Covenant Protestant Reformed Church
Bookmark and Share

Die Vyf Punte van Calvinisme ("T.U.L.I.P.")

Ds. Barry Gritters

 

Lewe ons voorouers se geloof ook in jou lewe? In jou kerk? Ons sing die lied "Die geloof van ons voorouers leef voort …" en daardie geloof leef beslis voort. Maar die vraag is: "Waar word hierdie geloof uitgeleef en bely?" en "Wat is die geloof van ons voorouers?" Dit is meer as 350 jaar gelede uitgespel deur ons kerkvaders by die Sinode van Dordtrecht. In Engels word die bekende akroniem, TULIP, gebruik om ons te help onthou wat die Bybel leer volgens ons voorouers:

 

Dood in sonde?

T – Totale Verdorwenheid (Total Depravity)

Dit beteken eenvoudig die MENS is DOOD. Die Bybel sê dat ek en jy dood is deur die misdade en sonde (Ef. 2:1-6), tensy ons weer gebore word. DOOD!!! En wat meer is, die man of vrou wat dood is deur sonde haat God en "wat sy vlees bedink is vyandskap teen God" (Rm. 8:7). Sy wil is hardnekkig verhard teen God. Hierdie Bybelse idee verskil baie van die moderne idees oor salighied.

Oordink wat dit beteken:

1. Kan ‘n mens goeie werke doen, as hy nie ‘n wedergebore Christen is nie? Nee. "alles wat nie uit die geloof is nie, is sonde" (Rm. 14:23).

2. Kan ‘n mens begeer om wedergebore te word en instruksies volg "hoe om dit te doen?" Nee, want dit sou wees soos om te sê ‘n man in ‘n graf kan begeer om uit die graf te kom, of instruksies volg oor hoe om lewendig te word. Dit sou wees soos om hom uit die graf te probeer lok. "Dit is die Gees wat lewend maak, die vlees is van geen nut nie" (Jn 6:63).

3. Kan enige mens "Christus aanneem" as sy persoonlike Saligmaker, sodat hy daarna gered word? Natuurlik nie. Om Christus aan te neem is ‘n goeie werk wat net deur ‘n Christen gedoen kan word. Slegs NADAT God die mens lewendig maak, kan hy en sal hy Christus aanneem. "Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie" (Jn 6:44).

4. Kan saligheid aan enigiemand "aangebied" word? Dit is sekerlik onmoontlik. Jy kan net sowel kos vir ‘n dooie man aanbied as saligheid vir ‘n dooie sondaar (Ef. 2:1-2).

NET GOD KAN ONS LEWENDIG MAAK, EN GOD DOEN DIT SOEWEREIN – SONDER ONS HULP EN SONDER ONS VERSOEK. "Die heil behoort aan die Here" (Jona 2:9) van begin tot einde. Dit is die geloof wat ons predik, want dit is Bybels, want dit is ons vadere se GELOOF, wat ons liefhet, wat steeds in ons hart bly lewe, want dit gee aan God al die eer!

 

Nie My Keuse Nie

U – Onvoorwaardelike Uitverkiesing (Unconditional Election)

Dit beteken bloot: God kies om aan sekere mense die ewige lewe te gee, sonder om te soek na enigiets goeds in hulle as voorwaarde om hulle lief te hê en te red.

Voordat enige man of vrou gebore word—trouens, voor die wêreld gemaak is—het God besluit wie gaan hemel toe en wie nie. Voordat hulle goed of sleg gedoen het, het God sekere mense uitverkies om sy vok te wees en ander verwerp.

"VOORWAARDELIKE uitverkiesing" sou beteken dat God diegene kies wat Hom eerste liefgehad en gekies het. Maar die Bybel sê: "Julle het my nie uitverkies nie, maar Ek het julle uitverkies" (Jn. 15:16). (Kyk asseblief ook na Rm. 9:11-21.) Hd. 13:48 sê: "daar het gelowig geword almal wat verordineer was tot die ewige lewe." Slegs as ons hierdie taal praat, word die os voor die wa ingespan. VOORWAARDELIKE uitverkiesing plaas die wa voor die os, want dit sê dat die mens glo en EERS DAN verordineer word tot die ewige lewe. Lees Jn. 10:26 deeglik vir nog ‘n duidelike "os voor die wa" vers. Kan mens jouself indink wat die gevolge van die ontkenning van hierdie leer sou beteken? As ons in ag neem dat ons niks goeds kan doen voor ons gered word nie (Jn. 15:5; Ef. 2:1-6), is die enigste gevolgtrekking dat ons God nooit kan kies nie. En nooit sou nie. En nooit gered sou word nie.

Maar God is soewerein en kies wie Hy wil kies. En na Hy ons gekies het, kies ons Hom elke dag. Alles wat ons is en alles wat ons het word aan ons gegee deur God.

Weereens, dit is ons vadere se geloof, wat ons liefhet, wat steeds in ons hart bly lewe, want dit gee aan God al die eer!!

 

Vir Alle Mense?

L – Beperkte Versoening (Limited Atonement)

Die wonderlike boodskap van die evangelie, wat so baie met dringendheid na ver lande dra, is dat Christus versoening gebring het deur sy dood. Maar op twee kritieke punte word hierdie boodskap so erg verdraai dat dit nie meer die evangelieboodskap dra nie.

DIE EERSTE VERDRAAIING is aangaande wat Christus se dood gedoen het. Die Bybelse waarheid van die versoening is dat sy dood vir sondes betaal het. Tog leer so baie vandag dat Christus se dood slegs ‘n voorbeeld was wat ons moet navolg, en as iemand bloot sy voorbeeld volg, sal hy gered word. Of daar word geleer dat Christus se dood nie eintlik vir spesifieke sondes betaal het nie, maar dat dit die moontlikheid skep dat vir alle sondes betaal kan word.

Maar die Bybel sê dat Christus se dood aan die kruis werklik vir sondes betaal het. Hd. 20:28 sê dat God die kerk gekoop het met sy eie bloed. Sien ook Mt. 26:28, Heb. 7:26-27.

DIE TWEEDE VERDRAAIING van hierdie Bybelse waarheid is dat Christus vir alle mense gesterf het. Sommige leer dat Christus dit moontlik gemaak het vir alle mense om gered te word. Maar die vrae wat moet gevra word is: "As Christus vir alle mense gesterf het, hoekom word alle mense dan nie gered nie?" Is God nie instaat om te doen wat Hy wil nie?" "Skort daar iets met Christus se dood?" "Moet die mens eers begeer om gered te word?" Maar ‘n mens wat totaal verdorwe is kan nie die wil hê om gered te word nie. Hy haat God en wil niks te doen hê met Christus se dood nie. Dit mag dus nie gesê word dat Christus vir alle mense gesterf het nie.

Die Bybel sê dat Christus sy lewe neergelê het vir sy skape, en net vir hulle (Jn. 10:11). Die VERSOENING is BEPERK tot die uitverkorenes van God. Vir elke sonde van elkeen van Christus se skape is betaal. Slegs vir daardie sondes is betaal. Dit is die enigste evangelie, want dit is die Bybel.

 

Word ons teen ons sin die hemel in gesleep?

I – Onweerstaanbare genade (Irresistible Grace)

Die vierde Bybelse waarheid van die vyf punte van Calvinisme leer dat God se genade om ‘n mens te red nie weerstaan kan word nie. Genade is God se vrye krag wat iemand onverdiend red van sy sonde wat ons andersins hel toe sou lei. Genade bring hom wat van nature in die ewige hel sou beland, in die hemel.

Daardie genade is onweerstaanbaar. Dit beteken dat as God sy genade aan jou gee, daar niks ter wêreld is wat jy kan doen om dit te weerstaan en God teë te gaan in sy voorneme om jou in die hemel te kry nie. Die sekerheid van die saligheid van God se uitverkorenes word gesien in Jn. 6:37 waar Jesus sê: "Al wat die Vader My gee, sal na My toe kom ..." Daar is geen twyfel dat hulle gered sal word nie. Vers 44 sê dat diegene wat na God toe kom, kom omdat God hulle trek. Nie ons wil nie, maar God se wil is eerste en magtig.

Nou maak sommige ‘n bespotting van hierdie waarheid van die Bybel en sê dat dit ‘n mens teen sy wil die hemel insleep. "Hy skop en skree heelpad tot in die hemel." Maar dit is nie hoe die Bybel God se genade openbaar nie. God maak sy kinders "gewillig op die dag van sy krygsmag" (Ps. 110:3). Vir ‘n wonderlike illustrasie van daardie waarheid, neem die bekeerde Apostel Paulus. "Deur die genade van God was hy wat hy was" (I Kor. 15:10). En dadelik na sy bekering het hy gewilliglik gesê: "Here, wat wil U hê moet ek doen?" (Hd. 9:6). Dit was sekerlik nie teen sy wil nie.

God se genade is soet en onweerstaanbaar. Hy laat ons dit bemin en niks anders begeer nie. Hy is so onweerstaanbaar vir ons soos ‘n man vir sy pasgetroude bruid. Kom saam en kom luister na God se wonderlike genade in Christus wat ons op elke dag van die Here verkondig.

 

Mag ons nou maar leef soos die Duiwel?

P – Volharding van die Heiliges (Preservation of the Saints)

Die laaste van die vyf punte van Calvinisme leer dat God sy kinders behoed sodat hulle nooit kan verlore gaan nie. Om dit eenvoudig te stel, beteken dit eenvoudig: "As jy eenmaal gered is, is jy altyd gered."

God se Woord is vol bewyse vir hierdie pragtige waarheid. En alhoewel baie dit ontken en jou vertel dat jy ‘n klomp keer kan verlore gaan en weer gered word, en daarom nooit seker kan wees van jou saligheid nie, sê die Bybel anders. As Hy vertel van sy uitverkore skape, sê Jesus: "En Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie, en niemand sal hulle uit my hand ruk nie" (Jn. 10:28). Sien Jn. 6:39; 17:2, 11-12; Rm. 8:37-39; II Tm. 1:12; 4:18 ens.

Sommige maak beswaar teen hierdie leer omdat hulle meen dit gee mense "vleeslike sekerheid" van hulle saligheid. Daarvolgens sou ek "soos die duiwel leef" as ek weet dat niks my kan hel toe stuur as God my gered het nie. Maar hulle is nie Christene nie. Ook verstaan hulle nie hierdie waarheid nie. Want hierdie waarheid hou ook in dat die "HEILIGES SAL VOLHARD." Diegene wat nooit verlore sal gaan nie, is heiliges. Hulle is heilig. En hulle word krag gegee om heilige lewens te lei. Hulle "hou aan goed doen." Enigiemand wat sê hy kan maar "lewe soos die duiwel" het nog nie die reddende krag van Christus ervaar nie en hulle ken nie die betekenis van Flp. 1:6 nie: "Hy wat ‘n goeie werk in julle begin het, sal dit voleindig op die dag van Jesus Christus." God sal aanhou om goeie werke in ons te werk todat Christus kom. Moenie anders dink nie.

Is daar enige hoop vir Christene sonder hierdie leer? Wat ons nodig het, is nie om deur angs na die hemel gedryf te word nie, maar troos. Want ons weet dat as dit van die Christen afgehang het, sou hy nooit die saligheid kon behou nie. Jy ken jouself!!! Daar is geen krag in my buiten God se genade nie.

(Vertaal deur Adi Schlebusch. adi.schlebusch@yahoo.com

Die Afrikaanse vertaling van die Bybel wat gebruik is, is dié van 1933/1953)

Vir meer bronne in Afrikaans, klik hier.