Ronald Hanko
Ons glo dat kennis deel is van die aktiwiteit van ons geloof. Daar is altyd diegene wat geloof van kennis wil skei, en geloof sien as ‘n "blinde’ aanvaarding of vertroue. Dit is deesdae besonder algemeen.
Rooms Katolisisme het nog altyd geleer dat geloof en kennis geskei kan word, in besonder in sy leer oor vanselfsprekende geloof (geloof sonder intelektuele inhoud). Dit, volgens Rome, is die geloof van die meeste, of baie, leke.
Dit word ook in die modernisme en neo-ortodoksie en ook deur die charismatiese en ander anti-leerstellige bewegings geleer. Hule ontken nie openlik dat geloof kennis insluit nie, maar skei geloof en kennis deur die leer en leerstellings af te breek en neer te haal.
Dit is jammer genoeg ook die neiging by sommige Gereformeerde teoloë en dosente. Hulle ontken ook nie uitdruklik dat geloof kennis is nie, maar beland nietemin daarby deur die bevordering van paradokse en teenstrydighede in hulle teologie.
Hierdie is die mense wat sê dat God alle mense liefhet in die evangelie, maar nie in sy uitverkiesing nie; dat Hy in sy geopenbaarde wil alle mense wil verlos, maar in sy verborge wil nie alle mense wil verlos nie; en dat Hy welmenend verlossing aan almal aanbied, maar nie aan almal geloof wil skenk nie. Sulke praatjies is irrasioneel en anti-intelektueel. Niemand kan sulke teenstrydighede verstaan nie. Dit kan net as vanselfsprekend aanvaar word, waardeur geloof nie ‘n saak van kennis is nie, maar ‘n blindelingse sprong!
Die teenstand teen kennis en die leer is ook strydig met die Skrif. In Johannes 17:3 definieer Jesus geloof as kennis van die enige waaragtige God en Jesus Christus wat Hy gestuur het. Hierdie kennis, sê Jesus, is die ewige lewe – nie vertrou nie, maar ken.
In 2 Tímotheüs 1:12 praat Paulus van sy geloof as ‘n "oortuiging", maar sê ook dat hy oortuig is nádat hy "geweet" het. Dit is inderdaad onmoontlik om oortuig te wees dat Christus ons kan bewaar, tensy ons weet dat Hy die eniggebore Seun van God is, die Een wat in die vlees gekom het, wat aan die kruis vir ons sonde gely en gesterf het.
Ons mag die kennis nie minag nie. In sigself is kennis profytloos; dit moet gepaard gaan met vertroue. Maar die Skrif maak dit nietemin duidelik dat kennis vir ons goed is. In 2 Korinthiërs 4:6,7 word "die verligting ... van die kennis van die heerlikheid van God in die aangesig van Jesus Christus" ons skat genoem (sien ook Luk. 1:77; Ef. 1:17; Fil. 3:8; Kol. 2:3; 2 Pet. 1:2,3). Daar is geen vertroue in onkunde nie.
Geloof sonder kennis is waarlik ‘n sprong in die duister. Maar God is nie in die duisternis nie. Hy woon in die lig. Net so min kan ons Here Jesus Christus met ‘n sprong in die duister gevind word. Hy is die Lig van die wêreld (Joh. 9:4) en om in Hom te glo moet ons na die lig kom. Daardie lig is die lig "van die kennis van die heerlikheid van God in die aangesig van Jesus Christus" (2 Kor. 4:6).
Vertaal uit Ronald Hanko se Doctrine According to Godliness (Grandville, MI, VSA: Reformed Free Publishing Association, 2004), pp. 194-195.
(Vertaal
deur Nic Grobler.
Die
Afrikaanse vertaling van die Bybel wat gebruik is, is dié
van 1933/1953)