Covenant Protestant Reformed Church
Bookmark and Share

" ... om God as ons Vader aan te spreek"i

Herman Hoeksema

 

Wat beteken dit dat ons God ons Vader noem?

Dit beteken vir seker dat Hy ons sy kinders gemaak het. Tog is dit 'n groot geheimenis. 'n Mens kan die kleinste kind leer om God met die woorde "onse Vader wat in die hemel is", aan te spreek, maar die diepte van die waarheid van dié woorde kan nie maklik gepeil word nie. Dit behels niks minder nie as dat die oneindige, heerlike, aanbiddelike God, wat die verwesenliking van alle volkome volmaaktheid is, die Lig waarin daar geen duisternis is nie, ons só gemaak en geformeer het, dat daar in ons 'n verwantskap en gelykenis met die goddelike natuur is. Die apostel Petrus stel dit só: " Hy (het) ons die grootste en kosbare beloftes geskenk ..., sodat julle daardeur deelgenote kan word van die goddelike natuur, nadat julle die verdorwenheid ontvlug het wat deur begeerlikheid in die wêreld is" (2 Pet. 1:4). Dit beteken ook dat, op grond van hierdie gelykenis en verwantskap, daar tussen God en ons 'n gemeenskap van lewe en liefde is. Dit beteken dat Hy ons na die beeld van sy ewige Seun geskape het, sodat in ons geskapenheid ons met Hom ooreenkom en sy deugde weerspieël; die deugde van kennis, geregtigheid en heiligheid. Dit beteken dat daar tussen ons en Hom die lewende band van liefde en gemeenskap is, sodat ons Hom kan ken en op Hom kan vertrou en kan glo dat Hy aan ons alle goeie dinge sal gee, en dat dit ons vreugde is om sy heerlikheid te soek en in ootmoedige gehoorsaamheid aan Hom in die weë van sy gebooie te lewe. Dit beteken, ten slotte, ook dat ons die voorreg van kinders ontvang het, die reg het om na Hom genoem te word, op sy sorg aanspraak te hê en vir ewig in sy huis te woon; dat ons reg het op die ewige erfenis van die heerlikheid wat Hy vir almal wat Hom liefhet, voorberei het. Dit alles word bevat in die verhouding tussen ons en God wat in die woorde "Onse Vader" opgesluit lê.

Ons moet nie miskyk dat ons hier nie net te doen het met die leer oor die vaderskap van God, of die vaderskap van God in Jesus Christus nie. Wat onder bespreking is, is ook nie die wet van God wat eis dat ons die Here ons God moet liefhê met ons hele hart en verstand en siel en krag nie. Dit is 'n gebed. Daarom veronderstel dit dat hy wat bid, en God met dié twee woorde aanspreek, van hierdie verhouding van hom met God bewus is, en dat hy alles wat daarmee te kenne gegee word, bely. Hy word verseker van sy voorreg om kind van God genoem te word en hy voel in sy hart dat God nie skaam is om sy Vader genoem te word nie, en dat Hy hom nie sal verwerp of afwys nie. Hy is oortuig dat hy God mag nader, dat hy alle goeie dinge van Hom kan verwag, dat hy in die heiligdom van die Allerhoogste mag woon. Hy is bewus dat God hom die afskynsel van sy eie deugde gemaak het en dat daar diep in sy hart die begeerte is om Hom, wat hy Vader noem, te behaag: om regverdig te wees, soos Hy regverdig is; om heilig te wees, soos Hy heilig is; en om sy gebooie te onderhou. Hy vertrou dat God hom liefhet en dat Hy hom vir seker alles wat na liggaam en siel nodig is, en aan die einde ook vir altyd die ewige lewe in God se eie tabernakel, sal gee. Met hierdie geestelike houding van ootmoedige gehoorsaamheid en kinderlike liefde en vertroue, nader ons die Allerhoogste in sy heiligdom wanneer ons ons gebed begin met die eenvoudige maar diepsinnige woorde "Onse Vader."

Hoe is dit moontlik dat ons God ons Vader kan noem? Watter reg het ons om Hom so te noem? Hoe kan ons in ons harte die versekering hê dat ons sy kinders is? Vanwaar kom die vertroue waarmee ons kan roep: "Abba, Vader?"

Vir seker kan ons dié reg nie van nature hê nie.

Baie moderniste praat van die universele vaderskap van God en die universele broederskap van die mens, asof niks gebeur het om dié verhoudinge te versteur sedert God ons na sy ewebeeld geskape het nie. God, so beweer hulle, is die Vader van alle mense en alle mense is kinders van God uit hoofde van hulle geskapenheid. Die mens is na God se beeld geskape en daarin lê die uitnemendheid van die mens bo alle ander skepsele — dit is sy ware waarde. Op hierdie feit van sy geskapenheid in die beeltenis van God, baseer die mens sy reg op lewe en vryheid, sy strewe na geluk én sy reg om die heiligheid van God in te gaan en Hom aan te spreek met die woorde "Ons Vader".

Hierdie moderne filosofie ignoreer ewenwel heeltemal die groot en verskriklike feit en realiteit van die sonde en die dood. Dit is inderdaad waar dat God ons skepper is. Dit is waar dat Hy ons na sy beeld, in ware kennis van Hom, in geregtigheid en heiligheid geskape het. Op grond hiervan was Adam inderdaad die seun van God (Luk. 3:35), maar dit is nie meer moontlik om, op grond van daardie oorspronklike verhouding, God ons Vader te noem nie. Deur die val en ongehoorsaamheid van die een mens, Adam, het ons die regte en voorregte van kindskap verloor. Ons het bywoners en vreemdelinge geword. Ons is uit die Vader se huis gesit. Die beeld van God het verander in die beeld van die duiwel self, en ons in kinders van die toorn. In Johannes 8:44 het die Here aan die ongelowige Jode in Jerusalem gesê: "Julle het die duiwel as vader, en die begeertes van julle vader wil julle doen", en in Efesiërs 2:2-3 skryf die apostel Paulus: " ... julle (het) tevore gewandel ... volgens die loop van hierdie wêreld, volgens die owerste van die mag van die lug, van die gees wat nou in die kinders van die ongehoorsaamheid werk, onder wie ons almal ook vroeër gewandel het in die begeerlikhede van ons vlees toe ons die wil van die vlees en van die sinne gedoen het; en ons was van nature kinders van die toorn net soos ook die ander". Dit beteken dat ons uit onsself, van nature, geen reg het of geestelik in staat is om die eerste woorde van die Onse Vader in gees en in waarheid te uit nie. Dit beteken ook dat die moderne filosofie van 'n universele vaderskap van God, wat die aanspraak van die gebed van die Here, sonder Christus op die lippe van elke onverbloemde sondaar wil plaas, pure verwaandheid is en die felle toorn van God uitlok. Sou nie selfs 'n sondige mens onthuts en vertoorn word, as iemand uit die laagste laag van die samelewing, boonop bekend as vyand nommer een, die storie sou versprei dat hy sy vader is nie? Hoe gruwelik is dan nie in die oë van God die trotse verwaandheid van die onverbloemde sondaars wat in duisternis en onreg lewe, wat die beeld van hulle vader, die duiwel, dra en dan daarop aanspraak maak dat hulle die gebed van 'n seun op hulle lippe kan neem en die Heilige as Vader kan aanroep, nie?

Die aanhef van die Onse Vader verwys dus nie na die vaderskap van God in die skepping nie, maar na daardie oneindig diep en ryker vaderskap wat Hy in Christus Jesus ons Here geopenbaar en verwesenlik het.

Ons onderskei ons kindskap volgens reg en ons geestelike kindskap van God.

Die ewige Vader van ons Here Jesus Christus het ons, wat nie sy kinders was nie, aangeneem en aan ons al die regte van kinders geskenk. Dit is in die eerste plek die belydenis van hom wat ootmoedig die heiligdom van God ingaan en uitroep "Abba, Vader". Wanneer hy bid en God as sy Vader aanspreek, bely hy daarmee bewustelik en ootmoedig dat hy uit homself hoegenaamd geen reg het om kind van God genoem te word nie.

(Vertaal deur Nic Grobler.
Die Bybelvertaling wat gebruik is, is die AOV van 1933/53
.)

i Hierdie artikel is 'n uittreksel uit 'n artikel "Of Thankfulness, ... Addressing God as Our Father", in 'n reeks oor die Heidelbergse Kategismus deur wyle Ds. Hoeksema. in die rubriek "Our Doctrine" in die Standard Bearer, tydskrif van die Protestant Reformed Churches van Amerika, 1955 Uitgawe No. 15.

Vir meer bronne in Afrikaans, klik hier.