Ds. Angus Stewart
Dat God gees is (Joh. 4:24), stem baie duidelik met van sy ander eienskappe (eenheid, onsigbaarheid, alomteenwoordigheid en almag) ooreen. Dit is ook ‘n noodsaaklike deel van die waarheid van die Heilige Drie-eenheid. As God nie louter gees was nie, al was God maar net deels stoflik of fisies, sou die drie Persone ‘n verdeeldheid in die Godheid beteken — die kettery van die triteïsme (drie gode)! Die enige ware God bestaan in drie Persone omdat sy wese een is (die eenheid of enigheid van God) en omdat sy wese gees is (die geestelikheid van God).
Die waarheid van die geestelikheid van God trek ‘n streep deur verskeie wêreldbeskouings van die ongelowiges. Eerstens die materialisme, wat beweer dat alles uit materie en beweging bestaan. Dit is vals, want God is gees (nie materie nie), engele is geeste (nie materie nie) en die mens het ‘n gees (wat nie materie is nie). Materialisme, die wêreldbeskouing van ateïste en die meeste evolusioniste, is vandag baie populêr. Tweedens die panteïsme, wat beweer dat alles (pan) God (theos) is. Dit beweer dat die stoflike heelal as ‘t ware die ligaam van God is, wat dan deur die siel of gees van God beweeg word; maar God is geheel en al gees en nie deels stoflik nie.
So moet ons die antropomorfismes in die Bybel, wat God voorstel asof Hy ‘n mens is, verstaan. Ons lees in die Skrif van God se oë, ore, neus en mond; God se arms, hande en vingers; God se siel. Is Jehova dan fisies, in die vorm van ‘n mens? Ten spyte van wat ons in die vorige uitgawe van die News gesê het? Die Heilige Skrif praat ook van God met vleuels soos ‘n voël (Ps.91:4). Hoe kan Hy terselfdertyd die vorm van ‘n mens en dié van ‘n voël hê? Hierbenewens laat hoor Dawid in Psalm 18:2: "Die HERE is my rots en my bergvesting en my redder; my God, my rots by wie ek skuil; my skild en die horing van my heil, my rotsvesting." Is God dan in die vorm van ‘n mens en ‘n voël en ‘n rots en ‘n vesting en ‘n skild, en ‘n horing? Hoe kan Hy in die vorm van al dié dinge terselfdertyd wees?
Ons moet natuurlik verstaan dat dit metaforiese verwysings na die Almagtige is. Hy is soos 'n vesting wat ons beskerm. Hy beskut ons soos voël onder sy vlerke. God se krag word geteken as sy arms. Sy alwetendheid of onmeetlike kennis word in sy alsiende oë verbeeld. Sy bekwame en noukeurige vakmanskap in die bestuur van die maan en ander hemelliggame word as die werk van sy vingers beskryf (Ps. 8:5).
Ons Here Jesus Christus het self onteenseglik die geestelikheid van God geleer. "Niemand het ooit God gesien nie[want Hy is onsienlik en geestelik]; die eniggebore Seun wat in die boesem van die Vader is, dié het Hom verklaar" (Joh. 1:8).
In sy leer dat God gees is (Joh. 4:24) het Jesus twee maal verklaar dat God "in gees en waarheid" (23,24) aanbid moet word. Dit is betekenisvol dat Christus die tempel gereinig het aan die begin van sy openbare optrede (Joh.2:13e.v.) én aan die einde (Matt. 21:12e.v.) In die evangelie van Mattheüs het Christus twee keer verklaar "Ek wil barmhartigheid hê en nie offerande nie" (Matt. 9:13; 12:7) deur Hosea 6:6 aan te haal; en vir die eiegeregtige Fariseërs wat so met uitwendige dinge behep was, het Hy gesê "gaan leer wat dit beteken" (Matt. 9:13). Die waarheid van die geestelikheid van God stem volkome ooreen met die groot gebod van Christus: "Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand" (Matt. 22:37). In ooreenstemming hiermee het die Here Jesus die geestelikheid van die gebooie van God in die bergrede (Matt. 5-7) verklaar.
Die geestelikheid van God verklaar die geestelike evangelie-boodskap van Christus. Die ryk jong man het gedink dat hy God se gebooie onderhou het (Mark. 10:17-27), maar gierigheid was sy probleem: die liefde vir geld en alles wit dit kan koop. Om sy sondige innerlike begeerte te openbaar, beveel Christus hom om alles wat hy besit het, te verkoop (21). Nicodemus het ‘n hoë amp in Israel beklee, maar dit het Hom nie gered nie. Die Here het vir hom, en vir alle gevalle mense gesê: "julle moet weer gebore word" (Joh. 3:7).
Die meeste mense in Johannes 6, wat Christus gevolg het, was vleeslik en wou net kos vir hulle mae en opwindende wonderwerke hê. Aan hulle het Jesus verklaar: "Dit is die Gees wat lewend maak, die vlees is van geen nut nie; die woorde wat Ek tot julle spreek, is gees en is lewe" (63). Só hy Homself as die brood van die lewe verklaar (35) en saligheid, deur sy vlees te eet en sy bloed te drink (53-56), verkondig. Dit kan niemand doen anders as deur die soewereine genade van God nie, want die Here het gesê: "Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie" (44). Baie van die mense het van Hom af weggegaan, want hulle wou nie ‘n geestelike Christus en sy geestelike verlossing, wat die kennis bring van God wat gees is, hê nie.
Ewenwel het Christus deur sy kruisiging by uitstek die geestelikheid van God geleer. Ja, daar was werklike historiese gebeure: ons Here is verraai, gevange geneem, gepynig en in die openbaar gekruisig, maar die toorn van God wat sy uitverkorenes toegekom het, wat Hy ter wille van hulle gedra het, was groter en meer skrikwekkend as die fisiese lyding wat hy deur die hande van mense aangedoen is. Deur hierdie geestelike stryd het die Here Jesus die onsigbare mag van Satan en sy demone oorwin en oor die wet en sonde en dood getriomfeer.
Die oneindige, ewige en onveranderlike regverdigheid, heilligheid, geregtigheid, liefde, barmhartigheid en genade het saamgevloei by die kruis, want dit is daar waar God sy volkome harmonie en eenheid as die God wat gees is, openbaar en waar ons dit die duidelikste kan sien. Die kruis toon God as volkome geestelik en op geen wyse materieel nie, want dit openbaar Hom as magtig, wys, heilig, waarheid, liefde, onveranderlik en barmhartig — alles geestelike kenmerke.
(Vertaal
deur Nic
Grobler.
Die
Bybelvertaling wat gebruik is, is die AOV van 1933/53.)