Rev. Angus Stewart
Ons verwerp algemene genade op grond van die Woord van God. Algemene genade leer dat God die verworpenes liefhet, maar die Skrif verklaar dat God "al die werkers van ongeregtigheid [haat]" (Ps. 5:5). God haat nie maar net die sonde en het die sondaar lief nie! Verder "[haat] sy siel die goddelose en die wat geweld liefhet" (Ps. 11:5). Hier blyk die intensiteit van God se afkeer aan die verworpene: sy siel self—alles wat Hy is—verfoei hom. So sal Jehova "op die goddelose vangnette, vuur en swawel laat reën ..." (v. 6).
Algemene genade leer dat die goeie dinge wat die verworpenes in hierdie lewe ontvang, God se liefde vir hulle bewys. Dít was die fout van Asaf en dit is die fout van baie. Eers in die "heiligdomme van God" (Ps. 73:17) het Asaf besef dat die "voorspoed van die goddelose mense" (v. 3)—hulle gesondheid (v. 4), voedsel (v. 7), rykdom (v. 12)—"waarlik" God was wat hulle "op gladde plekke" bring voordat Hy hulle "in puin [laat] val" (v. 18). Salomo, die wysste van mense, het gesê: "Die vloek van die HERE is in die huis van die goddelose" (Spr. 3:33). Al die goeie dinge in sy huis—vrou, kinders, besittings, voedsel ens.—kom nie met liefde van God nie, maar met sy vloek.
Sommige mense beweer dat ons algemene genade veroordeel op grond van afleidings uit die ewige uitverkiesende raad van God, maar God se geopenbaarde waarheid oor uitverkiesing is nie die enigste leerstuk wat teen algemene genade stry nie. Teenoor die enigheid van God (Deut. 6:4) leer algemene genade dat God twee liefdes, twee genades en twee goedertierenhede het. Teen die onveranderlikheid van God (Mal. 3:6) in, leer algemene genade dat God die verworpene in die tyd liefhet, maar hom in die ewigheid haat. Teenoor God se heilige regverdigheid, wat so groot is dat Hy "te rein van oë is om die kwaad aan te sien" (Hab. 1:13), sê algemene genade dat God húlle liefhet wat heeltemal boos is (Rom. 3:10-18). Kortom veronderstel algemene genade ʼn tydelike, beperkte, veranderlike, onregverdige liefde vir die verworpene (buite Jesus Christus!). Maar die Skrif leer dat God Homself liefhet en dat Hy sy uitverkore kerk liefhet (Ef. 5:25) met ʼn kieskeurige (Rom. 9:18), oneindige (Ef. 3:17-19), onveranderlike (Ps. 136) liefde in Jesus Christus.
Hierdie oorspronklike dwaling van ʼn liefde van God vir die verworpene word deur baie mense (insluitend sogenaamde Calviniste) gebruik om die antitese (Gen. 3:15) te ondermyn, om partikuliere versoening onder verdenking te bring, om ʼn wil van God om die verworpenes te red, te predik, om onvoorwaardelike verwerping en uitverkiesing dood te druk en (dan) te ontken, om te weier om Armenianisme en sy leraars te veroordeel en om gemeenskap met Armenianiste te bevorder.
(Vertaal
deur Nic Grobler.
Die
Afrikaanse vertaling van die Bybel wat gebruik is, is dié van 1933/1953)