Angus Stewart
Die Hebreërboek is ʼn volgehoue waarskuwing aan belydende gelowiges teen afvalligheid, verlating van die Here Jesus, die leer van God se Woord en die ware kerk. Hebreërs is in besonder (in die eerste plek) geskryf aan Christelike Joodse bekeerlinge, in die eerste eeu na Christus, om hulle teen afvalligheid te waarsku, sodat hulle nie die Here Jesus verlaat om na ʼn Christuslose Judaïsme terug te keer nie. Die skrywer doen dit deur herhaaldelik die Ou Testamentiese kerkinrigting teenoor dié van die Nuwe Testament te stel. Telkens weer konstateer Hebreërs dat die nuwe verbond in Christus ʼn beter verbond is met beter beloftes, omdat dit ʼn beter priesterskap het en beter offers op ʼn beter altaar in ʼn beter tabernakel. Tewens, om van Jesus Christus terug te keer na diensbaarheid onder die wet, is om te vergaan onder die vurige toorn van God!
Die tweede helfte van Hebreërs 12 (verse 18-29) som die hoofpunte van die Hebreërboek op met beeldspraak van twee berge, die berg Sinai en die berg Sion. Verse 18-21 behandel die berg Sinai, verse 22-24 sit Sion uiteen en verse 25-29 is ʼn vermaning om nie na die berg Sinai terug te keer nie, maar by die berg Sion te volhard.
Die twee berge, Sinai (18-21) en Sion (22-24), word skerp kontrasterend teenoor mekaar gestel. Sinai is as’t ware "Onheilsberg". Dit is ʼn ongenaakbare en skrikwekkende berg. Bly weg! Sion is die geseënde berg, want daar woon die Drie-enige God, die heilige engele, die getroue heiliges en die Here Jesus, die middelaar van die nuwe verbond. Bly by Sion, die hemelse Jerusalem, die ware kerk van Christus!
Om die begrip en draagwydte van Sinai te verstaan, moet ons in ag neem dat die Jode, veral in die apostoliese tyd, hulle godsdienstige bevoorregting hoog aangeslaan het. Hulle had ʼn wonderlike heiligdom met heilige ameublement: die tabernakel/tempel. Daar het priesters voorgegaan, die geslag van Aäron bygestaan deur die Leviete. Voorop in die werk van die priesters en Leviete was die bring van offers: brandoffers, spysoffers, vrede-offers, sondoffers, skuldoffers, drankoffers, hefoffers, beweegoffers ens. Die Jode het ook geroem op hulle wette. Hierdie wette, voorskrifte, uitsprake, verklarings en gebooie het ‘n menigte areas gedek: wat jy mag eet en nie eet nie en wat om te doen as jy melaats word, wette oor godsdienstige feeste, seremoniële reinigingswette en vele meer. Die Jode het op al die dinge (tabernakel/tempel, priesterskap, offers, wette) geroem omdat God dit aan hulle gegee het. Jehova het die dinge uit liefde en genade aan hulle (en nie aan ander nie) gegee en Hy het dit baie honderde jare tevore gedoen, sodat hierdie godsdiensvorme baie eerbiedwaardig en van antikwiteit grys is.
En waar was Israel toe God hierdie dinge vir sy volk gegee het? Die berg Sinai! God het die bloudruk vir die tabernakel gegee en Moses het dit by Sinai gebou. Die stam van Levi is by Sinai afgesonder vir diens. Die priestersamp is by Sinai ingestel. Die voorskrifte oor offers is by Sinai gegee. By Sinai het God met Israel uit die berg gepraat. By Sinai het Jehova aan Israel die tien gebooie op twee kliptafels gegee. By Sinai is baie ander wette gegee. By Sinai het God Israel ʼn volk gemaak, sy eie verbondsvolk.
Dink maar ook oor Sinai in terme van die boeke van die Ou Testament. Van Eksodus 18 tot Numeri 10 was Israel se laer by die berg Sinai. Dit is meer as die helfte van Eksodus, die hele Levitikus en 30% van Numeri. Die res van die Ou Testamentiese geskiedenis van Joshua af behandel die seëninge en vloek oor Israel al hulle getrou was aan die Woord van God by Sinai gegee, dan nie. Waarheen het Elía gegaan om sy bedanking in te dien as profeet van die wetsveragtende, verbondverbrekende volk van die Noordelike Koninkryk (I Kon. 19)? Sinai! Sommige Psalms bepeins God se openbaring by Sinai (bv. Ps. 68; 97). Die profete wat in die Ou Testament geskryf het, van Jesaja tot Maleagi, het God se verloste volk teruggeroep tot dankbare gehoorsaamheid aan sy wet by Sinai gegee.
Kortom, Sinai was die roem van die Jode want, anders as alle ander volke (met hulle valse godsdienste), het Israel God self by Sinai ontmoet en daar hulle wette en besondere erediensvorme uit sy hand ontvang. Die voorgaande stel ons in staat om die begrip en draagwydte van Sinai in Hebreërs 12: 18-21 te verstaan. Hier verteenwoordig Sinai die Ou Testamentiese wet en erediens, met die tabernakel/tempel, priesters, offers, altaar en oorvloed van gebooie.
Nou moet ons begryp wat die woorde "het gekom" by Sinai in vers 18 beteken. "Het gekom" is hier die voltooid teenwoordige tyd (perfektum) en sluit daarom in, aankoms by Sinai en voortgesette verblyf daar. Met ander woorde, julle eerste eeuse Joodse Christene het nie by Sinai – as verteenwoordigend van Ou Testamentiese wet en diens, met skadu’s en tipes, sonder die middelaarskap, offer en bloed van Jesus Christus - gekom om daar te bly nie. Dit is die idee van Sinai hier: berus in die vorm en inhoud van Ou Testamentiese wet en diens, sonder vergiffenis van sonde in die kruis van Christus.
Dit is dan die argument van Hebreërs 12: 18-20. Wil julle, Joodse Christene, die Ou Testamentiese wet en diens hê wat by Sinai gegee is, sonder die offer van die beloofde Messias? U moet gerus Eksodus 19-20 en Deuteronomium 4-5 weer lees. Die Ou Testamentiese wet en diens van Sinai (op sigself genome en sonder die bloed van Christus) openbaar net God se heiligheid en toorn. Dink aan God se openbaring by Sinai! Die hemele was gevul met donder en weerligte; die berg was gehul in vuur en donkerheid; die aarde het geskud. Dít is wat Sinai (Ou Testamentiese wet en diens) sonder die bloed van die kruis beteken: " ...’n berg ... en ‘n brandende vuur en donkerheid en duisternis en storm en basuingeklank en die geluid van woorde waarby die hoorders gesmeek het dat hulle geen woord meer sou toegevoeg word nie - want hulle kon die gebod nie verdra nie: selfs as ‘n dier die berg aanraak, moet dit gestenig word of met ‘n pyl neergeskiet word. En Moses, so vreeslik was die gesig, het gesê: Ek is verskrik en ek sidder" (Heb. 12: 18-21).
Is dit waarna u verlang?
(Vertaal
deur Nic Grobler.
Die Afrikaanse vertaling van die Bybel
wat gebruik is, is dié van 1933/1953)