Covenant Protestant Reformed Church
Bookmark and Share

Die stem van een wat roep in die woestyn (3)

Ds. Angus Stewart

 

Waarom het daar in die voorsienigheid van God, deurgaans sulke buitengewone groot skares gekom om na Johannes die doper te luister? Uit die staanspoor moet ons besef dat dit niks te doen gehad met wonders wat Johannes gedoen het nie. Mense het na Jesus en sy dissipels gestroom, deels vanweë die wonders wat hulle gedoen het, maar dit was nie die geval met Johannes die Doper nie. Hy het geen magtige wonders of self maar een teken verrig nie, want Johannes 10:41 sê, “Johannes het wel geen teken gedoen nie.” Mens wonder hoe die Pinkstergroepe dit sou verduidelik. Miskien was Johannes se geloof nie groot genoeg nie! Miskien het hy nie genoeg van die Heilige Gees gehad nie? Johannes die Doper was ewewel van sy moederskoot af met die Gees vervul (Lukas 1:15). Self in die Bybelse tyd toe baie in die buitegewone ampte van profeet en apostel wonders verrig het, is nie aan alle profete dié kragte gegee nie. Ons lees byvoorbeeld nie dat Jeremia of Hosea ’n enkele wonder gedoen het nie. Johannes die Doper was die grootste van die Ou Testamentiese profete en die voorloper wat die Messias aangekondig en ontmoet het (Mattheüs 11:11), tog het hy geen wonders gedoen nie.

1) Een groot faktor wat ’n rol gespeel met die massiewe skares wat Johannes die Doper getrek het, was die 400 ‘stil’ jare. Sedert die dood van Maleagi, het daar vir vier eeue nie ’n profeet in Israel opgestaan nie. Gemeet aan die geskiedenis van die Britse eilande, sou dit ’n tyd beteken wat ons terugneem na die dae van koning James I (1603-1625) of voordat die Pilgrim Fathers in New England aan wal gestap het! Hoe innig moes die Jode nie Psalm 74:9 tydens daardie 400 jaar gesing het nie: “Ons sien nie ons tekens nie; daar is geen profeet meer nie, en by ons is daar niemand wat weet hoe lank nie.” Jy sal sê, “wat van die geïnspireerde uitsprake van Sagaria, Maria en Elisabet in Lukas 1, of die van Simeon in Lukas 2?” Dit was eenmalig en nie aanduidend dat hulle ’n voortgaande predikende profetiese amp gehad het nie. Johannes die Doper was die eerste profeet in die Nuwe Testamentiese Skrifte (400 jaar na die laaste Ou Testamentiese profeet) en Johannes die apostel was die laaste profeet in die Nuwe Testamentiese Skrifte (en hy is reeds meer as 1,900 jaar gelede oorlede).

2) ’n Verdere element wat help om die groot skares wat Johannes die Doper se bediening bygewoon het, te verduidelik, is die toename in die Messiaanse verwagting. Die Ou Testament voorspel dikwels nie alleen die koms van Gods Koninkryk nie, maar ook die koms van ’n individuele Redder of Verlosser. Hy is die saad van die vrou, Silo, die profeet soos Moses, die profeet volgens die orde van Melgisedek, die seun van Dawid, die Loot, die lydende kneg, die boodskapper van die verbond, en so voorts. Eeuelank het die volk van God uitgesien na, en gebid om die Een wat sou kom om die uitkoms te bring. Hierdie Messiaanse verwagting het na die 400 jaar verhoog deur verhale van die geboorte en vroeë jare van Jesus. ’n Seun is uit ’n maagd gebore! Skaapwagters van Bethlehem het ’n engel van die Here, ’n skare engele én die pasgebore kindjie gesien; Simeon en Anna met die agt dae oue kindjie in die tempel; dié wat verstom was oor die wysheid van die twaalfjarige Jesus in die tempel – almal het oor hierdie verbasende seuntjie gepraat. Gaan ons van Lukas 2 na Mattheüs 2, kry ons die wyse manne wat die ster gevolg het, Herodes die Grote en die godsdienstige leiers in Jerusalem, en die moord op die onskuldige kindertjies in en om Bethlehem – weereens het die gerugte hieroor die rondte gedoen. Hierbenewens was daar verslae oor die heilige lewe van Jesus in Nasaret!

3) Daar was ook groot verwagtings van Johannes sedert sy kinderdae en selfs van voor sy konsepsie. Die mense wat die doofstom Sagarias in die tempel sien beduie het dat ’n engel aan hom verskyn het; die geboorte van Johannes vir twee baie bejaarde, onvrugbare gelowiges; die profesie van Sagarias toe hy sy stem teruggekry het en hy sy seun sy naam gegee het – hoe kon sulke dinge stil gehou word? So lees ons “daar is baie gepraat oor al hierdie dinge in die hele bergstreek van Judéa. En almal wat dit gehoor het, het dit ter harte geneem en gesê: Wat sal tog van hierdie kindjie word?” (Lukas 1:65-66).

4) Dan was daar Johannes self, vir baie jare alleen in die woestyne (80). Hy was sonder die priesterskap en die tempeldiens. Sy kos en klere was ook ongewoon. Hy was geklee in ’n kameelhaar kleed, ’n ruwe kledingstuk wat deur profete gedra is (Sagaria 13:4; 2 Konings 1:8). Sy dieet het uit sprinkane en wilde heuning bestaan, en nooit enige vrug van die wynstok nie. Met sy lang hare, die teken van sy lewenslange Nasireërs-eed, was Johannes ’n opvallende persoon.

5) Hierbenewens was daar die plek van Johannes se bediening: die woestyn (Lukas 3:2). Dit is wel so dat dit beteken het mense ’n afstand moes reis om by hom uit te kom, maar dié omgewing was uniek en indrukwekkend en dit het ook bygedra om die skares te trek.

6) Groot getalle het gekom weens die uitsonderlikheid van Johannes se optredes (Lukas 3:3). Eerstens was daar die waterdoop van Johannes: ’n unieke, eenmalige inisiasie seremonie. Tweedens was daar sy besonder ernstige, opregte, reguit en onbevange prediking. Eeuelank was daar in Israel nie sulke prediking nie, en die skares het toegestroom.

7) Baie het dus die getuienis van Johannes (Johannes 1:23) gehoor, dat sy koms die vervulling was van profesie: “Ek stuur my boodskapper voor u aangesig, wat u pad voor U uit sal regmaak – die stem van een wat roep in die woestyn: Berei die weg van die Here, maak sy paaie reguit!” (Markus 1:2-3). Hierdie “profete” is Maleagi (3:1) en Jesaja (40:3). Dit het ook die belangstelling in sy prediking laat toeneem.

Tesame help die redes hierbo waarom die menigtes na Johannes die Doper gekom het. Ons moet ook onthou dat dit die wil was van die Allerhoogste dat Israel van Johannes moes weet en sy boodskap hoor, want hy was die boodskapper wat die koms van die koms van die Eniggebore Seun van God aangekondig het.

Volgende keer, as die Here wil, kyk ons na die wonderlike boodskap oor die Messias wat deur die stem roepende in die woestyn aangekondig is.

(Vertaal deur Nic Grobler. Die Bybelvertaling wat gebruik is, is die AOV van 1933/53.)

Vir meer bronne in Afrikaans, klik hier.