Ds. Angus Stewart
ʼn Leser uit Engeland het gevra na die uitleg van die Gelykenis van die Saaier (Matthéüs 13:3-9, 18-23) waarna hy ʼn tydjie gelede geluister het: leer hierdie gelykenis dat almal net een geleentheid het om die evangelie te glo, en dit is by die eerste aanhoor daarvan?
Eerstens moet mens daarop wys dat, as dié beskouing korrek sou wees, daar geen positiewe sin daarin is om aan iemand wat jy weet die evangelie reeds gehoor het, een of meer kere, en nie bekeer is nie, te getuig of vir hom te bid nie. Niemand sou ooit gered word by sy tweede of daaropvolgende bywoning van ʼn kerkdiens nie en daar sou geen hoop daarin wees om enigiemand te motiveer om so iemand te nooi nie. Net so sou daar vir ʼn gelowige vrou geen moontlikheid bestaan om haar ongelowige man vir Christus te win ná sy eerste kennismaking met die Woord van God nie (1 Korinthiërs 7:16; 1 Petrus 3:1), want die man se eerste afwysing van die Here Jesus is dan die onvergeeflike sonde. Meer nog, almal wat daarop aanspraak maak dat hulle Christene is, maar nie bekeer is toe hulle die eerste keer die evangelie gehoor het nie (soos ekself en baie lesers van die News en verskeie hooggeagte figure in die geskiedenis van die kerk, soos Augustinus) is dan nie werklik gelowiges nie, maar geveinsdes!
Mens wonder wat iemand wat hierdie vreemde interpretasie van die Gelykenis van die Saaier daarop na hou, van die kerklike tug sou sê. Moet die kerk dan ook vir die gelowige wat besig is om te dwaal net een geleentheid vir bekering gee? Dit sou strydig wees met die onverbreeklike Woord van God (Johannes 10:35) in Matthéüs 18:15-18!
Benewens ʼn uiteensetting van die noodwendige implikasies van hierdie vreemde beskouing, is die mees eenvoudige en direkte manier om dié leer, dat ongeloof by die eerste aanhoor van die evangelie ʼn mens se verlorenheid beseël, te weerlê, om na die skriftuurlike getuienis tot die teendeel te kyk.
Moet ons dink dat al 3,000 mense wat op die Pinksterdag gered is (Handelinge 2:41) nooit die Woord wat deur Christus of sy twaalf dissipels (Lukas 9) of die sewentig (Lukas 9) gepreek is, gehoor het nie? Is dit dan ook werklik die geval dat die 5,000 mense wat in Jerusalem bekeer is, nooit die evangelie óf in die dae van Christus se wonderbare bediening, óf by Pinkster, óf van die apostels gehoor het tot op die dag dat hulle geglo het nie (Handelinge 4:4)? Handelinge 6:7 sê: “En die woord van God het toegeneem, en die getal van die dissipels het in Jerusalem baie vermeerder, en ʼn groot menigte van priesters het gehoorsaam geword aan die geloof.” Moet ons tot die gevolgtrekking kom dat al hierdie mense en die priesters in Jerusalem voor dié tyd nie van die evangelie geweet het nie?
Ons kan, benewens die massa bekerings in Jerusalem in die eerste hoofstukke van Handelinge, ook wys op individue. Het die rower wat berou gehad het werklik eers van die evangelie gehoor op die dag van sy kruisiging (Lukas 23:39-43)? Moet ons aanvaar dat die goddelose Manasse, koning van Juda, heeltemal onkundig was oor die Woord van God tot op die dag van sy bekering in Babel (2 Kronieke 33:11-13)? Inteendeel, die Bybel sê uitdruklik dat die Woord van God vroeër al na Manasse en die volk gekom het (2 Kronieke 33:10; vgl. 2 Konings 21:10-15).
Miskien die mees sprekende geval in die Skrif van ʼn persoon wat hierdie bisarre uitleg van die Gelykenis van die Saaier weerlê, is Saul van Tarsus, Paulus die apostel. Hy het die Ou Testament goed geken en hy het na die apologetiese toespraak van die diaken Stéfanus geluister, want hy het die klere opgepas van hulle wat die martelare gestenig het (Handelinge 7). Saul, ʼn ywerige Fariseër, kon nouliks onbekend wees met die onderrig van Jesus van Nasaret of van die van sy dissipels en hy moes ongetwyfeld die evangelie gehoor het by die Christene wat deur hom gevangenis toe gesleep is (Handelinge 8:3). Tog is hy eers later, op die pad na Damaskus, bekeer (Handelinge 9).
Terwyl verskeie uitverkore mense in die Skrif nie bekeer is toe hulle die eerste keer die Woord gehoor het nie, moet ons sommige in die Bybel meld wat, so kom dit voor, wel geglo het toe hulle die eerste keer met die volle waarheid van die evangelie gekonfronteer is, soos Adam en Eva (Genesis 3), Naäman (2 Konings 5), die vrou by die put en ander Samaritane (Johannes 4), Sérgius Paulus (Handelinge 13) en die tronkbewaarder van Fillíppi (Handelinge 16).
Uit die voorgaande kan ten minste drie lesse geleer word. Die eerste, met betrekking tot die uitleg van die gelykenisse van Christus: Moet hulle nie dwing om punte te maak wat nie hulle doel is nie. Die Gelykenis van die Saaier leer, onder meer, dat nie almal die gepredikte evangelie glo nie en dat hulle wat dit verwerp dit doen weens allerlei wêreldse en vleeslike redes. Die beeld van saai moet nie verwring word tot ʼn beeld van iemand wat saai nie, want dit word nie in die gelykenis óf die uitleg daarvan gesê nie (Matthéüs 13:3-9, 18-23).
Tweedens moet ons ons verwonder oor die lankmoedigheid van God teenoor sy uitverkorenes. Paulus, wat die evangelie van Christus vir ʼn lang tyd gehoor en verwerp het, moes sê: “Maar daarom is aan my barmhartigheid bewys, dat Jesus Christus in my as die vernaamste al sy lankmoedigheid sou betoon, om ʼn voorbeeld te wees vir die wat in Hom sal glo tot die ewige lewe” (1 Timótheüs 1:16). Ten spyte van al ons gruwelike sondes, sowel vóór (vgl. Timótheüs 1:13, 15) as ná ons bekering, verstoot of verwerp die Drie-enige God nie een van sy ewige uitverkore en met bloed gekoopte volk nie. Waar sou ons almal wees as dit nie so was nie?
Derdens moet ons in ons getuienis en voorspraak vir hulle wat buite Christus is, die lankmoedigheid van God nadoen, ook sy geduld met ons in ons dwaasheid en ongehoorsaamheid: “verkondig die woord; hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering” (2 Timótheüs 4:2). “Werp jou brood uit op die water, want ná verloop van baie dae sal jy dit vind” (Prediker 11:1)!
Vertaal deur Nic Grobler. Die Afrikaanse vertaling van die Bybel wat gebruik word, is die Afrikaanse Ou Vertaling (AOV) van 1933/53.