Ronald Hanko
Dat God ʼn verbond met Israel gehad het, is duidelik uit die Skrif. Oor hoe die verbond verstaan moet word is daar baie verskille.
Die groot vraag is of die verbond met Israel ʼn ander verbond is as die een wat God met sy volk in die Nuwe Testament oprig, en wat die Ou Testament (ou verbond) se verhouding is tot die Nuwe Testament (nuwe verbond). Is hulle oud en nuut daarin dat hulle verskillende soort verbonde is wat met twee verskillende groepe mense opgerig is, of is hulle ouer en nuwere openbarings van een verbond?
Die dispensasionalisme beantwoord sulke vrae deur te leer dat die ou verbond en die nuwe verbond heeltemal van mekaar verskil, dat hulle verskillende groepe mense behels en verskillende beloftes en verkillende vervullings het. In die meer ekstreme vorme leer dit selfs verskillende weë tot saligheid vir Israel in die ou verbond en vir die kerk in die nuwe verbond. (Die aantekeninge by die Scofield Study Bible is ʼn voorbeeld van hierdie leer.1)
Daar is diegene wat dispensasionalisme verwerp, maar tog nog huiwer om die twee verbonde heeltemal met mekaar te identifiseer. Sommiges sien ʼn verskil tussen die beloftes en vervulling van die ou en nuwe verbond (pre-millennianisme en post-millennialisme). Hulle sê dat ten minste sommige van die beloftes van die ou verbond ʼn aardse vervulling het, in teenstelling met die vervulling van die beloftes van die nuwe verbond, wat geestelik en hemels is.
Baptiste maak ʼn onderskeid tussen Israel en die kerk, in besonder wat betref die verbond en die verbondsteken. Hulle sou byvoorbeeld sê dat Israel nie die kerk is nie, maar alleen maar ʼn tipe van die kerk, en hulle weier om die besnydenis en die doop as die tekens onderskeidelik van die ou en die nuwe verbond te erken.
Ander maak ʼn skeiding tussen die wet en genade. Op die een of ander wyse leer hulle dat die wet geen plek het in die lewe van ʼn gelowige onder die nuwe verbond nie. Hierdie dwaling word antinomianisme genoem.
In teenstelling met die voorgaande hou die Gereformeerde geloof vol dat daar net een verbond is, een verbondsvolk (Israel synde die kerk van die Ou Testament (Hand. 7:38), een teken van die verbond (besnydenis en die doop synde in wese dieselfde (Kol. 2:11-12), een Verlosser en een weg tot saligheid (Hand. 4:12), een belofte van die ewige lewe in Christus (Hand. 2:38-39) en een geestelike vervulling van alles wat tot die belofte hoort (Heb. 11:9-10,13-16). Dit hou ook vol dat daar eenheid is tussen die wet en genade in beide verbonde (Rom. 7:12).
Die Gereformeerde geloof lê nadruk op algehele eenheid van die twee testamente (verbonde) as die weerspieëling, ten slotte, van God se eie eenheid. Net so min as wat daar skeiding in God is, kan daar ʼn wesensverskil tussen die ou en die nuwe verbond wees.
1C.I. Scofield (1843-1921), oorspronklike redakteur, en Doris W. Rikkers, voortgaande redakteur, Scofield Study Bible, King James Version (New York: Oxford University Press, 2003). Scofield se werk is aanvanklik in 1909 gepubliseer.
Vertaal uit Ronald Hanko se Doctrine according to Godliness (Grandville, MI, VSA: Reformed Free Publishing Association, 2004), pp. 173-174.
(Vertaal deur Nic Grobler. nicg@absamail.co.za
Die Afrikaanse vertaling van die Bybel wat gebruik is, is dié van 1933/1953)