Ds. Angus Stewart
In die sesde eeu v.C. is Jerusalem deur die Babiloniërs vernietig. Die tempel, die paleise, die huise, die stadsmure – alles is tot puin gemaak deur die goddelose invallers. Daar het van God se volk min oorgebly. Baie is doodgemaak of het van hongersnood of siektes gesterf. Ander is verstrooi om nooit weer terug te keer nie en baie het afvallig geword.
Dit is vir ons moeilik om hulle diepe smart oor die fisiese verlatenheid van Jerusalem te verstaan, want die meeste van ons het nog nooit so iets beleef nie; ons het waarskynlik meer begrip van hulle ontbering weens hulle klein getalle.
Wat doen Jesaja, deur die inspirasie van die Heilige Gees, om die klein getal beproefde oorgeblewenes van die volk van God te bemoedig? Wat put hy uit die vroeëre Bybelse geskiedenis? Eerstens gaan hy na die verbond met Abraham en die verhaal van Abraham en Sara in Genesis 11-25. Tweedens skryf die profeet oor Eden, die paradys tuin van die Here in Genesis 2-3.
Dit is wat ons lees in Jesaja 51:1-3: “Luister na My, julle wat die geregtigheid najaag, wat die HERE soek! Aanskou die rots waaruit julle gekap is en die holte van die put waaruit julle gegrawe is. Aanskou Abraham, julle vader, en Sara, wat julle gebaar het; want as eenling het Ek hom geroep en hom geseën en hom vermenigvuldig. Want die HERE vertroos Sion; Hy vertroos al sy puinhope en maak sy woestyn soos Eden en sy wildernis soos die tuin van die HERE; vreugde en blydskap sal daarin gevind word, danksegging en die klank van liedere.”
Die inleidende woorde, “Luister na My, julle wat die geregtigheid najaag” (1), verwys nie na daardie Israeliete wat geregtigheid in werke gesoek het en hulle eie geregtigheid wou bewerk nie, maar na “Israel, wat die wet van die geregtigheid nagejaag het, die wet van die geregtigheid nie bereik het nie. Waarom? Omdat dit nie uit die geloof was nie, maar net asof dit uit die werke van die wet was; want hulle het hul gestamp teen die steen van aanstoot (Romeine 9:31-32; lees ook 10:3).
In plaas van eiegeregtige skynheiliges, praat God hier met die vromes, hulle wat die Here vrees en die stem van sy Kneg, die Messias, gehoorsaam (Jesaja 50:10); met hulle wat die geregtigheid ken, hulle wat die wet van God in hulle harte het (51:7).
Die geregtigheid van hierdie mense is die toegerekende versoening (45:24-25). Hulle is ook regverdig met die besielende geregtigheid van heiligmaking, sodat hulle die Woord van God nie gehoorsaam om iets te verdien nie, maar uit dankbaarheid. Hulle “jaag die geregtigheid na” (51:1) deur met toewyding daarna te streef.
Laat ons ernstig na geregtigheid in die weg van God strewe, en “luister na” die profeet in die volgende uitgawe van die News.
(Vertaal deur Nic Grobler. Die Afrikaanse vertaling van die Bybel wat gebruik is, is die AOV van 1933/53)