Prof. Herman Hanko
In die vorige uitgawe van News het ek gesê dat dat uitverkore kinders van gelowige ouers as suigelinge of selfs voor geboorte gered word. Die leser wat die vraag ingestuur het, het ook gevra, ‘Kan ‘n suigeling wat in die ware kerk gedoop is nie die punt van ware redding bereik nie?’ Die beatwoording hiervan sal ook ‘n geleentheid bied om ‘n belangrike punt van die leer van die Skrif by te voeg by wat ek in my vorige artikel geskryf het.
Ek aanvaar dat die vraesteller skryf van doop in die ware kerk, want net doop wat deur ‘n ware kerk bedien word is ‘n genademiddel. As dit die bedoeling is, is hy sekerlik korrek, want een van die kenmerke van die ware kerk is dat die sakramente ooreenkomstig die instelling van Christus bedien word. Hierdie punt is belangrik en daar moet kennis van geneem word.
Die antwoord op die vraag, ‘Kan ‘n suigeling wat in die ware kerk gedoop is nie die punt van ware redding bereik nie?’ is nadruklik Ja! Ja, dit is moontlik dat ‘n kind van gelowige ouers, gedoop in ‘n ware kerk, nie die punt van ware redding bereik nie! Dit wil sê, nie alle kinders word gered nie; baie gaan verlore.
Voordat ek dit verder verduidelik, wil ek tog ‘n waarskuwing rig in verband met die vraag se aanname dat redding in die latere lewe van ‘n gedoopte kind kom. As ons praat van die kinders van gelowiges, is dit nie korrek nie. Soos ek in die vorige News verduidelik het, word kinders van gelowiges gewoonlik gered voor geboorte, miskien al by verwekking, of kort na geboorte. Die Skrif suggereer die eersgenoemde, soos in die geval van Jeremia en Johannes die doper (vgl. “Covenant Children and Infant Baptism,”).
Nie alle kinders van gelowige ouers is gered nie. Ons moet hier met die waarheid van predestinasie, insluitend uitverkiesing én verwerping, rekening hou. Soewereine uitverkiesing bepaal diegene wat gered word, en soewereine verwerping bepaal wie nie gered word nie. Soos die Dordtse Leerreëls dit stel: “Dat God aan sommige mense in die tyd die gawe van die geloof skenk en aan ander dit nie skenk nie, volg uit sy ewige besluit ... Volgens hierdie besluit maak God genadiglik die harte van die uitverkorenes ontvanklik - hoe verhard hierdie harte ook al mag wees - en buig hulle om tot geloof. Hulle wat egter nie uitverkies is nie, laat Hy volgens sy regverdige oordeel in hulle boosheid en verharding bly” (1.6).
God se soewereine en ewige besluit van die uitverkiesing en verwerping bepaal nie alleen wie op die sendingveld gered en nie gered sal word nie, maar bepaal ook wie gered en nie gered sal word in die verbondslyn van gelowiges en hulle nageslag. Die uitverkore kinders van die verbond is gered, die verworpe kinders van die verbond is nie gered nie.
Hierdie goddelike onderskeid was reeds waar in die huis van Isak en Rebekka. Hoewel Esau die eersgeborene en die erfgenaam van die geboortereg was, was hy verworpe. Hoewel Jakob tydens sy lewe dikwels getoon het dat hy nie beter was as Esau nie, was hy uitverkies. Esau is nie gered nie; Jakob is (Genesis 25:19-26; Maleagi 1:2-3; Romeine 9:10-13). Uitverkiesing en verwerping het dwarsdeur die volk van Israel gegeld. Baie, gewoonlik die meerderheid, in Israel, hoewel hulle in die geslagslyn van gelowiges gebore is, was verworpe (Jesaja 1:8-9; Romeine 9:6-8; 11:5).
Wat in die ou bedeling waar was, is ook waar in die nuwe. Deur die geskiedenis van die kerk is die goddelike onderskeid in die geslagslyne gehandhaaf: nie al die kinders van gelowiges is gered nie. Gelowige ouers, terwyl hulle hul kinders met vreugde van God ontvang, weet dat nie al hulle kinders gered is nie. Hulle weet dat die besluit oor hul kinders se saligheid by God berus. Hulle buig voor die soewereine wil van God. Hulle verheug hulle dat God so genadig is dat Hy sy kerk uit die kinders wat hulle voortbring, versamel.
Sommige beskuldig die Protestant Reformed Churches dat hulle ‘wedergeboorte deur die doop’ verkondig. Niks kan verder van die waarheid wees nie. Ander beskuldig die Protestant Reformed Churches dat hulle ‘veronderstelde wedergeboorte’ verkondig, dit wil sê dat die kerke leer dat gelowiges die wedergeboorte van alle kinders veronderstel. Maar ook dit is laster en ‘n leuen. Gelowiges weet dat God ooreenkomstig sy goddelike welbehae red, en dat God nie beloof het om alle kinders te red nie.
Sommige argumenteer teen die standpunt van die Protestant Reformed Churches (en alle Gereformeerde kerke) met die vraag: Waarom doop gelowiges dan al hulle kinders, as hulle weet dat nie almal gered is nie? Ek het groot moeite om die krag van die beswaar te verstaan. Waarom preek elke kerk wat die evangelie verkondig tot almal sonder onderskeid as hulle weet en glo dat God net sommiges red? As sulke kerke nie Arminiaans is nie (preek ‘n evangelie dat God almal liefhet en genadig is teenoor elkeen), sal hulle moet erken dat dit verkeerd is en strydig met die Woord van God om net vir uitverkorenes te preek. Hulle preek vir uitverkorenes en verworpenes – soos dit hoort.
Die doop is ‘n sakrament wat tot die prediking gevoeg is om die waarheid van die evangelie deur ‘n uitwendige teken te bevestig. Dit behoort nie vir ons vreemd te wees dat die sakrament van die doop aan alle kinders van gelowige ouers bedien word nie. Maar dié feit ontken nie dat die doop ‘n teken en seël is van die afwassing van die sonde deur die bloed van Christus nie. En wat deur die doop verseël word en waarvan dit teken is, is dat net die uitverkorenes deur die bloed van Christus gered word.
(Vertaal deur
Nic Grobler. nicg@absamail.co.za
Die Afrikaanse vertaling van die Bybel wat gebruik is, is dié van 1933/1953)