Ronald Hanko
Ons glo dat die verskillende verbonde van die Ou Testament in werklikheid net verskillende openbarings is van die een genadeverbond. As die verbond ewig is, kan daar net een verbond wees (Gen. 17:7).
In elkeen van hierdie openbarings het God iets nuut en wonderlik oor sy genadeverbond geopenbaar. So het God, in die eerste openbaring van die verbond aan Adam, gewys dat sy verbond ʼn verbond van vriendskap is.
Na Adam was die volgende groot openbaring van die verbond aan Noag. In daardie openbaring van die verbond het God het God die universele aard daarvan geopenbaar, dat die verbond die hele wêreld wat Hy geskep het sou omvat. U sien, die verbond is nie net met die mens opgerig nie, maar met "al die lewende wesens, in alle vlees"(Gen. 9:15). Dit is ʼn verbond met die dag en met die nag (Jer. 33:25). Die universaliteit van God se verbond is dus nie ʼn universaliteit wat alle dinge en alle mense sonder uitsondering omvat nie, maar dit omvat alle dinge sonder onderskeid, sodat aan die einde alle soorte geskape dinge vernuwe en verteenwoordig sal wees in die nuwe hemel en aarde.
Daardie verbond word goed gesimboliseer seur die reënboog wat sy boog oor God se hele skepping span. Dit is ʼn verbond wat finaal volvoer sal word in die nuwe hemel en die nuwe aarde. Dit is ʼn verbond waarin "die skepping self vrygemaak sal word van die slawerny van die verganklikheid tot die vryheid van die heerlikheid van die kinders van God"(Rom. 8:21).
Hierdie openbaring van die verbond is in die dae van Noag gegee omdat dit toe was dat God die aarde vernietig het. Hy het dit nietemin duidelik gemaak in sy oordele en in sy verbond met Noag, dat die vernietiging van die aarde nie toe of in die toekoms die einde van die aarde is nie maar net die reiniging daarvan en die begin van sy vernuwing. Dit sal net so wees aan die einde wanneer God hierdie wêreld met vuur sal vernietig.
Dit, so glo ons, is een van die redes waarom die Bybel in verband met God se voorneme praat van die wêreld (die kosmos) (Joh.1:29; Joh. 3:16,17). God se hele wêreld sal ten laaste verlos en gered word, hoewel nie elke enkele skepsel of persoon nie.
Dit moet so wees. God sal nie toelaat dat sy voorneme tot niks kom nie. Hy sal nie toelaat dat die mens deur sy sonde Hom beroof van die wêreld wat Hy tot sy eie eer geskep het nie. Hy red sy wêreld.
Hierdie is alles baie belangrik om ʼn Skrifgedeelte soos Jesaja 11 te verstaan. Baie wat so’n gedeelte lees kom tot die gevolgtrekking dat daar ʼn toekomstige aardse koninkryk sal wees voor Christus se wederkoms waarin sommige van die gevolge van die sonde oorkom sal wees, maar die Skrif belowe niks van die aard nie. Dit praat van die nuwe hemel en die nuwe aarde waarin geregtigheid sal woon – ʼn koninkryk waar inderdaad die wolf saam met die lam sal wei, ʼn koninkryk waarin "die skepping self vrygemaak sal word ... tot die vryheid van die heerlikheid van die kinders van God" (Jes. 11:6; Rom. 8:21). Wat ʼn heerlike dag sal dit wees!
Vertaal uit Ronald Hanko se Doctrine According to Godliness (2004, Reformed Free Publishing Association, Grandville, MI, VSA), pp. 169-170.
(Vertaal deur Nic Grobler. nicg@absamail.co.za
Die Afrikaanse vertaling van die Bybel wat gebruik is, is dié van 1933/1953)