons “enigste troos in lewe en in sterwe.”

Hoe word dié seël met die Heilige Gees verbind? God verseël ons met die Gees én die Gees verseël ons, want die Heilige Gees is self die seël van God in ons. Die Heilige Gees, wat in elke gelowige persoonlik teenwoordig is, getuig aan ons: “Jy behoort aan die Drie-enige God! Hy besit jou, liggaam en siel. In Jesus Christus sal jy altyd aan Hom behoort”. Dit is wat in teologiese terme bedoel word met ons sekerheid, die sekerheid van ons verlossing.

Maar waarom verseël en verseker die Heilige Gees – en nie die Vader of die Seun nie – ons ons van ons saligheid? Omdat die Heilige Gees in die Heilige Drie-eenheid die band is wat die Vader en die Seun verenig met 'n heilige, persoonlike band van liefde en gemeenskap. In die verlossingswerk is die Gees daarom die band wat ons in Christus Jesus aan die drie-enige God verbind, ons aan Hom heilig, toewy en bind. Die Gees wat ons aan die lewende God bind, is dieselfde Gees wat aan ons van hierdie band getuig. Hoe 'n getuie is Hy nie! 'n Lewende, persoonlike heilige seël wat in ons gewete getuig dat ons vir ewig in Christus is! Dít is sekerheid, versekering van ons saligheid!

Die verseëling met die Heilige Gees moet gesien word in die konteks van die een lang sin in Efesiërs 1:3-14; 'n heerlike lofsang en 'n lofprysing aan God vir al die geestelike seëninge (seëninge van die Heilige Gees) wat ons in Jesus Christus het, kragtens die ewige, onvoorwaardelike uitverkiesing van God (vs. 3-4).

Die Gees getuig aan ons dat ons deur God uitverkies en voorbestem is. Daarom behoort ons aan God van voor die grondlegging van die wêreld (vs. 4-5). Die Gees van aanneming getuig aan elke gelowige: “Jy is die seun (of dogter) van God.” Die Gees verseker ons, wat deur die bloed van Christus verlos is, dat ons die eiendom van God is en dat al ons sondes uitgewis is (vs. 7). Die Gees getuig in ons dat ons in die groot raadsplan van God wat alle dinge in die hemel en op die aarde in Christus verenig, ingesluit is en dat ons gewy is tot die lof en heerlikheid van die genade van God (vs. 6, 12, 14). Dít is wat die Heilige Gees, die seël van God in ons, deur die Woord aan elke man, vrou en kind getuig en verseker!

Die tema van Efesiërs is “Die Kerk as die Liggaam van Christus.” Om reg te funksioneer as die liggaam van Christus in erediens, getuienis, onderlinge opbou en gemeenskap van die heiliges, moet die hele gemeente en elke gelowige hierdie verseëling van die Heilige Gees ken en ervaar. Hoe kan ons tot ons “Vader wat in die hemel is” bid, sonder dié versekering dat ons aan Jesus Christus behoort? Hoe kan mens God prys en uit dankbaarheid vir jou verlossing goeie werke doen as jy nie verseker is dat Christus al jou sonde aan die kruis gedra het nie? U moet verstaan hoe noodsaaklik en belangrik hierdie geseënde werk en bediening van die Gees is, wanneer Hy die waarheid van die Bybelse en Gereformeerde evangelie in ons harte verseël en ons verseker dat ons aan ons getroue Saligmaker behoort!

(Vertaal deur Nic Grobler.
Die Bybelvertaling wat gebruik is, is die AOV van 1933/53.)

Vir meer bronne in Afrikaans, klik hier.